Stres gaan niks beter maak nie

0
91
Stres.jpg

Dit help nie jy bekommer jou lewe om nie. Hoe leef jy ’n stresvrye lewe? Hier is enkele paar geheime oor hoe om minder te worry en meer te leef.     

Om te stres of nie te stres nie? Dit is die vraag wat jy jou moet afvra. Vroue stres mos oor baie dinge – geld, liefde, vriendskappe, verhoudings, werk, aanvaarding, kinders, gesondheid, wat ander mense dink … die lys kan eindeloos wees. Die geheim is om te leer om te laat gaan – voordat dit jou gesondheid benadeel of die mense die naaste aan jou heeltemal wegstoot. Hier is antwoorde vir die dinge waaroor vroue hulle die meeste bekommer.

Is ek dalk in die verkeerde beroep?

Ongeveer 52% van alle vroue kla dat hulle nie gelukkig is by die werk nie. Jy hoef egter nie daar te bly nie. As jy nie heeltemal seker is wat jou gelukkig sal maak nie, maak ’n lys van die dinge wat jy goed kan doen en graag sou wou doen – dit hoef nie eers werkverwant te wees nie. Kyk nou na watter van hierdie dinge moontlik vir jou ’n inkomste kan inbring. Daar is vir seker iets op jou lysie wat jou sal inspireer en ’n werksmoontlikheid kan word. Vra dan vir jouself: “Wat sal gebeur as ek hierdie verandering maak? Wat sal gebeur as ek dit nié doen nie? Wat sal nié gebeur as ek dit wel doen nie?” Waag dan die kans en kyk wat gebeur!

Gaan ek altyd oorgewig en ongelukkig wees?

’n Mens se gewig wissel van dag tot dag en sal afhang van wat jy eet en hoeveel vog jou liggaam terughou. Moet daarom nie so erg op die skaal se syfers fokus nie. Niemand is heeltyd op hulle ideale gewig nie. Moenie die fout maak om nou te begin oefen en jou eetplan aan te pas, en dan teleurgesteld te wees omdat jy nie dadelik resultate sien nie. Waar jou gewig oor twaalf maande gaan staan, is die resultaat van ’n hele jaar se leef- en eetpatroon. ’n Mens se selfbeeld skep geluk, en dit word weerspieël in jou liggaamshouding en nie in jou liggaamsgrootte nie. Positiewe denke is die sleutel tot geluk én tot hoe jy oor jou liggaam gaan voel. Die geheim is om ’n gesonde, gebalanseerde en positiewe leefwyse te hê.

Ek is bang my huwelik werk nie

Baie mense meet hulle eie huwelik aan hulle ouers s’n. Hulle is bang dat hulle verhoudings nie gaan werk nie, omdat die reëls nie meer so duidelik is soos dit destyds was nie. Moenie bekommerd wees oor ontrouheid nie, tensy daar ’n geskiedenis daarvan is. Maak seker dat julle behoorlik kommunikeer en genoeg tyd aan mekaar bestee, sodat nie jy of jou man by ander partye simpatie hoef te gaan soek omdat julle mekaar nie verstaan nie. Moenie ophou om dinge saam te doen nie. Individualiteit is belangrik, maar nie tot op die punt waar julle van mekaar af wegdryf nie. As julle intieme lewe nie is wat dit moet wees nie, wees eerlik daaroor en soek hulp of praat dit uit, en vind ’n oplossing daarvoor. ’n Huwelik kan goed wees as albei partye ewe hard daaraan werk.

Ek is bang ek verloor ’n geliefde

Baie vroue is bang hulle gaan agterbly. Die rede hoekom ons heeltyd bekommerd is oor die veiligheid van ons geliefdes, is dat dit wat ons in die nuus hoor, so negatief is. Die gevolg is dat ons die situasie heeltemal uit verband ruk, net soos die media maak. Soms is juis die teendeel waar: Ons leef eintlik veiliger omdat ons bewus is van wat om ons aangaan. Niemand kan egter die toekoms voorspel nie – maak daarom die beste van die hier en nou. Fokus op hoe gelukkig jy is om iemand te hê vir wie jy lief is en wat vir jou lief is. Sê en wys dit gereeld vir hom. ’n Mens besef nie hoe baie kosbare tyd en energie jy mors wanneer jy jou só bekommer dat jy vergeet om te leef nie. As jy sukkel om nie paniekerig te raak nie, skryf elke dag al die goeie dinge van jou dag neer. En gaan lees dit wanneer jy gespanne begin voel.

Gaan my skuld ooit minder word?

Dit is baie algemeen vir vroue om hulle oor skuld te bekommer. Meer as 60% vroue raak paniekerig wanneer hulle oordadige spandabelrigheid hulle uiteindelik inhaal en ’n groot krisis word. Omdat die wêreld so materialisties geword het, probeer ons almal om by te hou met die jongste modes en giere en natuurlik met ons vriendinne en alles wat húlle kan bekostig. Jy sal egter moet leer om logies hieroor te dink en te sê: “Nee dankie.” Vergelyk jou uitgawes met jou inkomste – jy sal verbaas wees om te sien wat die effek van jou spandabelrigheid op jou bankbalans is. Die beste ding wat jy kan doen, is om verantwoordelikheid te aanvaar vir die probleem. Net die feit dat jy erken dat daar ’n probleem is en beheer geneem het oor die situasie, sal jou beter laat voel. Dis die eerste stap in die rigting van ’n oplossing. Jy moet ook weet dat jy nie alleen is nie, want daar is ander vroue wat dieselfde deurmaak. Hou moed: Daar is altyd ’n antwoord vir jou spesifieke probleem.