Stres minder en lééf jou geloof

0
13
vroue_wat_glo.png

Jy moet geloof dóén

Geloof is nie ’n emosie of gevoel nie – dis ’n werkwoord. Jy moet met jou hart glo en dan moet jy met jou woorde en jou aksies doen – jy moet sê en wys dat jy glo. Met ander woorde, geloof is ’n daad. Dit begin eers binne jou. Daarna moet dit vir ander hoorbaar word wanneer jy met jou mond bely, en dit moet ook sigbaar word deur wat jy doen.

Is dit hoe jy lyk en klink? Sal jy tussen jou vriende en vreemdelinge sê dat jy in Jesus glo? Maar selfs om net te sê jy glo, is nie genoeg nie. Dink aan Abraham. Hy is deur sy geloof gered, want hy het gesê hy glo en hy het dit ook gewys. God vra dieselfde van jou: sigbare dade wat wys jy glo.

Net soos alle ander dinge in die lewe gebeur geloof nie net nie. As iets moet gebeur, moet daar ’n aksie plaasvind, en geloof is ook so. Jou geloof is iets wat geskep word deur wat jy doen. Dit gaan nie vanself daar wees omdat jy dit voel nie, of omdat jy sê jy glo nie.

Wanneer jy jou geloof “begin doen”, moet jy leer om vas te hou aan Sy woord. Moenie begin twyfel as jy ’n ruk moet wag of wanneer daar niks gebeur nie. Alles gebeur op ’n spesifieke tyd en plek, wanneer dit móét gebeur. En jy moet wys dat jy dít glo.

Hoe om jou stres minder te maak

Jou kop en lyf is gedurig aan die gang. Dit maak nie saak hoe jy dinge probeer orden en lysies maak nie, die spanning hoop net op. Het jy geweet wat die heel maklikste manier is om jou stres te verlig? Slaap!

Jou lyf is ’n wonderlike sisteem wat elke nag goeie rus nodig het om optimaal te werk. Dit is nie soos ’n siellose motor wat heeldag kan ry en net een keer ’n jaar ’n diens nodig het nie! Jou lyf het rus nodig – ten minste sewe tot agter uur elke nag.

Dit is hoekom daar nagte is; dit is van die begin af so geskep sodat jy kan afskakel en heel word. Jou lyf gebruik daardie kosbare tyd om te herstel. Daarom is dit die heel eerste ding waaraan jy moet aandag gee om jou spanning onder beheer te kry.

En wanneer jy jou kop op die kussing neerlê, gee al jou bekommernisse vir Hom!

6 maniere om die regte besluite te neem!

Jy moet elke dag keuses maak. Sommige is maklik, want dis óf reg óf verkeerd. Maar wat as jy ’n moeilike besluit moet neem? Doen dit so:

Bid en word stil, want dit sal jou help om die regte antwoord te hoor.

  • Wees gehoorsaam aan Sy reëls; dit is ’n goeie aanduiding van die regte besluit.
  • As daar nie duidelike riglyne is nie, hou by jou beginsels en dit wat vir jou reg voel.
  • Aanvaar as Hy jou wil lei en moenie daarteen baklei nie. As jy dit doen, sal dinge in plek begin val.
  • Kry hulp by ander geestelike leiers wat jou kan help om jou keuses te maak of Sy wil raak te sien.
  • Wees sterk in jou geloof en wees bereid om geduldig vir ’n antwoord te wag. Dit sal kom wanneer dit moet, nie wanneer jy dit wil hê nie. Moenie oorhaastig wees nie.