Stukkies van die Lewe

Soms het my pen geen ink nie. Soms voel ek dat my lewe geen kleur het nie.

Blind soos ‘n mol struikel ek oor alles en almal. Ek smag soms na ‘n bietjie tyd om my hande om ‘n warm koppie koffie te vou. Dit is my laaste bietjie hoop om mens te voel.

Ons almal voel soms of die lewe van plek na plek jaag en wanneer jy kom waar jy wil wees het jy miskien al vergeet wat dit was wat jy wou vind. Dit is alles maar deel van alles – van oomblikke wat ons bestaan vorm. Stukkie vir stukkie gebeur dit en dat. Oomblik vir oomblik gebeur alles en nog wat, terwyl jy jou kop op jou lyf moet hou.

Ek het dikwels al gewonder oor wat my lewensverhaal eintlik werd is want ek sit met ‘n spierwit papier voor my wat vir my hartswoorde wag. Ander skryf liedjies en verhale terwyl ek huil oor verlore kanse en wag vir my woorde. Stukkies van die lewe lê in my hart soos ‘n blom wat dors is vir water.

Wag…want om te wag is die wagwoord. Die stukkies van die lewe vorm vir ons elkeen ‘n verskillende prentjie. Dit is ‘n legkaart. Dit neem tyd. Dit verg soms kuns. Maar ek en jy het ‘n boodskap om te deel, ‘n legkaart om te voltooi.

Al voel dit of jou kop jou vooruit hardloop en jou hart nie weet hoe om te volg, die stukkies van jou lewe is belangrik. Elke oomblik wat jy deel met jou geliefdes is belangrik. Elke woord wat jy spreek dra gewig. Elke stukkie van jou lewe is deel van ‘n groter prentjie.

Ek skryf vandag weer vir die eerste keer na ‘n baie lang tyd van stilte. Ek weet nie of sê ek juis iets wat sin maak nie. Dit is dalk maar net ‘n legkaart stukkie…