Stories, nie feite nie, oortuig mense om te glo

949

Ek is pas terug van tien dae saam met meer as ’n honderd jongmense op ’n uitreik. Dit was nie vervelig nie!

Ons groep het bestaan uit erg uiteenlopende mense. Mense van verskillende kulture, Zoeloes, Sotho’s, Xhosas, vlugtelinge uit Burundi en Zimbabwe, Afrikaners, Engelse…

Baie van die jongmense woon in ons Echohuise. Van hulle kom uit ander kinderhuise, ander was plaaslike kinders. Daar was ook jongmense uit “gewone gemeentes” se jeuggroepe en ’n klompie universiteitstudente. Dan was daar ingenieurs, onderwysers, dominees en selfs ’n bourekenaar en ’n argitek. Praat van verskeidenheid!

Dit gee my elke jaar soveel hoop vir Suid-Afrika om die klomp dop te hou. Hulle bereidheid om saam te leer, saam te werk en saam die Here te loof.

Ons Bybelstudietemas in die oggende het gegaan oor die stories wat Jesus vertel het. Wat ’n ervaring was dit om dag vir dag saam met die vreemde groep te fokus op een van Jesus se gelykenisse. Lanklaas het ek tieners so passievol sien saampraat.

Ek het al dikwels die teendeel gesien. Gesien hoe vinnig tieners belangstelling verloor wanneer grootmense teologiese dogma aan hulle probeer oordra deur allerhande soorte godsdienstige antwoorde en redenasies. Stories is anders.

Van kleins af al loop ek met hierdie idee dat my Christenwees van my vra om my geloof teenoor ander te verdedig, en veral om dit te doen deur goeie antwoorde reg te hê op moeilike vrae en deur Bybelverse aan te haal. Jesus het ’n ander metode gevolg – en, besef ek nou weer: sy metode werk beter!

Hy het nie net vreemde dinge gedoen en vreemde goed gesê nie, hy het ook op ’n vreemde manier gepraat. Heel anders as die godsdienstige leiers van sy tyd (en ons tyd). Sy gunsteling manier van praat, veral as dit kom by geloofsake was, óf deur vrae te vra, óf deur stories te vertel (gelykenisse).

Volgens die Evangelieskrywers antwoord Jesus 307 keer met ’n vraag! En dít terwyl net 183 vrae aan Hom gevra word (waarvan Hy slegs 10 antwoord…).

Een van die temas in Jesus se gelykenisse wat ons diverse groepie gefassineer het was die van insluiting. Waar die godsdienstiges van Jesus se tyd (en ons tyd) eksperts was om te wys wie uit is, wys Jesus se stories oor en oor wie ingesluit word.

Die verhaal van die barmhartige Samaritaan is ’n goeie voorbeeld, want die Jode het geglo Samaritane is onrein mense wat ’n dwaalleer aanhang. Dieselfde gebeur in die verhaal van die ryk man en Lasarus, die feesmaal waarheen al die belangrike mense genooi word en nie opdaag nie en dan word die uitgeworpenes genooi en hulle daag op, die verlore seun wat dinge doen wat dit sou regverdig dat sy gesin hom verwerp, maar sy pa aanvaar hom… Die wat jy dink uitgesluit word, word ingesluit.

Ek dink een van die redes waarom hierdie tema in die verhale wat Jesus vertel het so baie vir ons jongmense beteken het, was dat meeste van hulle weet wat verwerping is en omdat dit vir hulle moeilik is om te glo dat God jou kan gebruik as mense jou verwerp het. Hulle kon identifiseer met die karakters in die stories van Jesus.

Ons almal kan! Maar dan moet ons dit ook waag binne in die stories van Jesus in.

Jaco Strydom is ’n predikant in Pretoria, blogger en leier van die Echo-gemeenskap.

Koop Jaco se boek Confessions oor Kerkwees aanlyn by voelgoedboeke.co.za