Stukkie hemel via Worcestor

Soms op die langpad kom daar onverwagste engele. Dit is nou spesifiek die keer oppad Worcestor toe.

Ek het ingedraai by die petrolstasie net voor die dorp en gery tot by die enigste petrolpomp wat oop was. Dadelik kom ‘n lang man teen my venster staan en sy naamplaatjie sit netjies teen sy bors vas, wat lees Earl. “Goeie middag Mevrou, wat kan ek vandag vir u doen?” vra hy beleefd.

Sy hele wese spreek van optimisme en sy energie straal vriendelik en gewillig uit om my te help met enige voorstel wat ek het vir goeie diens. “Sal jy asb vir my volmaak, unleaded en sommer die olie en water ook check…en dit sal regtig gaaf wees as jy die venster vir my ook sal kan skoonmaak asb?”

Hy antwoord dadelik “Check, check, check!” en glimlag breed terwyl hy om my motor loop. Hy laat dit lyk asof geen take vir hom moeite is nie. Terwyl ek sit en wag, soek ek in my motor kajuit ‘n ander CD wat ek vir die res van die orige stuk pad na my bestemming wil luister. Iets rustigers, want die kinders se CD raak nou te raserig na my smaak.

Ek haal die CD uit om die ander een in te sit, maar die CD speler gryp die CD terug en die musiek kotteljons kliphard. Ek gryp na die volume knop en draai dit sagter maar die volgende oomblik staan Earl langs die venster. “Ek hou van daai musiek” sê hy. “Ek is bly om te hoor u luister sulke musiek” Hy verwys na die “praise en worship” woorde wat hy gehoor het tussen die jolige ritme. Ek glimlag en vra vir Earl.

“Earl, wanneer het jy van sulke musiek begin hou?” Hy begin sy storie vertel en uit hom straal daar innerlike tevredenheid wat jy definitief nie kan koop by die eenstop winkel nie. Dit is daardie vrede om te weet jy is werklik ‘n kind van God. “Mevrou 5 jaar terug was ek op dwelms, ek wou selfmoord pleeg omrede ek nie geld by my ma kon kry om tik te kan koop nie.” Hy kyk ernstig en sy oë vol emosie.

“Ek het wakker geword in Tygerberg hospitaal en moes dood gewees het omdat ek rottegif gedrink het, en dit voor my dogtertjie, girlfriend en my ma!” Earl se oë skiet vol trane, maar dankbare trane en hy vertel sy storie verder met entoesiasme. Die ander petroljoggies skarrel om ons, maar hy hou nie terug nie, almal hoor hoe hy getuig en dit lyk asof hulle al gewoont is daaraan dat hy so gesels en kuier-kuier die kliënte in die motors help.

Ek hou van Earl en sy opregtheid trek jou in. “Mevrou, hulle het gesê ek sal nooit weer kan loop nie maar die Here het my aangeraak want 10 dae later toe stap ek uit die hospitaal want God het my ontmoet” Sy woorde sny diep, meeste sê altyd dat hulle het God ontmoet, maar Earl het besef dat hy was nie eers in staat om in sy toestand iets te doen nie, maar Jesus, uit Sy genade, moes kom na hom, en Hy het.

Earl eindig sy storie af “Mevrou, vandag as die manne my sien vra hulle my rook jy nog want hulle kan nie glo hoe ek was en nou nuut is nie. Ek is getroud met die ma van my kind en ek maak my huis vir die Here groot.” Earl borrel oor en hy is vol van dankbaarheid en liefde vir Jesus. Dit is aansteeklik en hy laat jou deel hê van daardie opwinding soos hy sy storie weer beleef.

Dit is asof ek spontaan saam juig oor die lewe in hom. Sy sterk hande en lang vingers vat my kontant en hy vertel verder hoe hy nou ander mense vertel van sy wonderwerk in sy lewe. Hy beïnvloed hulle so dat hulle ook hul lewe wil omdraai. Natuurlik is dit nie altyd net gemaklik vir hom nie, hy moet vertrou en bly reg leef al kom die uitdagings. Ons bemoedig mekaar om vas te hou en die vreemdeling word soos ‘n familie lid wat ek al jare ken soos ek aan sy arm raak.

Die tyd kom dat ons moet groet. “Eendag kuier ons verder in die hemel, Earl” sê ek vir hom. “Ja mevrou, tot dan, vertel ons almal van die hemel”. Ek het weggery met ‘n verwagting en dink by myself dat ek ‘n stukkie hemel nou beleef het in ons gesprek. Ek het die musiek se volume knop kliphard gedraai en saam met die CD gesing.

Ek het gedink dat ek ook ‘n stukkie hemel vir ander wil wees, soos Earl vir my was. As ek weer Worcestor toe ry het ek myself voorgeneem dat ek virseker hom weer sal opsoek tussen die mense wat hy so kuier kuier die hemel wys.

Vorige artikelReënboog potensiaal
Volgende artikelWat is jou hemelse bankbalans?
Blogger - Adri Marais
Adri Marais is sommer net ’n kaalvoet gedig. Haar liefde vir mense en stories vertel, meestal haar eie stories, het ’n passie begin word en pad gevat na miljoene woorde wat maats soek om te inspireer. Hierdie stories vertel van hoop, geloof, liefde, swaarkry en vreugdes. Sy is tans ’n kommunikasiebestuurder en ’n enkelma wat kreatief die lewe liefhet en wil deel om ander op te bou en te bemoedig. Sy hou van die reuk van nat grond na die reën, vars blomme, skoon bedlinne en die gesuis van die wind tussen die grootste bome. Om haar droom uit te leef beteken om ander te kan inspireer deur stories wat leef en ’n nalatingskap los by gewillige lesers. Hierdie stories wat die lig laat sien deur ander se oë en ervaringe om te verstaan waar ware hoop, geloof en moed lê. Stories wat ons uitdaag, meer leer van onsself en te beïnvloed om te verander sodat ons beter mense wil wees. Nie dat sy al die antwoorde het nie, maar deur geloof in Jesus Christus, wil sy meer wees as om deur die lewe loop sonder om ’n verskil te maak. Verhale kleur die lewe in en oral is daar karakters met stories om ons wat die reis interessant maak. Kom saam en vind dalk net jou inspirasie in ’n storie van ’n invloeder. Haar blog se naam is #Rooimat stories.