Storms het my gehelp om te vlieg, glo Thuli Madonsela

0
1362

In ‘n land gekaap deur korrupsie was sy die flentertjie hoop waaraan almal vasgeklou het. Onverskrokke het sy doodsdreigemente, ‘n magtige president en sy kabinet oorleef.

Wie was jou held toe jy klein was?

Die vrou op die swart-en-wit foto se glimlag is ietwat skaam. In haar Sondagklere lyk sy glad nie soos ‘n huishulp nie. Donderdae is die hoogtepunt van haar week. Dan het sy, soos haar vriendinne wat in dieselfde woonbuurt bly, toestemming om dorp toe te gaan en sommer ‘n kiekie in die park te laat neem om later huis toe te stuur.

My pa was die fotograaf daardie dag. Deur die lens van ‘n kamera het hy haar die eerste keer raakgesien en so het ‘n liefde begin wat mettertyd dieper gegroei het.

Bafana Madonsela was my eerste held. Nie ‘n maklike man nie, maar beginselvas en hardwerkend. By hom het ek geleer dat die beste helpende hand die een aan jou eie arm is.

Aan wie sal jy ‘n medalje vir dapperheid gee?

Dit was klein, maar netjies – ons matchbox-huisie in Soweto. Vier vertrekke waarvan een uitverhuur is. Ons sewe kinders slapend op die kombuisvloer, ‘n klop aan die deur, fluisterstemme en my ma wat in die nag verdwyn.

Dit was maar net een van die baie kere wat sy moes gaan help toe ‘n vrou in kraam gegaan het. Met haar empatie en medelye met mense het Namosonto Madonsela sag gelyk, maar sy was ‘n steunpilaar in die gemeenskap. Amper soos ‘n informele maatskaplike werker en agony aunt.

Toe my pa vir ‘n ruk nie kon werk nie, het sy finansieel haar kant dubbel gebring en ook my skoolgeld betaal. Opvoeding was die manier waarop my ouers geglo het hulle kinders se lewe beter as hulle s’n gaan wees.

Die moeilikste besluit wat jy al moes neem

“Nee.” ‘n Eenvoudige drieletterwoord, maar so kragtig dat dit die rigting van my lewe bepaal het.

Ons was nie brandarm nie, maar toe my pa nie kon werk nie, het dit swaar gegaan. Sonder my wete het my pa gereël dat ek opleiding as ‘n verpleegster kry om die pot aan die kook te hou.

Toe hy my daarvan vertel, het ek vasgeskop. Skool wou ek klaarmaak. Hy het my uit die huis gejaag en geweier om verder skoolgeld te betaal. My ma het die hoof vir ‘n beurs gevra. Ek het my pa eers weer in matriek gesien toe hy die klere vir my matriekafskeid gekoop het.

Daardie besluit, glo ek, het my die moed gegee om later teen ‘n president en sewe ministers gelyktydig op te staan.

Om kinders alleen groot te maak, is baie dapper…

Niks, maar niks, berei jou voor op die skielike dood van ‘n geliefde nie.

My kinders se pa was ‘n wonderlike man, kollega, pa. Al het ons nie saam gebly nie, was hy voluit betrokke by die grootmaak van die kinders. Oor naweke was hy daar en wanneer ek nie skoolfunksies kon bywoon nie, sou hy gaan. Finansieel het hy baie meer as net die maandelikse onderhoud betaal. Die kinders was versorg en sou versorg gewees het as ek nie meer daar is nie.

Om dinge moeiliker te maak, is my ma twee jaar voor hom oorlede. Daar was geen backup, geen vangnet, as dinge moeilik raak nie. Die wete dat ek voortaan alleen besluite oor die kinders sou moes neem, was aan die begin vreesaanjaend.

Waarmee het jy as enkelma gesukkel?

Die stilte. Weg was die kinderlag en gejil vanuit die sitkamer as hy en die kinders speel terwyl ek regmaak vir ons weeklikse Wimpy-ontbyt. Weg ons uitstappies na die park. Al het ek hoe hard probeer, kon ek hulle nie in die lug rondswaai soos hulle pa nie. Party goed kan net ‘n pa doen.

