Styg uit bó jou omstandighede

1416
The Message Trust

The Message Trust inspireer jongmense uit arm gemeenskappe en mense wat in die tronk is, om hulle te bekeer en bo hulle omstandighede uit te styg.

Mense is dikwels bang vir en vreeslik lelik met iemand wat arm is of dalk ’n kriminele rekord het. Tog is ons almal net ’n produk van ons omstandighede, maar dit hoef nie jou toekoms te bepaal of in jou pad te staan om iets ongeloofliks te bereik nie.

Die organisasie se hoof, Tim Tucker, vertel: “Ons passie is om jongmense in Afrika se leierskapseienskappe te ontwikkel en hulle mentor te wees, daarom het ek die boek The Pace Setter geskryf. Sendingwerk is al vir jare ons passie en het deel geword van The Message Trust om die eerste Afrika-tak in die Kaap te begin.”

Die hoofdoel is om God se boodskap te versprei en ’n omgewing te skep waarin jongmense met ’n hartseer verlede kan floreer, sodat hulle die oplossing is en nie deel van die bestaande probleem nie.

Daar word gereeld projekte in arm gemeenskappe en ook tronke begin en werk word ook binne die organisasie geskep. The Message Trust se werk is om die potensiaal in minderbevoorregte gemeenskappe en tronke raak te sien en God se boodskap met die mense te deel.

Hulle help diegene wat wil wegkom van dwelms en bendes af of uit die tronk gekom het, om op die been te kom en produktiewe lede van die samelewing te word. Hulle wil jongmense laat besef dat God hulle kan gebruik om ’n verskil in die wêreld te maak.

Buiten vir spanne wat binne gemeenskappe en tronke werk en hulle koffiewinkel, het die Trust ook ’n kurrikulum ontwikkel om mense te help om hulleself te vind, hulle van bendes en misdaad bewus te maak, en hulle met nuttige lewensvaardighede toe te rus. Werk word geskep met ’n spesiale Gangstar Enterprises-projek.

Hulle glo dat elke jongmens op soek is na ’n doel en wil hulle leer om Suid-Afrika ’n beter plek te maak.

’n Pragtige getuigskrif van hulle goeie werk is Mthetheleli Ngxeke se storie, omdat hy nou self kan teruggee aan sy gemeenskap. “Ek het altyd opgesien na die bendelede in die gemeenskap waarin ek grootgeword het. My pa het my mishandel en ek het aanvaarding op die verkeerde plek gaan soek.

“Die keerpunt was toe ek tronk toe is vir roof en moord. Daar het ek my hart vir die Here gegee en het ek besluit dat ek ’n beter mens gaan wees as ek uitkom. The Message SA se entrepreneursprogram het my gehelp om werk te kry nadat ek vrygelaat is. Vandag help ek hulle om vir ander dieselfde hoop te gee. Ek wil eendag my eie mentorskapprogram hê.”

Xola het ook hier ’n tweede kans gekry en getuig: “Toe ek jonger was, het ek nie hoop gehad vir die toekoms nie. Ek was deel van ’n bende en het dwelms gebruik en gedrink totdat ek later nie meer geweet het wie ek is nie.

“Nadat ek tronk toe is vir die onwettige besit van ’n vuurwapen, het ek besluit dat my lewe moet verander. Dis toe dat ek besluit het om vir The Message SA se program in te skryf en ek het ook my hart vir die Here gegee. Deesdae werk ek by hulle Mess Café en is ook ’n mentor vir weeskinders.”

Almal verdien ’n regverdige kans op ’n gelukkige toekoms, ongeag hulle donker verlede. Vind uit hoe jy iemand se lewe kan verander by message.org.za, skakel 021 685 1535 of volg hulle op sosiale media by @message_trust_sa.

Stories van hoop word aangebied in samewerking met Mergon.