Suzelle maak skoonheidsrome tuis

0
248
suzelle_diy.jpg

Suzelle, die huisvrou wat ’n internetsensasie geword het, wys hoe jy skoonheidsrome in jou kombuis kan maak.

Baie mense sê vir my: “Suzelle, hoe hou jy jou vel so pragtig en jou hare so blink?” Nou ja, dit is maklik! Hier is ’n paar van my vinnige selfdoenresepte wat jy kan maak om heeltyd pragtig te voel.

Ek volg hierdie drie stappe elke Sondagnamiddag. Ek nooi ook my beste vriendin, Marianne. Ek ken haar al van standerd ses af. Dan doen ons dit saam.
Dis soos om spa toe te gaan, maar jy hoef nie eers uit jou huis te gaan of geld te spandeer nie.

Maklike koeksodagesigreiniger

Koeksoda is ’n wonderlike ding. Dis ongelooflik veelsydig in die huis, die kombuis en in jou skoonheidsroetine. Daarom gebruik ek dit graag as gesigreiniger.
1 Meng ’n teelepel koeksoda met een eetlepel heuning in jou handpalm en voeg ’n paar druppels water by.
2 Masseer die mengsel oor jou gesig in klein sirkels, maar vermy die oogarea.
3 Spoel dit af met warm water en druk jou vel sagkens droog met ’n handdoek.
Jou vel sal glad en verfris voel en jy sal skitter soos ’n diamant!

Vinnige avokadomasker vir jou gesig

Avokado’s is ’n uitstekende bron van vitamiene en minerale wat besonder goed is vir jou vel.
1 Klits ’n halwe avokado saam met die sap van ’n halwe suurlemoen en een eierwit in ’n elektriese menger.
2 Smeer die mengsel aan jou gesig. Los dit daar vir 15 minute. Lees intussen FINESSE.
3 Spoel jou gesig af.
Jou vel sal bevogtig en soepel voel. Onthou, jy kan altyd dit wat oorbly, vir ʼn dag of twee in die yskas hou. Moet jou net nie misgis en dink dis guacamole nie!

Kokosneutmasker vir jou hare

Kokosneutolie is nog ’n skoonheidswonder. Jy kan jou gesig en jou lyf daarmee bevogtig. Jy kan selfs daarmee kook as ’n gesonder keuse in plaas van sonneblomolie.
1 Om ’n vogmasker vir jou hare te maak, benodig jy die eiergeel en die ander helfte van die avokado wat oor is van jou gesigmasker. Meng dit met ’n eetlepel kokosneutolie.
2 Wend dit aan jou hare en masseer dit in jou kopvel in. Draai jou hare in kleefplastiek toe. Ek vra Marianne om my hiermee te help. Los dit aan vir minstens ’n uur.
3 Was dit uit jou hare met sjampoe.
Jou hare sal sag en blink voel net soos die dames in die TV-advertensies s’n. En wie wil nie soos ’n tropiese eiland ruik nie!

“As jy van my nuttige selfdoenvideo’s wil sien, teken in op my YouTube-kanaal SuzelleDIY. Want enigiemand kan!”