Naweke het eindeloos lank gevoel. Ek het opgehou kook. Iets waaroor ek baie spyt is, want dit was die tye wat ons saam met die kinders gekuier het. Kosbare kanse wat vir altyd verby is.

Vandag weet ek dat ek emosioneel swaar gekry het. Ja, ’n mens praat met jou susters en jou vriendinne, maar niks kom by ‘n sielsgenoot wat jou verstaan sonder dat jy ‘n woord hoef te sê nie.

Is daar iets wat jy anders sou doen?

My dogter het hokkie en my seun touch rugby, hokkie en sokker gespeel, maar ek het nie regtig moeite gedoen om dit by te woon nie. By prysuitdelings en drama, wat in die aande was, was ek daar, maar sport is nie vir my so belangrik nie.

Vandag onthou my seun die een keer wat ek wel kom kyk het. As ek jong ma’s raad kan gee, sal ek voorstel hulle moet probeer om darem so een keer elke vier maande ‘n tydjie by die werk af te vat en te gaan kyk hoe hulle kinders aan sport deelneem. Al is sport miskien nie vir jou belangrik nie, beteken dit die wêreld vir daardie kleintjie om sy ma tussen die ander te sien.

Was jy na sy dood weer in verhoudings?

Ek was weer in verhoudings, maar na sy dood het ek ‘n hele paar jaar gewag voor ek weer by iemand betrokke was. Daar was wel een stabiele verhouding wat op die ou end as gevolg van afstand nie uitgewerk het nie. Met my werk het ek soveel rillers gehoor van vroue wie se kêrels hulle dogters misbruik het dat ek baie versigtig was. Die laaste ding wat ek wou doen, was om my kinders aan iemand voor te stel as nie eers seker oor hom was nie.

Op die oomblik is ek in ‘n verhouding, maar ek hou dit privaat. Ek is in die openbare oog, nie my geliefdes nie. Ek wil hulle beskerm, maar dit is tog lekker om iemand spesiaal in my lewe te hê.

Hoe het jy as ateïs weer ‘n Christen geword?

16 Desember. Ek kon dit nie verstaan nie. Hoe kon ‘n dag gevier word waar duisende mense dood is na ‘n gebed? As student het ek begin vrae vra en uiteindelik besluit ek is ‘n ateïs.

Steeds was ek soekend: Waar kom ons vandaan? Wat is agter alles? Is daar enigiets agter alles? Ek kon nie die antwoorde vind nie tot ek op ‘n dag ‘n begrafnis bygewoon het. Die boodskap het oor God gegaan, oor Sy liefde. Dit was ‘n heeltemal ander siening van God as waaraan ek gewoond was.

Daar het ek ook besef dat die Bybel deur mense geskryf is en dat mense foute maak. As daar iets in die Bybel is wat my pla, hoef dit nie ‘n dealbreaker te wees nie.

Is dit miskien naïef om in God te glo?

Wat het teen wat ge-bang? En wie het dit gemaak waarteen ge-bang is?

“Ek dink dat daar waarskynlik ‘n big bang was,” het Stephen Hawking gesê.

Darwin se teorie oor evolusie is net ‘n teorie, nie feite nie. Selfs wetenskaplikes raai oor hoe dinge ontstaan het. Geloof is nodig om te glo, maar gaan jy glo in God of in wetenskaplike raaiwerk?

Ek kies om in God te glo, want die goed wat in my lewe gebeur het, dinge wat wat ek al gelees het, mense wat ek ontmoet het, ‘n kombinasie van alles wat ek al teëgekom het, weet ek dat niks sommer net gebeur nie en alles deel is van God se perfekte plan. Vir my is dit baie logies om te glo.

Wat is jou definisie van die waarheid?

Die vrou voor my huil. Haar trane lyk opreg, maar praat sy die waarheid? vra die irriterende stemmetjie waaraan ek teen hierdie tyd al gewoond geraak het.

