Stel jouself in haar skoene

712

“Ek weet hoe jy voel,” jok jy vir ’n vriendin. Jou poging irriteer haar eintlik, want hoe kan jy regtig weet? Die bedoeling is opreg, maar miskien moet jy jou vaardighede ’n bietjie slyp.

MAANDAG

Leef jou in iemand se situasie in

Jy hoef net na Facebook te gaan of saam met kollegas koffie te drink om te besef dat mense maar min vir mekaar voel, selfs dié wat kamtig baie goeie vriende is. Maar hoekom is dit so moeilik om te wys jy gee om?

Empatie beteken om jouself in iemand anders se skoene te stel. Die woordeboek verduidelik dit so: “Om te identifiseer met, en om ’n ander persoon se situasie, gevoelens en motiewe te verstaan.”

Die positiewe sielkunde-definisie is: “Die vermoë om iemand anders se situasie op ’n bepaalde oomblik te verstaan – hulle perspektief, emosies, aksies (reaksies). En om dit aan die persoon oor te dra.”

Dit is dus nie simpatie nie. Simpatie is om te verstaan wat die ander persoon deurgaan. Empatie is die vermoë om dit self te ervaar asof dit met jou gebeur.

Slegs as jy werklik probeer verstaan wat iemand deurmaak, kan jy haar op die regte manier help. Ons kan maar net die Here vra om ons genoeg deernis te gee, sodat ons in die ander persoon se skoene kan klim.

Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem  in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom  (Filippense 1:9).

DINSDAG

Dit gaan in die eerste plek oor verhoudings

Jy het moontlik al gehoor van emosionele intelligensie (EI). Dit is soos IK, net met jou hart. En om dit nog meer gekompliseerd te maak, is daar vier soorte EI: selfbewussyn, selfbestuur, sosiale bewustheid en die bestuur van verhoudings.

Empatie val onder sosiale bewustheid. Dit is die vermoë om met ander mense oor die weg te kom en jou met iemand se situasie te vereenselwig. Dis ’n belangrike aspek om gesonde verhoudings met ander op te bou.

Boonop is dit ’n wonderlike hulpmiddel wanneer jy met moeilike mense te doen kry, of dit nou iemand in jou huis of by die kantoor is.

Empatie word ook gedefinieer as “die toekenning van ’n mens se eie gevoelens aan ’n voorwerp”. Dit word nie vreeslik empaties verduidelik nie! Maar dalk voel jy soms dat jy wel met ’n “voorwerp” te make het. Veral wanneer jou deurmekaar tiener al gillend teenoor jou uitvaar en dit moeilik is om haar te verstaan.

 Sy wil nie eet nie, want sy is vet, maar hoekom het Ma nie haar gunstelingkos vir aandete gemaak nie? Net die ander kry altyd wat hulle wil hê.

Toe het Josef haastig padgegee om eenkant te  gaan huil, want sy gemoed was vol oor sy broer. Josef  is na sy kamer toe en hy het daar gaan huil  (Genesis 43:30).

WOENSDAG

Empatie verg tyd, aandag en opregte belangstelling

Party mense is nie baie meelewend van geaardheid nie. Hulle gee nie regtig om wat ander mense dink of hoe hulle voel nie.

Ons elkeen beskou dinge vanuit ons eie perspektief. En al ervaar ons almal emosies, weet ons meestal net wat ons self ervaar. ’n Mens is so betrokke by jou eie situasie dat jy blind raak vir ander se omstandighede.

Die lewe is ’n gejaag. Ons is baiekeer te besig met ons eie agenda en dink nie regtig hoe ander voel nie. Empatie vereis egter dat ons tyd moet maak om om te gee.

Dit is net as jy jouself in iemand anders se situasie plaas dat jy haar probleme en haar pyn kan verstaan. Eers dan kan jy regtig probeer help.

Met ’n kop vol negatiewe gedagtes kan niemand eintlik daar wees vir ander nie. Partykeer is ons so besig met onsself en ons eie dinge wanneer iemand oor hulle probleme gesels dat ons nie werklik luister nie.

“Wie van hierdie drie is volgens jou die naaste  van hom wat onder die rowers verval het?” Die wetgeleerde antwoord: “Die man wat aan hom medelye bewys het.”  Toe sê Jesus vir hom: “Gaan maak jy ook so”  (Lukas 10: 29-30, 33-37).

DONDERDAG

Wys vir mense dat jy regtig omgee

Wanneer jy ’n kollega volgende keer vra hoe dit gaan, luister versigtig na die antwoord. Dink mooi of daar meer agter haar woorde sit.

Vra byvoorbeeld: “Wat gaan aan, dit lyk asof jy baie het om oor te dink?” En as sy dan begin gesels, moenie kort-kort op jou horlosie kyk nie!

As jy nie vra hoe jou vriendin voel nie, gaan jy dalk nooit weet nie. En as jy nie mooi luister wanneer sy praat nie, kan ’n misverstand maklik ontstaan.

