Stres minder binne 10 sekondes

0
155
stres.jpg

Jy stres jou dood! Waar gaan jy tyd kry om te ontspan? Maklik. Al wat jy nodig het, is 10 sekondes!

As jy dit nie reg hanteer nie, kan spanning ’n baie slegte uitwerking op jou hê. Studies het bevind dat stres die volgende simptome op kort en lang termyn op jou lyf het. Gelukkig is daar maklike maniere om, sommer daar by jou lessenaar, te ontspan. En dit binne 10 sekondes!

Maak seker dat altyd jy reg asemhaal

Jy haal sowat 20 000 keer op ’n dag asem, maar doen jy dit reg? Deur reg asem te haal, kan jy 20 000 keer op ’n dag van stres ontslae raak. Op hierdie manier kry jou lyf ook die nodige suurstof en voedingstowwe. As jou asemhaling verkeerd is, word jou brein, organe en vel beroof van alles wat nodig is om goed te funksioneer. Selfs jou spiere kry swaar en jy kan onnodig moeg voel.

Om reg asem te haal, moet jy jou diafragma gebruik. Dit is die plat, spieragtige afskorting tussen jou bors- en buikholte, ook bekend as die midderif of mantelvlies. Gaan lê plat op jou rug om jou diafragma te vind. Sit jou linkerhand bo-op jou borskas en jou regterhand op jou maag – daar waar jou ribbekas ’n inham vorm, is die diafragma. As jou linkerhand op en af beweeg, haal jy te vlak asem en gebruik jy nie jou diafragma soos jy moet nie. Verander nou jou asemhaling sodat net jou regterhand op en af beweeg. Nou gebruik jy jou diafragma.

Een asemteug uit en een in is ’n asemsiklus. Probeer jou asemhaling verminder tot agt siklusse per minuut sonder om uit jou borskas asem te haal. Stadige, rustige asemhaling sal jou hartklop verlaag, spanning verlig en bloedsirkulasie verbeter sodat jou lyf die nodige voedingstowwe kan kry.

Deur rustig en stadig asem te haal, maak jy jou wêreld kalmer. Jogakenner Fiona Agombar van Engeland stel voor dat jy lug deur ’n skrefie tussen saamgeperste lippe uitblaas. So haal jy stadiger asem en kry jou liggaam kans om die suurstof goed te gebruik voor jy dit uitblaas. Probeer om dubbeld so lank uit te asem as wat jy inasem. Trek jou asem byvoorbeeld vir twee tellings in en blaas dit vir vier tellings uit.

Nog ’n lekker asemhalingsoefening is om gemaklik met jou voete uitmekaar te staan en vooroor vanuit jou middel af te buk tot so ver as wat dit vir jou gemaklik is. Sit jou hande agter op jou lae rug en trek jou asem diep in. Blaas dan uit. Doen dit ’n paar keer per dag om seker te maak jy trek gereeld jou longe lekker vol lug.

DIE 10-SEKONDE-OPLOSSING BY DIE WERK: Trek jou asem lekker diep in jou maag in, nie in jou borskas nie – en hou dit 4 sekondes so. Asem dan stadig uit. Siedaar! Jy ontspan.

Lees ook: 5 maniere om jou brein skerp te hou

[pagebreak]

Gee jou voete nou en dan ’n blaaskans

Lisa Gillispie is ’n voetgesondheidspraktisyn van Ohio. Haar droom om ’n balletdanser te word is in die wiele gery deur ’n enkelbesering. As sy nie self ’n danser kan wees nie, het sy besluit, kan sy ten minste ander dansers help om gesonde voete te hê.

Op haar webtuiste (www.lisallc.com) gee sy baie oulike raad om moeë en seer voete weer gesond te kry. Selfs met werkskoene het jy ’n bietjie hulp nodig.

In ’n studie wat in die Journal of Bone and Joint Surgery gepubliseer is, is kulture wat skoene dra se voete vergelyk met kulture wat nie skoene dra nie. Die verskil was verstommend. Tot die ouderdom waarop kinders skoene begin dra, is daar geen verskil tussen die kulture nie. Dis wanneer jy jou voete in skoenvorms begin dwing dat die groot verandering gebeur.

Kulture wat nie skoene dra nie se voete word aansienlik breër na die tone toe. Daar is ook ’n redelike groot spasie tussen die groottoon en ander tone, wat help vir balans. Kulture wat skoene dra, se tone is nou – die voet word smaller by die tone en soms druk van die tone selfs oormekaar. Skoene misvorm jou voete, maak dit gepunt, stram en swak. Die spiere in jou voete raak ook misvorm en boonop kry jy eelte.

