Spits jou ore vir jou maat

0
542
Gretha Wiid

Die meeste paartjies kan getuig dat hulle al kwaad gaan slaap het – met die spreekwoordelike olifant van stilte, ongemak en woordeloosheid saam in die bed.

Die probleem is nie as die olifant net van tyd tot tyd ’n bedmaat is nie. Die krisis kom as dit later ’n groot olifant raak wat dan ook sommer ’n ou koei saambring wat gereeld uit die sloot gegrawe word. As ons egter die ontsaglike waarde besef van om net te begin praat en die olifant en die koei by die kamer uit te skop, sal geluk baie vinniger by die voordeur instap.

Om gehoor te word laat jou belangrik voel

As daar nou een behoefte is wat alle mense het, is dit om gehoor te word en vrede te hê. Min mense snap dat hierdie twee behoeftes hand aan hand loop in ’n huwelik. Om regtig gehoor te word bring vrede. En werklike vrede tussen ’n man en vrou maak dat hulle begeer om mekaar se harte te hoor!

As getroudes nie tyd maak om ’n argument of verskil regtig deur te praat en na mekaar te luister nie, kom daar later baie frustrasie en selfs wrewel saam met dié spesifieke konflik. Die dag as ons egter besluit om ’n saak deur te praat, kom daar net bonusse! Dit laat ons menswaardig en belangrik voel in ons verhouding.

As jou maat jou die geleentheid gee om jou hart uit te praat en jou pyn, vrese, woede, ongelukkigheid of frustrasie wil verstaan, laat dit jou belangrik en geliefd voel. Dit laat jou voel dat jou emosies en behoeftes werklik tel. Om ook op hierdie manier belangrik te voel in jou verhouding beïnvloed alles in jou huwelik ten goede.

Luister diep met jou ore en jou hart

Dis dikwels julle manier van baklei wat maak dat sake handuit ruk en dat julle dinge kwytraak wat eerder kon gebly het.

As julle ’n besluit neem om na mekaar te luister, en die ander een kans te gee om klaar te praat – sonder om mekaar se behoeftes af te lag – verlaat die olifant al klaar die kamer. As jou maat weet dat jy regtig na sy opinie wil luister, sal hy nie hoef te veg om gehoor te word nie.

Die lelike woorde wat al ’n gewoonte geword het, sal ’n skielike dood sterf net omdat jy jou maat nie rede gee om hard en lelik te praat nie. ’n Sagte antwoord (en stilbly sonder ’n houding) keer mos die grimmigheid af, of hoe? As ons nie genoeg tyd afstaan om ’n saak regtig uit te praat nie (en werklik uitpraat vat soms baie tyd), kom ons elke keer net by die punt van die ysberg van al ons emosies uit.

Dit maak dat die werklike, dieperliggende probleem nooit aangepak word nie. Die wrewel en frustrasie sal nie verdwyn solank jy net aan die oppervlakkige kwessies werk nie. Jy sal slegs by die dieper dinge uitkom as jy bereid is regtig te luister.

As jy ’n slegte boom se vrugte afsny en hoop dat die vrug die volgende seisoen beter gaan lyk, maak jy ’n fout. Jy moet by die wortel van die boom uitkom om nuwe vrugte te sien.

As julle ordentlik met mekaar praat, groei respek

Werklik luister bring wedersydse respek. As julle tyd maak om te luister en die bal te speel, en nie die man nie, verdiep julle respek vir mekaar. Die teendeel is ongelukkig ook waar. As julle mekaar afjak, ignoreer, omdraai en wegloop, verloor julle respek vir mekaar.

Paartjies wat nooit probleme werklik oplos en ook nie mekaar se emosie hóór nie, sal heel waarskynlik mettertyd wegskram van konflik af – moeg gebaklei met ’n vaste geloof dat niks in elk geval gaan help nie.
Miskien voel jy reeds dat praat nie help nie en dat julle altyd by dieselfde punt eindig. Die oplossing is dalk makliker as wat jy besef.

Daardie werklike stukkie luister bring respek en oplossings wat maak dat julle volgende keer makliker ’n saak wil uitpraat. As jy hoop in jou verhouding soek en meer respek vir mekaar wil kry, kies dan om te luister – regtig te luister. Net miskien kan julle lepellê sonder die olifant en die koei.

Gretha Wiid, huwelikskenner