Dis maklik om aannames te maak volgens jou eie verwysingsraamwerk en dit lei dikwels tot slegte gevoelens en konflik. Sy kan voel sy word nie verstaan nie, of, erger nog, niemand gee om nie.

Vooropgestelde idees kan ’n mens keer om regtig te luister. Kyk na haar met nuwe oë. Los julle geskiedenis by die deur. Dis dalk nie so maklik nie, maar beslis die moeite werd.

Dalk glo jy dat wanneer iemand oor ’n probleem praat, dit onmiddellik opgelos moet word. Maar dan gaan dit oor jou, want jy wil die persoon beïndruk. Dit kan haar net nog slegter laat voel.

Toe Jesus sien dat Maria huil en dat die  Jode wat saam met haar gekom het, ook huil, het  sy gemoed vol geskiet en was Hy aangedaan (Johannes 11:33).

VRYDAG

Om te verstaan kan jóú lewe ook beter maak

Empatie kan jou byvoorbeeld help om te begryp hoekom jou tiener so ongelukkig by die skool is. Dalk is die werk vir haar te veel of word sy deur ander meisies verkleineer. Hoe beter jy verstaan wat aangaan, hoe makliker kan julle saam aan ’n oplossing dink.

Dit kan ook help om die stresvolle situasie by manlief se kantoor te begryp, sodat jy minder geïrriteerd met sy buie is. Hy is moontlik so gedaan gepraat na ’n dag by die werk dat hy by die huis net vir ’n rukkie wil stilbly.

Dit beteken nie dat ander mense mag maak soos hulle wil net omdat hulle ’n bietjie af is nie. Elkeen moet steeds die gevolge van hulle dade dra. Met meer begrip van jou kant af kan julle dalk makliker ’n oplossing vind sodat almal beter kan voel.

Natuurlik is dit moeilik as jy met jou eie probleme worstel. Dan is daar nie altyd tyd of energie om in ander se probleme belang te stel nie. Die goeie nuus is, as jy weet waardeur hulle gaan, sal jou eie krisis dalk heelwat kleiner begin lyk!

“Moes jy nie ook jou medeamptenaar jammer gekry het soos ek jou jammer gekry het nie?” (Matteus 18:33).

SATERDAG

Opregte omgee maak die wêreld ’n beter plek

’n Beter begrip van ander se gevoelens maak jou ’n gawer mens. Dit maak die wêreld ook ’n vriendeliker plek, en kan jou eie lewe heelwat makliker maak.

Jy sal ander mense begin verstaan en minder dinge sê en doen waaroor jy later spyt sal wees. Dink net hoe lekker dit sal wees as iemand vir jou sê: “Toemaar, ek verstaan. Bly by die huis, ek sal die kinders by die skool gaan haal. En ek hoop jy voel gou beter…

” Niemand word “sonder ’n hart” gebore nie. En al is jy nie regtig ’n mense-mens nie, kom jy jouself en almal om jou te na deur afsydig en onbetrokke te wees.

Empatie help om die gapings tussen jou en ander mense te oorbrug – generasie, kultuur, sosiale omstandighede.

Dis om volkome mens te wees, en ander te help om dit ook te doen. As jy weet dis vir jou moeilik om omgee te wys, is dit dalk ’n goeie tyd om hierdie vaardigheid aan te leer. Sodat jy kan meevoel, saamvoel, jammer voel. En ander kan verstaan.

Toe hy nog ver aankom, het sy pa hom al gesien en hom innig jammer gekry. Hy hardloop hom tegemoet, omhels hom en soen hom (Lukas 15:20-22).

SONDAG

Wys jou begrip op die regte manier

Sê: “Ek waardeer dit dat jy openlik met my praat” of “Dankie dat jy vir my vertel hoe jy voel”, eerder as om te sê: “Ek weet hoe jy voel.”

Om te wys dat jy verstaan wat die persoon bedoel, sê iets soos: “Ek sien wat jy bedoel. Jy het ’n goeie punt beet.” Of “Ja, ek kan sien hoekom jy so sê.” Verbeter hierdie vaardighede deur te leer luister. Probeer om te hoor wat iemand sê en om ook te hoor wat nié gesê word nie.

’n Moeilike tiener sal byvoorbeeld sê: “Ek haat jou!” Maar as haar liggaamshouding wys sy is net verward en bang, vat dit met ’n knippie sout.

Vermy misverstande deur te sê: “Goed, met ander woorde… ” Of “Verstaan ek reg? Probeer jy sê dat…?”

Jy moet ook leer om jou eie gedagtes en emosies vir ’n rukkie vir jouself te hou. Gee die ander persoon genoeg tyd om deur haar gevoelens te werk en te sê wat nodig is. Waak daarteen om sommer dadelik ’n opinie te lug.

Toe Hy die menigtes sien, het Hy hulle innig jammer gekry, want hulle was moeg en hulpeloos soos skape wat nie ’n wagter het nie (Matteus 9:36).