Surprise

Ek en my groot vriend van laerskooldae gym saam. Dis nodig. Dis bitter nodig, want tussen die twee van ons dra ons ’n derde persoon se gewig saam.

Tog is dit vet pret (no pun intended!) en daar gaan amper nie ’n oomblik verby dat ons nie vir mekaar probeer poetse bak nie. So weeg ons ons elke week op ’n fênsie skaal wat sommer jou vet en spiere en alles weeg.

Ons het vir ’n ruk nie geweeg nie, want ons het geweet ons is ’n paar etes voor en die nuus gaan nie goed wees nie. So motiveer ons mekaar om tog na weke weer na die hoek te sluip en op die dekselse masjien te klim. Terwyl my vriend die skaal bestyg, sit ek skelmpies my voet op die skaal. Sy oë het omtrent uitgepop toe hy sien dat hy ewe skielik 10 kg meer weeg. Ek het amper op die vloer rondgekruip van die lag, maar sy verligting was groot toe hy sien dat hy darem ’n kilogram verloor het.

Ja, baie keer kry ons ’n verrassing as ons op die skaal klim. Gelukkig kan ons darem die meeste van die kere iets daaromtrent doen. Daar is egter ander verrassings waaraan ’n mens nie veel kan doen nie. Te laat is dan te laat.

Eendag, terwyl Jesus besig was om met sy volgelinge te praat, vra een hom hoe dit by die hekke van die hemel lyk: Matteus 7:23By een van hierdie plekke het iemand Hom gevra: “Here, hoeveel mense gaan ’n plek kry in God se nuwe wêreld? Seker maar min?” 24“Ja, jy is reg. Baie mense sal probeer om daar in te kom, maar hulle gaan dit nie maak nie. Dit is nie maklik om daar in te kom nie.”

’n Paar ouens gaan ’n groot surprise kry. Baie is seker dat hulle die cut gaan maak. Baie glo dat hulle redding net deur genade kan kom. Hulle maak so staat op hulle geloof dat hulle dink hulle gaan loshande by die hemelse hekke instap. Tog is dit nie so nie. Jesus sê dat daar nie so ’n dik stroom mense deur die hekke gaan beweeg nie. Nie almal wat: “Here, Here” sê gaan noodwendig in die hemel toegelaat word nie.

My vriend se verrassing daar in die gym was ’n lekker een, nadat ek my voet van die skaal afgehaal het. Die vraag is egter of ek en jy daar by die hekke van die hemel in is vir ’n verrassing.

Mag dit ’n goeie een wees.