Speel weer ’n slag met mekaar

0
127
gelukkig_getroud.png

Daar is twee paartjies in ’n restaurant. Die een paartjie al giggelend en speels. Die ander paartjie gefokus op hulle selfone. Soos wie wil julle wees?

Eendag lank, lank gelede… toe jy en Manlief net begin uitgaan het, kon julle julle hande nie van mekaar afhou nie. ’n Fliek op die mat het in ’n stoeisessie ontaard om te kyk waar elkeen die kielierigste is. Amper soos toe julle nog kinders was.

Mettertyd, toe die kinders kom en die werksverantwoordelikhede meer word, het hierdie spelery verdwyn. Mense sal mos nou dink julle is simpel. Maar dis net hier waar julle ’n fout maak. So ’n spelery versterk nie net die bande tussen ’n paartjie nie, maar is selfs goed vir julle gesondheid. Pret bring humor terug en as jy lag, verminder jou spanning omdat goedvoelhormone soos endorfiene afgeskei word.

Die probleem is om weer daardie kind in jou te ontdek. Hier is ’n paar maniere.

Begin só weer speel

Vergeet van alle reëls

Wanneer volwassenes “speel”, word dit gedoen deur kompeterende sport, duur tegnologie en gestruktureerde aktiwiteite. Daar is reëls waarvolgens jy moet speel, reëls wat soms meer angstigheid as ontspanning bring.

Maar toe ons kinders was, het ons sonder reëls, beplanning en duur toerusting gespeel. Ons het teepartytjies gehou, met goedkoop karretjies en poppe gespeel, en wegkruipertjie en touchers. Ons het vreugde gevind net in vrye spel met vriende.

Dit is die soort spel wat ons bedoel wanneer ons van speletjies tussen huweliksmaats praat.

Bou vertroue om wérklik te kan speel

Mense kan nie regtig met mekaar speel en hulle ware (kinderlike) self wees as jy nie jou maat vertrou nie. Sonder vertroue gaan ’n verhouding in elk geval moeilik oorleef. Deur altyd julle beloftes na te kom en oop en eerlik met mekaar te wees, skep julle vertroue. Maar wees gewaarsku: As daar nie voorheen vertroue in julle verhouding was nie, gaan dit nie oornag verander nie. Dit neem tyd.

Rus genoeg om waardevolle tyd saam te spandeer

Selfs al vertrou julle mekaar, kan julle beswaarlik speel aan die einde van die dag as julle doodmoeg is. Ja, dit is moeilik tussen die kinders en die werk deur om die beste tyd van jou dag vir jou maat gee, maar julle is dit aan mekaar verskuldig om wanneer julle verfris en wakker is, tyd saam met mekaar deur te bring.

Gedeelde ervarings skep pret

’n Spesiale band word gevorm wanneer twee mense gedeelde ervarings het. Binnegrappe en stories waarvan net julle twee weet, help alles om pret in die huwelik te bring. Maak seker dat julle genoeg sulke tyd alleen deurbring om stories te hê om te vertel. Doen iets saam wat prettig en selfs ’n bietjie “ligsinnig” is, soos dans- of kookklasse.

Kom uit julle groef van elke dag

Soms kom paartjies nie eers agter dat hulle in so groef verval het dat hulle alle sin vir verwondering, entoesiasme en vreugde verloor het nie. Vrydagaande, wanneer julle ’n bietjie tyd alleen het, gaan julle nie meer fliek nie. Dis so maklik om sommer in julle sweetpakke DStv te kyk en ’n pizza te bestel. Roetine is een van die dodelikste spykers in ’n verhouding. Moenie dat dit met julle gebeur nie.

Vind uit wat julle gunstelingspeletjie is

Wanneer ons van speletjies praat, is dit nie iets soos Words with Friends wat julle op ’n selfoon teen mekaar speel nie. Nee, ons bedoel hier speletjies waar julle in vlees en bloed by mekaar is, met mekaar praat en oogkontak het.

1. Dink soos ’n kind. Kinders put soms plesier uit die eenvoudigste dinge: ’n watergeweertjie, ’n frisbee, ’n klimtol, om borrels te blaas, kussinggevegte. Dit is oukei om julle soos kinders te gedra, selfs simpel te wees, veral as dit uitloop op ’n lekker gelag en gegiggel.
2. Besoek saam ’n speelgoedwinkel. As julle nie kan onthou van watter speletjies julle altyd gehou het nie, gaan saam na ’n speelgoedwinkel toe. Daar is baie speletjies spesiaal vir volwassenes, maar iets wat die adrenalien laat pomp en baie opwindend is, is vingerbord of Swinging Ball.
3. Lag saam. Kyk saam na ’n snaakse SMS, prentjie of video, maar dit is al wanneer julle op julle selfone mag wees.

Verwerk en vertaal uit Playful Couple deur Jeremy Blanchard; The Importance of Being Playful Partners deur Alexa Griffith van Imagine Hope Counceling Group.