“Spyt kom altyd te laat is nie meer waar vir my nie”

0
1027

Ons almal het al gevoel dis te laat om die horlosie terug te draai, of dit oor ons eie situasie was of iemand anders s’n. Maar hoekom dink ons so? Is dit omdat ons dit oor soveel jare aanvaar het, want ons ouers het so gesê?

Myns insiens is ons van kleins af so geleer en daarom móés ons dit glo. Ons is so geprogrammeer. As ons ’n fout begaan het, is dit te laat. No turning back. Regtig?

Foute kan vir ’n goeie doel gebruik word

In my amper twee dekades van getroude lewe en in my verhoudings met familie en vriende het ek al ’n paar dinge geleer. Ek kan eerlikwaar sê daar is baie goed wat ek al gedoen en kwytgeraak het waaroor ek vandag spyt is.

Net voor Randall Wicomb se dood was dit my voorreg om ’n onderhoud met hom te voer. My eerste vraag aan hom was: “Randall, is daar dinge in jou lewe waaroor jy spyt is?” Sy antwoord was: “Rouchelle, waarlikwaar, nee. My lewenspad sou dan nie so verloop het soos dit het nie.”

Wat ’n ongelooflike antwoord! Dit het so ’n groot indruk op my gemaak dat ek daarna ’n bietjie introspeksie gedoen het. Ek het my afgevra hoe hy hierdie wysheid kon kwytraak. Was dit omdat spyt dalk vir hom ’n rigtingwyser was hoe om dinge nié te doen nie?

Jou goeie bedoelings kan verkeerd opgeneem word

My gedagtes het ver teruggegaan. Ek het gedink oor foute wat ek al gemaak het en onthou toe wat na skool met my gebeur het. Ek het as ontvangsdame by ’n firma gewerk. Omdat ek so lief is vir mense, beland ek egter telkemale lelik in die moeilikheid.

Een van my kollegas het ’n bietjie spanning met die baas gehad en haar probleme met my bespreek. Ek wou graag help en het dit toe as my plig beskou om vir haar raad te gee. My voorstel was dat sy die KVBA met haar probleem moes nader. Sy het die raad aanvaar en dit toe sommer ook vir die baas gaan sê.

En raai wat? Toe ek my oë uitvee, was ék die een sonder werk! Ek was bitter spyt oor my goedbedoelde raad. Die belangrike les daaruit was dat ’n mens jouself vir ewig kan verwyt oor dinge wat jy gedoen of gesê het. Of wat jy dalk nié gedoen of gesê het nie. Dit bring jou egter nêrens.

Dis baie meer sinvol om te besef jy was verkeerd en dan vorentoe te kyk. Jy het immers ’n waardevolle les geleer sodat jy nie weer in dieselfde slaggat sal trap nie.

Spyt leer ons om nie ons foute te herhaal nie

Die belangrikste les was dat ’n mens nie altyd advies hoef te gee nie, veral nie as dit regstappe behels nie! En die foute wat jy nou maak, leer jou om nie weer dieselfde foute later in jou lewe te maak nie.

Om spyt te wees het dus ’n goeie doel. Dit leer jou om nie dinge te doen soos jy dit voorheen gedoen het nie. Dit wys vir jou dat jy ook net ’n mens is wat foute maak. Dit laat jou besef dat eers as jy iets of iemand verloor het, jy die waarde van die artikel of die persoon agterkom. En dat jy van nou af hierdie persoon of ding beter moet oppas.

As jy die geleentheid het om dinge reg te maak of ’n tweede kans kry, gryp dit met albei hande aan! Sê jy is opreg jammer, vra vergifnis en die kans om reg te maak.

As dit te laat is, moet jy jouself kan vergewe, uit die situasie leer en vorentoe kyk. Die ergste ding wat jy jouself kan aandoen, is om jou spyt in skuld te laat verander. Spreek jouself vry, vandag nog. En gaan tree vir tree die toekoms in.

Rouchelle Liedemann is ’n gospelsangeres en TV-persoonlikheid van die Kaap.