Staan op vir dit wat jy verdien

0
295
Tracey Lange

Tracey Lange het op die harde manier geleer dat jy eintlik móét opstaan vir jouself en dit wat jy verdien.

Was daar al ’n insident waar jy moes opstaan vir jou regte?

’n Kollega se ego was ’n bietjie gekrenk omdat ek ’n pos gekry het wat hy wou gehad het. Ek het gedink ek sal sy kil houding kan ignoreer. Ongelukkig is hy een van daardie mense wat vriendelikheid en tegemoetkomendheid as ’n swakheid beskou. Hy het dit onuithoudbaar gemaak en geweier om enige werk te doen. My bestuurders het die fout by my begin soek. Dis toe dat ek besef het ek kan nie net stilbly nie.

Waar stel jy die grens tussen baklei en opstaan vir jou regte?

Die balans lê daarin om aan te dring op wat reg is, dan werk dit uit, al kom jy ook die slegste daarvan af. Ek het nie gevra vir dinge om tot my voordeel te wees nie, net vir regverdigheid en spanwerk. Wees eerlik met jouself. Jy sal weet wanneer jy selfsugtig is en dinge makliker vir jouself wil hê. Hoe jy dit doen, is net so belangrik. Om op ’n mooi manier vir ons regte op te staan, wys hoe jou liggie skyn.

Hoe het jou ouers jou gehelp om hierdie verskil beter te verstaan?

In hierdie spesifieke situasie het hulle net baie gebid dat ek die verskil sal sien en die verandering kan bring. My ouers sal nooit hulle manier van doen op my afdwing nie. Hulle sal baie bid en met my praat en verskillende scenario’s skets. Ons sal ook saam bid. Ons vind altyd ons antwoord in die Bybel en die godsdiens.

Is daar ’n kwessie waaroor jy spyt is hoe jy dit hanteer het?

Daar was ’n situasie met ’n eks waar ek nie vir myself opgestaan het soos ek moes nie. Ek het geglo dat ek net moes vergewe en hom nog steeds in my lewe toegelaat. Om op te staan beteken dat ons nog steeds moet vergewe, maar ook dat jy moet aanbeweeg en hulle moet leer hoe om jou te behandel. As jy wegstap, het jy vergewe, want jy weet net dat jy beter verdien.

Is daar stappe wat jy volg as jy ’n moeilike gesprek wil voer?

Ek sal deesdae notas maak in ’n epos en dan vra dat ons ’n gesprek moet hê. Vir die gesprek self sal ek my in die vervolg verbeel dat daar ’n klein kind in die geselskap is. As jy kies om dit so te sien, is jou manier van praat en doen baie anders en sagter, want jy wil nie hê die kleintjie moet bang wees vir jou nie.