Stres en kommer is soos gif

306
Jannie Putter

As jy voel soos ’n hamster op ’n wieletjie is dit dalk nou die tyd om af te spring! Die rotteresies het geen wenner nie.

Stres, kommer en vrees lei tot allerhande siektes. Dr. Caroline Leaf skryf in haar boek, Switch on Your Brain, dat kommer en vrees veroorsaak dat ons liggaam toksies word.

Bekommernis bring jou nêrens, én dit maak jou siek!

Stres is soos ’n sleutel wat jy draai om ’n masjien in jou liggaam aan te skakel wat jou vol gif pomp. Noodsituasies veroorsaak dat jou liggaam endorfiene vrystel, wat jou vinniger laat asemhaal, jou hartklop versnel en jou bloeddruk verhoog. Hierdie reaksies is die liggaam se manier om noodsituasies te hanteer. As so ’n situasie verby is, sal jou liggaam na normaal terugkeer.

As die stres nie verdwyn nie en jy voortdurend angstig en bekommerd is, word jy soos daardie hamster op die wieletjie. Dit is nodig vir ons gesondheid om te leer om spanning te ontlaai en vrede en rustigheid te soek.

Elkeen moet sy eie manier vind om rustig te raak. As ek gespanne is, maak ek ’n bewustelike keuse om woorde te gebruik. Ek praat die teenoorgestelde dinge van wat ek voel. Ek sê dankie vir alles wat ek het, sonder om te fokus op dit wat ek op die oomblik voel. Ek vervang my realiteit met hoop, en dit werk vir my.

’n Gelukkige mens is ook ’n gesonde een

Navorsing bewys dat meer as 90% van dit waaroor ons ons bekommer, nooit gebeur nie. In plaas daarvan om jou gesondheid en jou vreugde prys te gee vir iets wat in elk geval nie gaan gebeur nie, kies om jou lewe met mooi dinge vol te maak.

Maak ’n gewoonte daarvan om elke dag te begin met hoop deur jou gedagtes te vul met positiewe en inspirerende boodskappe eerder as die realiteit van ’n kommerwekkende nuusbulletin oor die radio.

Kies om na rustige musiek te luister in jou motor eerder as die geraas van verskillende advertensies in jou ore wat jou in elk geval net ongeduldig en haastig maak. Die oomblik wanneer jy dit begin doen, sal jy ’n groot verandering sien in die kwaliteit van jou lewe.

Baie maal wanneer mense by my kantoor instap, sê ek vir hulle: “Ek het vandag vir julle die beste voorskrif vir gesondheid!”

Ek gee vir hulle Spreuke 17:22, wat sê: “’n Gelukkige hart is soos goeie medisyne. ’n Opgewekte gees bring genesing!” As jou hart gelukkig is, sal jy ook die uitdagings van die lewe kan hanteer.

Slaap genoeg, eet gesond en oefen vir ’n gelukkige hart

Die beste manier om stres te verminder, is om veranderinge aan jou leefstyl te maak. Eet genoeg, slaap genoeg en oefen gereeld.

Maak elke week tyd om jouself te bederf. Vir my is ’n halfuur elke oggend saam met my gesin die ding wat my dag ophelder. ’n Lekker koppie koffie, ’n rondte gholf, mooi musiek in my kar laat my gees lig voel.

As ander na jou kyk, sien hulle iemand met vrede in die hart? Daar is ’n spreekwoord wat lui: “’n Hand vol rus is beter as ’n dubbele hand vol harde werk.” Klim vandag nog van die hamsterwieletjie af en leef die oomblik.

Jannie Putter, Leierskaps- en persoonlike ontwikkeling en sportsielkunde

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Jannie.

Gebruik die afslagkode JANNIE om die boek VOLGENDE JAAR JONGER aanlyn te koop op voelgoedboeke.co.za teen 50% afslag. R99 R199