Een van die grootste ontnugterings in my lewe was toe ek besef het dat goeie mense ook jok. Dit het vir my die onskuld van “onskuldig tot die teendeel bewys is” weggevat. Nou is dit: “Luister mooi, maar moenie alles glo wat jy hoor nie.”

Die waarheid is nie altyd voor die hand liggend nie. Dit het baie kante – die een kant, die ander kant en die regte kant, maar wat die “regte kant” is, kan jy net weet met die feite wat jy het. Dit beteken die waarheid kan skuif soos meer feite bekend word.

Het jy ooit iemand verdedig wat skuldig was?

Ek was maar ‘n tweedejaar, maar sal dit vir altyd onthou: die advokaat wat ‘n saak gewen het, maar na die tyd sy eie lewe geneem het. Hy het die saak gewen in die hof voor die gemeenskap, maar dit verloor in die hof van sy hart.

Die kans dat ek kriminele sou moes verdedig, was destyds die argument van my ma se pastoor om my te verhinder om in die regte te gaan studeer. Ek was bevoorreg, want in die tyd toe ek by die regskliniek gewerk het, kon ek ‘n saak wegwys as dit teen my beginsels was. Dit het al gebeur dat ek ‘n kliënt wat skuldig is, adviseer om ‘n pleitooreenkoms aan te gaan, maar ek het nog nooit iemand wat skuldig is, verdedig nie.

Is jy dapper genoeg om soms verkeerd te wees?

“Rio de Janeiro of Buenos Aires? Wat is die hoofstad van Argentinië?”

Maak dit saak? Vir my maak dit. Ek kan op ‘n baie ordentlike, maar hardnekkige manier met iets aangaan as ek voel dit is reg.

My kinders glo dat ek steeds altyd die laaste sê wil hê, maar ek probeer al die afgelope twintig jaar onthou dat om “reg” te wees nie alles is nie. Die probleem in ons huis is dat my seun net soos ek ook glo dat hy reg is en altyd die laaste sê wil hê. So erg dat my dogter haar dikwels uit die voete maak. Met ouderdom kom wysheid en ek weet nou dat ’n mens soms dinge laat gaan ter wille van die kwaliteit van die verhouding.

Hanteer jy konflik altyd so kalm en rustig?

“Jou woorde, Mamma, jou woorde,” sal my dogter my herinner wanneer ek woorde gebruik om seer te maak. My vriend sê weer as ek die woorde “my dear” gebruik, weet hy daar is moeilikheid.

Daar is ‘n stukkie Hitler en ‘n stukkie Mandela in elkeen van ons. Jy kan kies wie gaan oorneem. ’n Mens hoef nie te skree om wreed te wees nie, maar die woorde wat jy gebruik en hoe jy dit sê, kan die Hitler in jou na vore laat kom.

As ek kwaad is vir myself omdat ek laat was of iets verkeerds gedoen het, is ek streng met ander ook. Die kuns van empatie moet ek nog bemeester. Daar is geen verskoning vir wreedheid nie.

Hoe het jy oortuig geraak dat hierdie jóú taak was?

Daar was baie ander – net so slim, net so verbind tot die waarheid. Ek het baiekeer gewonder hoekom dit ek moes wees.

Toe daar na my eerste verslae skielik gerugte was dat ek vir korrupsie gearresteer gaan word, het ‘n vrou na my toe gekom en gesê dat ek soos Ester gekies is om daar te wees. Veral omdat ek in daardie stadium sulke goeie bande met die regering gehad het, het dit vir my sin gemaak.

Ek, wat eens op ‘n tyd as ‘t ware deel was van die binnekring. Soos Ester moes ek die waarheid sien en daaroor praat, selfs al kon dit beteken dat ek al my vriende verloor. En dit wat as intuïsie afgemaak word, was die Heilige Gees wat my gelei het. Ek glo dit vas.

Het jy toe op die ou end vriende verloor?

