Staan julle sterk teen versoekings?

140
Nathanya Van Zyl Chapman

Versoeking. Soms herken ons dit en soms nie. Soms kies ons om dit raak te sien en ander kere nie.

Dit is vrek moeilik om jou begeertes te weerstaan as jy nie boundaries of ’n waardestelsel in plek het nie.

In jou verhoudingslewe moet jy so ver moontlik wegbly van situasies en slegte gewoontes wat jou verbintenis kan benadeel. Moenie dat nuuskierigheid jou in die verderf lei nie. As jy toegee, gaan jy die prys moet betaal.

Identifiseer jou swak plekke. Wees eerlik met jouself sodat jy die strikke kan vermy.

Al is jy hóé sterk beteken dit nie dat jy nie hieraan blootgestel gaan word nie. Dikwels, is dit net die gedagte aan iemand tot wie jy aangetrokke voel, of jy ontmoet iemand wat daai 20% het wat jou maat nie het nie. Dan moet jy kan onderskei of dit jou beeld van daardie persoon is wat jou aantrek of die persoon self? Is dit wellus of ware liefde?

Mooi bly mooi, en versoekings is deel van die lewe – aanvaar dit. Dit is wát jy daaromtrent doen wat saak maak.

Jy gaan versoek word – veral in die areas waar jy swak is en meer geneig sal wees om te swig. Net jý is verantwoordelik vir jou keuses en aksies. Kies om sterker te wees.

– Nathanya van Zyl Chapman, Muisneste

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Nathanya.