Sukses en status beïndruk God nie

0
52
sukses.jpg

Dis nie net Nobelpryswenners wat die wêreld beter maak nie. Jy kan ’n instrument van liefde wees.

“Meer is meer,” skree die wêreld. “Jy kan net raakgesien word as jy op groot skaal ’n verskil maak!” Nou dink jy dalk ook dat jy iets gróóts vir die Koninkryk moet doen. Jy glo dat om ’n gelowige te wees ook beteken dat jy belangrike dinge moet doen, dat jy jou geloof in jou status moet bewys.

Dalk het jy al probeer om iets groots vir jou geloof te doen en dit nie reggekry nie. Miskien is jy reeds besig met dienswerk, maar dit voel onbenullig. Of jy doen niks, want jy sal tog nie genoeg impak maak nie.

Om groot projekte aan te pak veroorsaak stres en frustrasie. Dis onnodige druk wat jy op jouself plaas. God het ’n beter plan vir jou: doen klein dingetjies. Hierdie sewe alledaagse veranderinge kan die groot verskil maak waarna jy so streef.

1. Skep jou eie definisies van “groot” en “belangrik”

Die aktrise Mandi Baard sê dis menslik om suksesvol te wil wees. “Maar dit kan in ’n oogwink weggeneem word. Die lewe het my ook geleer dat dinge nie net goed uitwerk danksy my aandeel nie. Daar is ’n groter krag agter die skerms wat jou pad bepaal.”

Laat jou geloof bepaal watter werklik buitengewone dinge jy wil bereik. Dis tydmors om prestasies na te jaag wat mense op jou afdwing. As daar nie werklike mense is wat werklike eise aan jou stel nie, dink jy dalk namens die sogenaamde “hulle” in jou kop. Jy dink mense dink sus en so, sonder tasbare bewyse.

Wat jy dink “die mense” van jou verwag, is heel moontlik ’n skeefgetrekte persepsie. Dit is iets wat jy kan verander. Dink aan hoe Jesus gewerk het.

Hy het die meeste van sy tyd saam met ’n klein groepie mense (sy dissipels) deurgebring. Hy het inderdaad asemrowende wonderwerke gedoen, maar Hy het meestal groot waarhede vir sy klein groepie geleer deur gewone dinge soos gesels, eet, visvang en stap.

Gooi jou uitgedinkte lysie van verpligtings-vir-die-Here weg. Fokus eerder daarop om elke dag met integriteit jou geloof te wys. Dit kan insluit om pligsgetrou huishoudelike takies te verrig; om vriendelik te wees met die mense wat jy teëkom. Dis dié tipe (oënskynlik klein) dinge wat regtig vir Hom belangrik is.

[pagebreak]

2. Wees wie jy geskep is om te wees

Hou op om wat jy doen en bereik, met ander mense te vergelyk. Fokus op die plan vir jou lewe, nie ander mense s’n nie. Jy weet wanneer jy doen wat goed en reg is vir jou: jy voel gemaklik met jouself. Jy het ’n rustigheid in jou (al is jy besig). Jy kan bid met vrede in jou gemoed.

Hoekom sal jy dan dit wat vir jou werk, begin weeg en tel? Dit sal bes moontlik onrustigheid en ’n gevoel van ontevredenheid in jou wakker maak. Al dink ander mense jy is met onbelangrike dingetjies besig, jy en wat jy doen, is uniek.

Elke mens het ’n bydrae om te maak in die wêreld. Party s’n word toegejuig deur die media, die samelewing of die kerk. Ander s’n vind geruisloos en onsigbaar plaas. Selfs al kry jy nie baie erkenning nie, God sien jou en jou bydrae raak. Besluit dat dit vir jou genoeg is.

3. Maak nuwe reëls oor wat sukses is

God alleen bepaal die reëls vir wat sukses beteken. Jou eie idees van wat moet gebeur sodat jy jouself suksesvol kan noem, is onbetroubaar. Jy kan bid vir sukses, maar doen dit sonder voorskrifte oor die hoe, waar en wanneer. Verwag die onverwagte en wees oop vir veranderings.

“Televisie is my eerste liefde,” vertel Mandi. “Dit het gevoel asof iets uit my geskeur word toe Egoli, die gewilde sepie wat deel van my was, sy laaste sug gee. ’n Droomwerk by ’n maatskappy het wel daarna my kant toe gekom, maar ek het bly wonder of dit die regte besluit was. Ek het lank hartseer gebly. Toe gebeur daar iets wat vir my gewys het dat daar tog ’n plan met alles is.

“Ek het veldaanbieder by ’n televisiejoernaalprogram geword. Dis nie dieselfde as aktrise wees nie, maar dis voor die kameras! Ek het weer ’n voet in die bedryf gehad. Dinge het mooi uitgewerk: My baas het ingestem dat ek dit tussendeur my ander werk kon doen.