Dit was baie hartseer toe ek en een van my beste vriendinne besluit het dat dit beter sou wees as ek nie na haar troudag kom nie. Dit was ‘n dag waaroor ons baie gepraat het, saam drome gedroom het, en toe is ek nie welkom nie.

Ek het nie almal verloor nie. Baie het gebly solank hulle net nie saam met my gesien is nie. Ander het my geken wanneer dit hulle pas.

Wat wel vir my erg was, was die ministers wat saam met my oor Nkandla vergader het en saamgestem het dat dit verkeerd is, maar toe hulle daaroor moes stem, eintlik teen my gestem het. ‘n Koerant het hulle name gepubliseer. Party name was skokkend, want ek het gedink hulle was my vriende.

Wat het jy gedoen voordat julle ’n verslag uitgereik het?

Ek was bang, bitter bang, nie dat mense nie van my gaan hou nie, daarmee het ek lankal vrede gemaak. Waarvoor ek bang was, was dat ek die verkeerde besluit geneem het omdat ek nie al die feite het nie en dat dit iemand se lewe kon ruïneer. Wat as ons iets êrens misgekyk het? Inligting wat ons nie gehad het nie of ‘n obskure deel van die wet wat ons nie raakgesien het nie? Die waarheid kon so maklik wegkruip.

As my span nie saam met my was om seker te maak dat ons elke sin in ‘n verslag kon verdedig nie, het ek gekies om alleen te wees. Dikwels nie ‘n oog toegemaak nie. Net gebid. Amper soos Jesus wat na die berg gegaan en in stilte gebid het.

Vertel van die doodsdreigemente wat jy gekry het

“Ons weet jy loop in die oggende saam met jou seun,” flits die woorde soos die teiken van ‘n skerpskutter oor my telefoonskerm.

Die feite is verkeerd, want dit is my nefie, maar die boodskap is kristalhelder: “Gaan voort en ons vermoor jou en jou familie.” My broer het ook op ‘n sameswering afgekom en met die ANC daaroor gaan praat.

Dit het egter nie by doodsdreigemente gebly nie. Daar was gerugte dat ek ‘n spioen vir die CIA was. Aan die begin was dit geloofwaardig, maar die laaste een veral was lagwekkend. Volgens die storie is ek as openbare beskermer ‘n spioen vir die Amerikaanse regering. My agente was openbare beskermers in ander Afrikalande. Ek sou dan deur hulle die name van lande wat Amerika vyandiggesind is, deurgee.

Hoe het jy te midde van hierdie dreigemente steeds aanhou werk?

Ek kon nie heeltyd in vrees leef nie. Ek het later maar besluit dat almal een of ander tyd doodgaan en ek kon dan maar netsowel doodgaan terwyl ek besig was om iets waardevols te doen. Maar ten spyte van my bravade was ek bekommerd oor my kinders. Hulle was nog op skool en het my nodig gehad. Dit was vir my verskriklik om my ma in my middeldertigs te verloor, ek wou nie dit aan hulle doen nie.

Ek het ook vrede gemaak met die moontlikheid dat ek my werk kon verloor. Ons huis is nog steeds in Soweto en as ek enigiemand spodanig sou beledig dat hulle ‘n manier kry om my uit te skop, het ons ‘n heenkome gehad.

Is daar mense wat jy moes vergewe?

Ek dink daar is meer wat my moes vergewe, maar ek moes oudpresident Zuma vergewe. Ek moes my opvolger vergewe, want ek het gevoel die manier waarop sy my behandel het, was baie wreed.

Dit het lank gevat en in die proses het ek geleer dat vergifnis nie ‘n gebeurtenis is nie. Dit is nie genoeg om God net te vra om jou te help om te vergewe nie. Jy moet gaan uitvind presies wat jou seergemaak het en dan moet jy weer deur daardie gevoelens gaan. Meestal moet ’n mens oor en oor en oor vergewe. Soveel keer dat wanneer daardie persoon se gesig op TV verskyn, dit jou nie meer ontstel nie, dat jy selfs empatie met daardie persoon kan hê. Dis eers dan dat jy weet die proses is voltooi.