Stella: “Ek is nie meer bang vir vrees nie”

945

Sangeres STELLA, wat soms vroualleen op ’n plaas is, vertel hoe sy vrees gebruik om haar gedagtes eerder op God se beloftes te fokus.

Met swetende hande skakel ek die ganglig aan. Skat dan hoe lank dit gaan neem om tot by my kamer te kom. Haal diep asem en hardloop. My voetstappe word verdoof deur my kloppende hart. Uiteindelik in my kamer. Die warm lig van die bedlampie bring verligting, ’n baken wat die donker verdryf.

“Jesus, Lover of my soul, Jesus, I will never let you go,” sou ek saggies sing wanneer die vrees my wouwou jaag. Waarom daardie liedjie verstaan ek tot vandag nie. Dis nie asof dit iets met vrees te doen gehad het nie, maar dit het my kalm laat word en my gedagtes op iets anders gefokus. Miskien is dit oor Sy liefde alle vrees verdryf.

Die ander bang van my kleintyd het begin nadat ek ’n fliek met die naam It saam met my vriendin op hulle plaas gekyk het. Dit was die alleraakligste storie wat gegaan het oor ’n nar wat mense eet. Hy het in dreine gebly en sou mense dan gryp wat daar verbyloop. Van toe af het ek gesukkel om toilet toe te gaan of te bad of te stort – bang iets gaan my van onder af gryp.

Alhoewel ek steeds verkies om te sien wat rondom my aangaan, het die vrees vir die donker verdwyn. Ek is darem ook nie meer bang vir dreine en narre nie!

Dis nie dat ek ’n gees van allesoorheersende vrees het nie, maar as ’n grootmens is jou vrese werkliker, gevaarliker, maar ook meer subtiel. As ’n boervrou wat soms alleen op ’n plaas is, kan ek nie anders om wel aan my veiligheid te dink nie.

Die geruk aan die garagedeur raak net erger. Dis ’n windstil nag. Dit kan nie die wind wees nie. Twee keer probeer ek ongemerk om vanuit die venster te sien wat aangaan, maar daar is niks nie.

Kyk ook: [VIDEO] Stella – Tyd saam met God en jou gesin

Manlief is weg op ’n jaguitstappie. Die naaste hulp is my swaer, wat op ’n nabygeleë plaas bly. Terwyl ek vir hom wag, trek ek my tekkies aan, kry my babatjie van vyf maande gereed as ons moet vlug. Toe hy opdaag, is dit stil. Die persoon het seker geskrik en weggehardloop.

Vieruur daardie oggend begin die lawaai weer. Ek bel weer my swaer terwyl ek by die venster uitkyk met ’n flits. Dié keer hoor ek die geraas! En besef dat dit ons hond is wat my man per ongeluk in die garage toegemaak het toe hy gery het.

Vandag kan ons daaroor lag, maar destyds was my vrees werklik en ook die gedagtes van hoe ek dit gaan oorkom.

Net nadat ons getroud is, was my man baie angstig. Vir hom was dit ’n ekstra verantwoordelikheid om sy vrou te beskerm, maar dit het hom uitgeput.

Een aand het hy my vertel hoe hy sukkel om te slaap as gevolg van die angs. Hy vra my om vir hom te sing. Daar in die bed het ek hom vasgehou en gesing. Dit was so ’n heilige oomblik tussen ons en God – nie soseer oor wat ek gesing het nie, maar eerder dat die Here my sang gebruik het om in daardie oomblik vrede in sy hart te bring.

Hy het nog nooit weer daardie magtelose angstigheid beleef nie, maar dit neem nie die onheilspellende gevoel weg wanneer jy die dag werklik ’n slagoffer van misdaad word nie.