“As die regte geleentheid in jou skoot val, moet jy dit aangryp. Soms wys die Here net vir jou dís die plek waar jy moet wees.”

4. Weerstaan die behoefte om raakgesien te word

Waaraan meet jy jou waarde as persoon? Aan bonusse, verhogings en bevorderings by jou werk? Aan hoeveel Facebook-kontakte jy het? Aan die getal komitees en diensgroepe waarby jy betrokke is? Hoeveel keer jy gevra word om funksies te reël? Hoeveel mense jy al tot bekering gelei het?

Jy kan goed voel oor jouself net omdat jy God se kind is. Doen wat sy Naam grootmaak en jou gelukkig maak, nie wat mense sal beïndruk nie. Jy het hemelse status. Aardse prestige is nie die maatstaf waaraan jy jouself moet meet om goed te voel oor wie jy is nie.

[pagebreak]

5. Skuif jou fokus van doen na wéés

In Engels praat mense van being rather than doing. Mandi sê sy is beslis ’n doener.

“Ek is proaktief en oor die algemeen positief; daarom wil ek altyd iets omtrent ’n probleem of situasie doen. Maar soms moet ’n mens net wéés.

“Toe ek en Schalk (my man) gesukkel het om swanger te raak, wou ek mal word. Ek het álles in my vermoë gedoen om die probleem op te los. Tog het ek eers swanger geraak die oomblik toe ek oorgee, toe ek besef het dat ek as mens nie alles kan doen nie. Toe ek begin het om te wees in plaas van te doen, is my gebede beantwoord.

“Ek dink ons raak so besig met die ‘doenery’ dat ons nie die pad sien wat God vir ons beplan nie. Word stil en wéés net. Makliker gesê as gedaan, maar beslis die moeite werd!”

Jou belangrikste taak in jou geloof is om as mens te groei, om te groei in eienskappe wat soos Jesus s’n lyk. Hierdie eienskappe moet jy uitleef in die gewone dinge van ’n doodgewone dag.

6. Leer die kuns om nederig te wees

Die Bybel is hieroor baie duidelik. Gelowiges moet weet wat ware nederigheid is en dit uitleef. Filippense 2 vers 5 tot 11 is maar een voorbeeld hiervan.

Dis hoe Mandi dink: “Nederig – ’n klein woordjie met enorme betekenis. Alles wat ons het, is en kan doen, is net genade. Ek is soms geneig om die krediet te neem vir dinge wat gebeur. Ja, ek moes my kant bring en ek het hard gewerk daarvoor, maar dit bly altyd genade. Ons is geneig om mense te klassifiseer volgens wat hulle verdien en nie verdien nie. Wie gee ons die reg om dit te doen?

“Wat van ons tel elke seëning en wees dankbaar vir wat ons het? Die dag dat nederigheid groot word, word ek klein, maar my hart en siel word gevoed deur dankbaarheid. Dankbaarheid vir alles wat ek het, maar ook eintlik nie verdien nie.”

Jy kan werk aan jou eie nederigheid. Luister na die mense wat jou foute ken en jou nogtans liefhet. Hulle hou jou plat op die aarde sonder om jou af te breek.

Aanvaar dat swaarkry ook deel is van jou lewe. Dit hou jou nederig en leer jou kosbare lesse.

God het nie nodig dat jy allerlei dienswerk doen nie, maar hoe jy as mens hierdeur groei, maak sy Naam groot en getuig van sy liefdevolle versorging.

7. Bid dat jou gewone dinge buitengewoon sal wees

Wanneer jy bid, nooi jy God uit om betrokke te wees by die dinge waarvoor jy bid. Hy maak alles waarvoor jy bid, beter. Moenie net vir jouself en jou eie werk(ies) bid nie. Noem jou familie, vriende, kollegas en medegelowiges by die naam. Jy kan selfs vir mense bid wat jy nie ken nie, maar wat in die nuus of op sosiale media is. Jou paar woorde kan die impak wat hulle maak, vergroot, al weet hulle nie eers van jou nie.

“’n Gebed kan klein wees met net ’n paar woorde, maar die krag is enorm,” glo Mandi.

“Mense is geneig om te dink daar moet ’n spesiale okkasie geskep word om te bid. Dan moet jy boonop ’n indrukwekkende woordeskat gebruik. Nee! God is hier, nou! Hy is by jou as in jou kar ry. In ’n hysbak, by die gim, voor die TV. Hy wag vir jou om met Hom te praat, maar vir my beteken bid meer as praat. Dis luister. Ek sukkel soms om sy stem te hoor, maar gelukkig is Hy geduldig.”

Vertaal en verwerk uit Go small: Because God doesn’t care about your status, size, or success deur Craig Gross.