Volgens Lisa is jou voete net so bruikbaar soos jou hande – as dit die kans kry. Met meer as 33 gewrigte is jou voete ontwerp om met gemak te kan beweeg. Indien dit nie gebeur nie, kan jy gesondheidsprobleme ontwikkel, om nie te praat van die spanning wat dit tot gevolg het nie.

Gelukkig is die teendeel ook waar. Hierdie drie eenvoudige oefeninge sal jou voete – en vir jou! – heerlik laat ontspan:

1. Strek die bokant van jou voet: Sit kaalvoet en gemaklik op ’n stoel sonder armrelings. Bring jou regtervoet na agter en druk saggies met die bokant van jou voet op die grond. Hou vir ’n paar tellings en herhaal met die ander voet.

2. Die toonstrek: Sit kruisbeen op die grond en vleg jou regtervingers deur jou linkertone. Druk aanvanklik jou vingers deur jou toonpunte en beweeg jou vingers dan na die basis van jou tone. Hou vir ’n minuut en herhaal met jou ander voet.

3. Die tennisbaldruk: Sit of staan en plaas ’n tennisbal onder die bal van jou voet. Laat jou tone oor die bal vou terwyl jy jou hak op die grond hou. Hou die posisie vir 30 sekondes en herhaal met jou ander voet.

DIE 10-SEKONDE-OPLOSSING BY DIE WERK: Terwyl jy by jou lessenaar sit, trek jou skoene uit en wikkel jou tone vir 10 sekondes. Jy sal dadelik meer ontspanne voel!

[pagebreak]

Maak stres jou beste vriendin. Ja, dis moontlik!

Kelly McGonigal, sielkundige en streskenner van Stanford-universiteit in die VSA, het onlangs gebieg dat iets wat sy al die afgelope tien jaar vir mense leer, meer kwaad doen as goed. “Ek vertel al jare vir mense dat stres jou siek maak. Dat dit die vyand is. Maar deesdae het ek van siening verander. En vandag wil ek dit met julle deel,” begin sy haar omstrede toespraak op die sosiale netwerk TED.

Haar kopskuif is te danke aan ’n studie wat 30 000 Amerikaners agt jaar lank gemonitor het. Aan die einde van elke jaar is hulle gevra hoeveel spanning hulle die afgelope jaar ervaar het en of hulle dink stres is sleg vir hulle gesondheid. Diegene wat baie stres ervaar het en meen dat spanning ’n gevaar vir hulle gesondheid inhou, het ’n 43 persent groter kans gehad om dood te gaan. Diegene wat ook baie stres ervaar het, maar meen dat stres nie hulle gesondheid benadeel het nie, het die laagste risiko gehad om te sterf, selfs laer as persone wat gesê het hulle het nie baie stres ervaar nie, maar wel glo dat spanning gesondheidsgevare inhou.

Navorsers van hierdie studie raam dat daar gedurende die tydsverloop van die studie ongeveer 182 000 Amerikaners voortydig dood is. Nie van stres nie, maar omdat hulle geglo het dat spanning sleg is vir hulle.

Dit het Kelly laat wonder of mense gesonder kan wees as hulle anders oor stres dink. “Wanneer jy in ’n stresvolle situasie is, begin jou hart vinniger klop, jy sweet dalk ’n bietjie meer, haal vinniger asem en voel hoe die bloed deur jou are bruis... Hierdie is vir die meeste mense ’n teken van angs, ’n bewys dat jy nie baie goed onder omstandighede vaar nie.

“Maar wat as jy anders oor hierdie reaksie dink?” wonder Kelly. “Wat as jy dit sien as ’n teken dat jou lyf gereed is om met hope energie die uitdaging te kan hanteer? Jou hart wat vinniger klop, maak jou paraat. Vinnige asemhaling is glad nie ’n probleem nie. Dit help om genoeg suurstof orals in jou lyf te kry.”

“Daarom het my werk as terapeut aansienlik verander,” verduidelik Kelly.

“Ek wil nie meer mense se stres wegvat nie. Ek wil hulle help om dit beter te hanteer. Spanning kan dus jou vriendin wees én dit kan jou help om vriendinne te maak.”

DIE 10-SEKONDE-OPLOSSING BY DIE WERK: Wanneer daardie hartklop, ligte sweet en vinnige asemhaling jou volgende keer oorval, dink: “Aaa, wonderlik, hier skop my lyf nou net in om my te help om die uitdaging te bowe te kom!”

Lees meer: 6 foute wat jy by die werk maak