Sprokies huwelike bestaan nie

0
28
huwelik.png

Het jy nog altyd gedroom oor hoe jou huwelik sal wees, maar voel teleurgesteld? Jy’s nie alleen nie!

Ons het dikwels ’n swak voorbeeld in ons eie ouers se huwelik, en onderneem diep in ons binneste dat ons nooit dit of dat sal doen of toelaat in ons eie huwelik nie. Daar is ook mense wat uit ouerhuise kom waar liefde, vergifnis, teerheid en omgee sigbaar was – en ontnugter is as hulle eie huwelike nie óók ’n sprokie is nie.

Deel van hulle ontnugtering is júís daarin geleë dat hulle gedink het hul ouers het ’n sprokieshuwelik. Niemand het hulle ooit vertel dat sprokies nie bestaan nie, en dat daardie ouers bes moontlik net méér investeer het in die huwelik as ander mense. Die meeste van ons is op die ou end uitgelewer aan huweliksvoorbereidingsklasse of oppervlakkige raad van ander by ons kombuistees. Die ander alternatief is om op die mog-dit-troffe-manier te leer – terwyl ons vergeet dat ons met iemand se hart eksperimenteer, iemand se drome en emosionele behoeftes vertrap en stukkend maak.

  • Kobus het grootgeword met ’n ma wat altyd by die huis was en uit die aard van die saak baie betrokke was by haar kinders. So lief as wat hy sy vrou, Natasha, het, was haar besluit om voldag in die korporatiewe wêreld te werk ’n groot ontnugtering en teleurstelling vir hom. Met die koms van hulle eerste kind het hulle huwelik deur ’n ernstige krisis gegaan omdat hy sy lewe lank geglo het sy vrou sal ook by die huis wees vir sy kinders.

 

  • Sonja se pa was regtig byna nooit by die huis in haar kindertyd nie. Hy’t ver van die huis af gewerk en nie gereeld kom kuier nie. Sy het kleintyd al gedroom hoedat haar eie man eendag in die aand saam met haar gaan aandete geniet, en hoe hulle oor naweke saam sal gaan stap. Alhoewel sy later met ’n fantastiese man getroud is, het hy soms tot laat in die aand gewerk. Sy het geglo hy is net soos haar pa en dat hy nie werklik vir haar omgee nie – iets wat hewige rusies in hul huwelik veroorsaak het.

 

  • Lizette is al drie maal geskei. In haar vierde huwelik sukkel sy nog steeds om konflik te hanteer en skram sy geheel en al weg van seks. Sy het grootgeword in ’n huis waar haar ouers geen bakleiery toegelaat het nie – nie eens van die kinders onder mekaar nie. Sy moes altyd kamer toe gaan en kon eers uitkom as sy beter voel. Haar diepste hartseer is egter dat sy gereeld deur ’n familievriend gemolesteer is. Omdat haar ouers nie oor probleme gepraat het nie en ook nie klagtes toegelaat het nie, het sy nooit geleer hoe om die trauma te verwerk nie, en ook nie hoe om enigsins oor haar gevoelens te praat nie.


Ons kan honderde voorbeelde noem, maar die feite bly dieselfde. Die manier waarop ons grootgeword het, het ’n wesenlike invloed op wie ons is en waarvan ons hou. Leemtes wat ons in ons kindertyd ervaar het, veroorsaak dikwels in ons volwasse lewens dat ons ekstra verwagtinge het om daardie leemtes te vul. Die seer van ons kindertyd maak dat ons diep in ons binneste belowe om nie dieselfde seer te herhaal met ons eie kinders en huweliksmaats nie.

Wanneer ons dan agterkom dat ons ons geliefdes op dieselfde manier seergemaak het, sukkel ons met selfverwyt, gevoelens van teleurstelling en woede. As ons geliefdes ons egter seermaak of teleurstel, veg ons dalk onnodig hard terug of bou mure om ons om onsself te probeer beskerm. Kindertydpyn maak sommige mense rebels en hardvogtig – eiewillig om altyd hulle sin te kry, maar ook onwillig om hulle eie foute raak te sien.

Sjoe, dis eintlik ’n geweldige uitdaging om te dink dat twee mense met verskillende agtergronde, verskillende emosionele wonde en hartsbehoeftes die grootse stap moet doen om ’n huwelik te laat werk. Al ken ons mekaar se harte, behoeftes en kleintyd-wonde ook hóé goed, bly die huwelik ’n instelling waar ons gedurig met dinge gekonfronteer gaan word waarop ons nie voorbereid was nie – al het ons die beste huweliksvoorbereidingskursusse bygewoon. Ons idilliese drome oor die huwelik, tesame met emosionele bagasie (wat ons almal maar het), maak dat ons nooit werklik voorbereid kan wees op dit wat op ons wag en hoe ons dit moet hanteer nie.

Selfs al het jy kursusse gedoen voordat jy getroud is, was jy waarskynlik steeds nie voorbereid op sekere kwessies nie. Belangrike kwessies soos 1) hoe jy moet maak as jy ontdek jou man kyk pornografie, 2) hoe oorleef jy ’n koliekbaba, 3) hoeveel seks per week, maand of jaar is normal, 4) wat gemaak as een party in die huwelik hulle werk verloor, 5) hoe kry jy jou skoonma suksesvol uit jou huwelik uit, 6) hoe kry jy ’n man weg voor die TV? Om maar ’n paar te noem.

En so storm ons kop eerste op die huwelik af. Clueless, but hopeful. En jare later sit party paartjies by die berader, steeds clueless, maar oor iets heel anders. Clueless oor hoe hulle huwelik op hierdie punt gekom het. Ook nie meer hoopvol nie, maar bes moontlik vol bitterheid, seer en beskuldigings. Slegs mense wat bereid is om ’n leemte of swakheid te erken kan daaraan werk. Die res sal doodgaan of agteruitgaan in hul eie ontkenning.