Staan op en oorwin die reus

Ek dink ‘n paar Israeliete het na Goliat gekyk en gebid dat God die aarde sou oopmaak om hom in te sluk of dat hy morsdood moes neerslaan. Maar Goliat het uittartend gebly staan.

Hoeveel maal kyk ons nie na ons omstandighede en wens dit kan net met die swaai van ‘n towerstaffie of ‘n vinnige gebed verander nie. Hoeveel maal wens ons nie dat ons bietjie geld in baie geld kan verander nie, ‘n ongeskikte eggenoot vir ‘n ander verruil kan word nie. Hoeveel maal wens ons, ons kan op die skaal klim en maar net 10 kilos ligter gewees het nie. Soms bid ons en dit voel asof God nie ons gebede verhoor nie. Ons beskuldig mense, vergelyk onsself met ander en raak later kwaad vir God omdat Hy nie ingryp nie.

God het nie Goliat vanself laat omval nie. Dawid het al sy moed bymekaar geskraap, opgestaan en Goliat met sy slingervel en ‘n paar klippies laat val. Dawid het geweet watter krag in hom was en in Wie se Naam hy daar gestaan het.

Skraap vandag moed bymekaar, gaan staan voor jou Goliat. Gaan staan voor jou uitgeputte kredietkaart, gaan staan voor jou mislukte huwelik en jou ongelukkige werksomstandighede. Besluit of jy so wil voortleef, neem verantwoordelikheid, spreek dit aan, vergewe en veg dit. Soms wil God ons denkwyse verander voordat ons omstandighede kan verander. Wees braaf, glo my, jy kan. Want jy sien Hy wat in jou is, is groter as jou Goliat. Met jou God loop jy ‘n bende storm.