Spieëltjie, Spieëltjie van my hart!

Het jy al ooit langs ‘n groot plaasdam gesit en na jou spieëlbeeld in die water gekyk?

Het jy gesien wat gebeur as jy dan ‘n klein klippie in daardie dam gooi? Daardie nietige aksie, omskep in ‘n oogwink, jou pragtige refleksie tot ʼn verwronge beeld.

So kan elke lelike gedagte wat kom rondmaal in jou kop, vergelyk word met so ʼn klippie. Dit hoef nie eens noodwendig duisende brandnetels of een enorme probleem te wees nie. Soms neem dit net daardie een klein jakkalsie, om jou totale uitkyk en lewensloop te beïnvloed.

Die Woord sê vir ons, Soos jy jou eie gesig sien as jy in die water kyk, so sien jy jouself in wat jy dink.– Spreuke 27:19 AFR83

Wat is die klippie in jou hart vandag? Is dit vrees of angstigheid? Is dit hartseer? Is dit afguns of kwaad, ongeduld of onvergenoegdheid?

Dink vir ‘n oomblik met erns daaroor na… Die koers van jou lewe, is in die hand van ‘n gedagte. Daarom waak teen dit wat in jou hart omgaan. Vra die Here om jou hart te deurgrond en elke gedagte uit te wys, wat nie van Hom af is nie. Bring elke aanstootlike gedagte in lyn met die hart van die Vader.

Vertrou die Here met elke bekommernis en met elke hartsaak, want Hy is getrou en regverdig. Weet dat die Here alles ten goede sal laat meewerk vir dié wat in absolute oorgawe aan Hom leef. Weet dat Hy reg sal laat geskied en Sy oordeel goed is. Laat Sy vrede en liefde jou hart vloed. Laat Sy Heilige Gees jou op die beproefde pad lei, sodat die spieëltjie van jou hart, die hart van Jesus Christus, sal reflekteer. Mag almal vandag in jou die lig van Sy hoop sien!