Straatlig serenade

Onse eie dorpie se koorjuffie met die pragtige blonde lokke en kenmerkende rooi lippe kom vertel ons van The Ladies Lighthouse – gaan soek hulle gerus op Facebook.

Sy begin braaf, maar halfpad deur haar storie beur die trane van te-lank-ingehou na buite.

Carla se storie is persoonlik en nie myne om te deel nie.
Maar dis rou en dis seer en dis opstaan en val.
Dis weier-om-te-bly-lê en dis vat-my-hand-want-ek-weet.

Ek wens ek kon sê Carla se storie is uniek en mens hoor gelukkig min daarvan.
Maar my ma het nie ‘n liegbekkie grootgemaak nie.
Want skaars ‘n week later verskyn hierdie boodskap op my muur:

“Een van ons Mammas, het in ‘n klein plekkie agter in iemand se erf ingetrek. Sy het 2 kinders, en soek werk. Hulle slaap op matrasse en het die volgende items dringend nodig… THE LADIES LIGHTHOUSE”

Die wonderlike vroue aan die stuur van hierdie inisiatief het terselfdertyd yster en verekombers in hulle pype. Hulle is nie bang om dit wat verkeerd is in ons samelewing uit te roep en reg te maak en die harde houe te slaan nie, maar terselfdertyd vang hulle die slagoffers in ‘n greep van sagte aanvaarding.

Ek moet bely: Hulle onmiddellike daarwees en ingryp laat my eerder dink aan ‘n straatlig.
Jy hoef nooit te ver te soek na een nie,
hulle los jou nie langs die pad en laat die donker maar weer oorneem nie,
hulle vat jou veilig huistoe.

Met hierdie in my hart, net ‘n paar uur later, lees ek van Katrienkie.

Hierdie (Facebook) blad vloei uit die boek ‘Katrienkie – van Hawegirl tot Lady‘. In Katrienkie vertel ek, Cara Blake, my eie verhaal van trauma en misbruik. Die doel van die boek is om hoop te bring en fokus dan ook sterk op die herstelproses. Ek is reeds vir die afgelope twintig jaar maatskaplike werker, en kry in my beroep daagliks te doen met slagoffers van seksuele misbruik. Ek weet uit ervaring dat hulp nie altyd vrylik beskikbaar is vir slagoffers nie, en ek weet ook dat die herstelproses baie kompleks is. Daarom is Katrienkie gebore – om HOOP en HULP te bring vir elkeen wat nie by ‘n terapeut kan uitkom nie. En daarom dan ook hierdie blad – om ondersteuning te bied aan slagoffers en praktiese raad te gee. Die blad is verder ook geskep vir familie en vriende van slagoffers – om hulle te bemagtig om die slagoffer te ondersteun.

Hierdie week se blog is ‘n ode aan elke Katrienkie.

PSALM 121… ‘N GEBED
Geskryf deur Cara Blake
https://www.facebook.com/911CaraBlake/

Ek kyk op na die berge in my pad. Berge wat die lewe sommer self voor my kom inrol het. Wie gaan my hand vat en my help om ‘n ompad te kry, Here? Mense kan nie berge wegrol nie, al wil hulle ook. Mense kan nie die berg van verlang wat so swaar in n mens se hart kom lê, wegvat nie. Verlang na n geliefde wat weg is. ‘n Pa, ‘n Ma, ‘n kind…

Here, en mense kan ook nie die berge tussen twee mense wat lief is vir mekaar, wegvat nie. Berge van misverstand na misverstand, later opgee en laat gaan… en die berg bly, Here.
Ek kyk op na die berge in my pad… Berge van bangwees en alleenwees en onseker wees. Berge van skaamwees. Wie gaan my help om ‘n ompad te kry, Here?

Mense is partykeer bang vir berge. Mens praat mos so effentjies om dit. Partykeer vat jy klippies en pak ‘n groot glimlag op jou berg… en dan is almal bly, want jou berg is nie meer so scary nie.

Ek kyk op na die berge in my pad. Wie gaan my help om verby hierdie een te kom? Ek kan nie my berg optel en na U toe bring nie. Dis te swaar. As ek by U voete kom sit om te bid, kry ek nie die regte woorde om hierdie berg vir U te beskryf nie. Partykeer voel dit asof ek aan hierdie kant van my berg sit, en U sit aan die anderkant.

Ek kyk op na die berge in my pad. Wie gaan my help om verby hierdie een te kom? My hulp kom van Hom wat die hemel en die aarde gemaak het. My hulp kom van Hom wat die mossie se veertjies getel het, van Hom wat vir die swaeltjie krag gee om ver te trek, van Hom wat seker maak dat die Klipspringertjie se voete stewig op die klippe balanseer. Hy wat elke dag ‘n streep op die sand trek, en vir die branders sê julle mag tot hier kom. Hy wat vir die son sê wanneer om te gaan slaap, en vir die maan wanneer om wakker te word.

Dit is Hy wat terugstap op Sy pad om my te kom soek as ek agter die berg wegraak. Dis Hy wat stil langs my kom sit en na my hart luister, as my woorde nie meer kan praat nie. Dit is Hy wat elke dag n mandjie genade langs my neersit, genade net genoeg vir elke dag se klim. Dit is Hy wat my hand vat en my ophelp en tree vir tree saam met my klim. Hy dra my wanneer my voete gly. Hy laat my rus wanneer ek moeg word.

Ek kyk op na die berge in my pad. Wie gaan my help om n verbypad te kry?
My hulp is van die Here wat my oppas. Elke dag. En dis genoeg.

Vorige artikelAl die goed
Volgende artikel‘n Ja wat Nee moes wees…
Blogger - Maxie Heppell
Vir baie lank het my lewe nie regtig rigting gehad nie. 'n Gekompliseerde kindertyd, verkeerde keuses en dan die ongelukkige gevolge daarvan, het my gevange gehou. Tot daardie dag dat die Here Sy kind uit die modder opgetel en haar voete stewig op Vaste Rots laat land het. Psalm 40 bly tot vandag toe 'n groot favourite! Dit het my baie jare geneem om uit te kom by dit wat Hy nog altyd vir my lewe bedoel het. Maar nou is ek hier. En ek glo in God Drie-Enig, in die maagdelike geboorte, in Jesus aan 'n kruis, maar meer nog - aan die opgestane Jesus in my eie lewe. Ek glo dat Hy ons weer gaan kom haal en dat ek tot dan die Heilige Gees het wat my lei en my denke help vernuwe. In 2009 behaal ek my B.Th graad in teologie en sedertdien preek ek, praat ek en deel ek oral waar ek genooi word. Ek en my eerste liefde en ons langhaar-vierbeen meisiekinders bly tans op Jeffreysbaai in die Oos-Kaap en ons getuig gereeld: Die Here is nie net goed vir ons nie, Hy bederf vir ons!