Stop die skree-kultuur

9184
Lizanne du Plessis

’n Ouer moet sy of haar emosies kan bestuur. Wanneer jy buite beheer voel, kan jy nie die ouer wees wat jou kind nodig het nie.

’n Lugwaardin sê nie verniet jy moet eerste jou eie suurstofmasker opsit in geval van ’n noodlanding nie. As jy jouself kan help, kan jy immers ander ook help.

Geen reaksie beteken jy het al te veel geskree

In huise waar stemme gedurig verhef word, het kinders dikwels ’n tekort aan selfvertroue, en hulle voel baiekeer nie waardig genoeg nie. Dit gebeur ook dat hulle dan in sekere situasies reageer deur aggressief en woedend te raak, en op hulle maatjies of boeties en sussies te skree. Dit is mos die voorbeeld wat vir hulle gestel word. Angstigheid en ’n gebrek aan konsentrasie is ook probleme wat by sulke kinders opduik.

Sommige ma’s dink as hulle nie hard praat nie, reageer niemand nie of as hulle skree, lyk dit in elk geval nie of dit die kind pla nie, want hy reageer nie eers nie. Vir jou wil ek sê: Liewe mamma, jy skree te veel.

Jou kind het al immuun geraak daarteen, en ek wil jou uitdaag om jou gedrag stop te sit. Verander vandag nog die manier hoe jy praat en dissipline toepas.

Ken jou snellers, en stap weg voor jy ontplof

Kom ons wees eerlik: Ouerskap en ons leefstyl met al sy eise is uitputtend. Daar is ontsettend baie druk op ma’s om alles perfek te doen. Dit is dalk ’n rede hoekom ons so gil en skree, want ons reageer onmiddellik uit daardie plek wat ons lamlê: ’n plek van teleurstelling, hoë eise, paniek, woede en hartseer.

Nog ’n rede waarom ons ons stemme so verhef as ons praat, is waarskynlik dat ons buite beheer voel. In dr. Dan Siegel se boek The Whole-brain Child word die brein met twee verdiepings van ’n huis vergelyk. In die onderste verdieping is ons primitiewe brein. Dit is waar ons ons emosies soos geluk, teleurstelling, vrees, paniek, woede en hartseer verwerk. Die boonste deel van die brein is daardie gedeelte wat ons help om logies te dink, goeie besluite te neem en te beplan.

Stres of enige emosie wat ons oorweldig, laat die boonste verdieping van ons brein – daardie logiese deel – afskakel. Ons reageer dan eerste vanuit die primitiewe deel van ons brein. Dit is baie belangrik om te weet watter dinge die boonste verdieping laat afskakel.

Wees ’n goeie voorbeeld en ander sal volg

Stel vas wat die snellers is, daardie dinge wat jou knoppies druk sodat jy eerder vanuit ’n primitiewe deel reageer. Maak ook sommer seker dat jy genoeg oefening kry, genoeg slaap en nie te veel kafeïen en suiker inneem nie. Al hierdie faktore plaas druk op die boonste verdieping van ons brein om nog harder te moet werk.

As jy in die hitte van die oomblik besef jou logiese denke wil by die agterdeur uitvlieg, moet jy vinnig iets doen. Stop. Haal diep asem. Dit klink soos ’n cliché, maar goeie asemhalingstegnieke is fantasties om ons brein in staat te stel om gedrag, aksies en woorde te reguleer. Stap weg as dit nodig is. Ek sal byvoorbeeld vir myself sê: “As dit of dat vandag gebeur, gaan ek kalm bly.” Maar kort voor lank is ek weer besig met ’n tirade van ’n ander aard.

Herinner jouself elke dag daaraan om jou te gedra soos jy wil hê ander hulle moet gedra. Dit beteken jy skree nie; jy haal asem, luister en verduidelik. Moenie kwaad word as hulle iets doen waarvan jy nie hou nie. Vra hulle om te verduidelik wat aan die gang is. Verwyder jouself uit die situasie as dit nodig is.

Dit verg tyd, moeite, energie en oefening om die skree-kultuur in jou huis te verander. Nogtans, liefdevolle dissipline op die regte manier is ’n kuns wat almal kan bemeester.

Lizanne du Plessis, ouerskapkenner

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Lizanne.