Spring jy te vinnig op jou perdjie?

0
106
liggeraak.jpg

Laat iemand nou net die verkeerde woord sê en jy is op jou perdjie. Maar wat lê agter jou liggeraaktheid en hoe raak jy daarvan ontslae?

 

Laat iemand nou net die verkeerde woord sê en jy is op jou perdjie. Maar wat lê agter jou liggeraaktheid en hoe raak jy daarvan ontslae?

Jy was dalk daardie outjie wat van kleins af maklik dikbek of in trane was as jou maats of boetie jou geterg het. Kinders weet mos net watter knoppies om te druk. Die grootmense sou sê jy moet jou nie aan hulle steur nie, maar dit was moeilik.

Ongelukkig sal ouderdom en ervaring jou nie noodwendig help om ’n dikker vel te kry nie. Jy verwag dalk dat almal teen jou moet wees. Wanneer iemand dan die geringste negatiewe opmerking maak, sal jy óf die hasepad kies óf op jou perdjie spring.

’n Liggeraakte mens wat geneig is om te vlug, sal sommer skielik uit ’n gesprek onttrek. En een wat geneig is om te veg, sal aanvallend optree. As jy kan erken dat jy liggeraak is en dat dit jou én die mense om jou se lewe versuur, is dit al ’n goeie begin.

Vind eers uit waarom jy so oorreageer

“Liggeraaktheid is ’n simptoom van ander moontlike probleme,” glo ’n verhoudingsberader. “Dit kan na vore kom as jy onseker is oor wie jy is en wat jy doen.” Jy voel onbewustelik dat ander vroue beter is of beter lewens het.

Dit kan ook ’n verdedigingsmeganisme wees. “As jy met emosionele bagasie loop oor iets en iemand die onderwerp onskuldig opper, maak dit al die ou pyn weer wakker en oorreageer jy.”

Mense wat ontevrede en gefrustreerd is met hulle lewens, kan ook oormatig sensitief wees. Omdat aanhoudende frustrasie aan jou weerstand vreet, sal jy gouer jou humeur oor onbenullighede verloor.

Natuurlik wil ons almal graag reg wees, maar dis nie altyd moontlik nie. Jy moet kan aanvaar dat ander ook die reg op ’n opinie het. As jy net eers weet waarom jy so optree, kan jy ’n plan maak om te verander.

Beheer jý jou emosies voordat hulle jóú beheer

Jy kan nie beheer wat ander mense sê nie, maar jy kan besluit wat jy daarmee gaan doen. Vóór jy in die uiterste graad reageer op iets wat iemand gesê het, vra jouself eers hierdie vrae: Hoe voel die persoon wat dit sê? Hoe wil sy hê moet ek voel? Hoe voel ek regtig?

Die ironie is dat mense meestal nie besef hulle het jou seergemaak nie. Om aan te hou broei omdat jou kinders nie ’n uitnodiging na die buurseun se partytjie gekry het nie, sal niks help nie. Jy gaan net jouself jammer kry en almal rondom jou ook ongelukkig maak.

Staan ’n bietjie terug en dink eers ’n oomblik voor jy reageer – dit gee jou meer beheer oor jou gevoelens. Dink net hoeveel minder jy om verskoning sal hoef te vra vir al die onnadenkende goed wat jy kwytgeraak het!

Verander die patroon en almal is gelukkig!

Jy het miskien al ’n reputasie opgebou as ’n “drama queen” of “die touchy een”. By die werk waag niemand dit meer om jou raad te gee nie en by die huis loop almal op eiers rondom jou.

Mense sal hulle van jou onttrek omdat jy hulle ook ongemaklik laat voel. So begin ’n bose kringloop, want jy voel op jou beurt: “Sien, ek het geweet hulle hou nie van my nie!”

Jy sal nuwe maniere móét kry om teenoor mense op te tree. As jy weet dat jy emosioneel raak wanneer jou idees afgeskiet word, sê dan: “Ek sien jou punt in, maar dink jy nie tog…” Nou kan jy jou standpunt logies en kalm stel. Oefen hierdie nuwe gedragspatroon totdat dit later tweede natuur word.

Onthou, jou liggeraaktheid het dalk as ’n soort selfbeskerming of verdedigingsmeganisme begin. Maar uiteindelik maak hierdie gedrag wat jou moes beskerm, jou net nog seerder. Wees goed vir jouself en moet dit nie toelaat nie!