Van ver af kan ek sien iets is nie reg nie. My ateljee se deur staan wawyd oop. In die huis is dit chaos. My naaldwerkmasjien, televisie – soveel goed in ’n baie kort tydjie gevat. Daardie nag het ek en my man op ’n matras in die sitkamer geslaap, dankbaar dat ons nie daar was toe hulle ingebreek het nie. Dis nie die diefstal wat by ’n mens spook nie, maar eerder die feit dat hulle ons heilige ruimte, ’n ruimte waar ons veilig voel, ongenooid binnegedring het.

Ek moes al iemand aan die dood afstaan as gevolg van geweld. Toe ek ’n student was in C-Kruis, het rowers in die nag by ons rekenaarlokaal ingekom en ’n goeie vriend wat daar besig was, gruwelik vermoor. Dit het my lank gevat om daaroor te kom.

Buiten die hartseer van die mens wat jy verloor het, toets dit jou hart en is dit ’n uitdaging dat gedagtes van vrees nie oorneem nie. Een manier om dit te keer is my keuse om nie te veel nuus te lees of video’s te kyk nie, want dit doen my nie goed nie. Nou en dan sal ek loer net om op hoogte te bly van wat aangaan, maar ek filtreer die soort artikels wat ek lees.

As kind was ek in ’n motorongeluk waarin niemand van ons iets oorgekom het nie. ’n Paar uur later is ’n vriendin van my se broer in dieselfde soort ongeluk oorlede. Dit het my geruk. In ’n breukdeel van ’n sekonde kan jou lewe vir altyd verander. Dis die dinge waaroor ek nie beheer het nie wat soms vrees in my wil wek.

Wat as ek van die pad af gaan? In ’n plas water beland? ’n Rivier? ’n Dam? En dan kan ek nie my kind uithaal nie? Sê maar sy word ontvoer?

So kan jou gedagtes voortstorm tot ’n bose kringloop van vrees sonder enige logika. Dit gebeur nogal wanneer ek op die pad is en begin moeg raak. Die ding is dat gedagtes só belangrik is. “Laat God julle verander deur julle denke te vernuwe” is ’n Bybelvers wat baie waar is. Jy is wat jy dink; jy glo volgens dit wat jy dink, en hoe jy glo, kan jou help om tussen waarheid en leuens te onderskei. Dit bepaal eintlik jou hele lewe.

Ek kan eerlikwaar sê ek leef nie in vrees vir die toekoms nie! Ek kan dit eenvoudig nie bekostig om in vrees te leef nie, dit steel te veel uit my lewe. Ek wil net nie eendag doelloos oud word nie. Ek wil steeds vir iemand iets beteken. Dit hoef nie groot te wees nie, maar ek wil positief wees, en nie ander se energie en lewenslus tap nie.

As die wêreld jou klankbord is, gaan dit wat jy sien en hoor en die nuus wat jy lees, jou in ’n spiraal van negatiwiteit afdruk. Daarom kies ek dat Hy my klankbord is. Deur die dag gesels ek met Hom oor alles wat in my gedagtes omgaan – my drome, my wense en ook my vrese. My fokus is op Sy beloftes. Dit wat ek nou moet doen en wat Hy op die oomblik in my lewe doen.

My verhouding met die Here anker my in iets wat ’n stewige vesting is. My vrede en veiligheid hang nie af van iets wat kan misluk nie. Daarom voel ek gerus om al my gedagtes en sorge net voor Hom neer te lê. Ek fokus daarop om Sy stem in en oor my lewe te hoor.

Die allerlaaste ding wat ek wil beweer, is dat ons in ’n sprokieswêreld leef waar niks verkeerd kan loop nie, waar ons nie kan seerkry nie. As ek kies om my gedagtes en my vrees aan Hom oor te gee, kry Hy die kans om elke situasie, hoe erg ook al, vir Sy heerlikheid en tot my voordeel te gebruik. Wat vir ons lekker en goed is, is nie noodwendig wat die Here weet vir ons reg en goed is nie. Ek hou wel vas aan die belofte dat wat ook al in ons lewe gebeur, die Here ons daardeur sal dra.