Swaar dra … met grasie!

Sy is een van vier studente wat ‘n kollega help om bokse met boeke na sy kantoor toe te dra.

Wat haar laat uitstaan, is die feit dat sy nie soos die ander drie die boks langarm voor haar dra en ongemaklik vorentoe skuifel nie. Nee – háár vrag is op haar kop, en terwyl sy saam met die ander drie gang-af beweeg, is albei haar hande vry. Haar slanke hande en lang vingers gesels geesdriftig saam met haar gesig en lyf en illustreer die storie wat sy vertel.

Ek keer haar voor en vra (grappenderwys, maar eintlik is ek ernstig!) of sy my ook sal leer om ‘n vrag só te dra. Sy lag wittand en vat-vat aan my kop. Die oordeel is darem redelik neutraal: “Maybe, Ma’am, it’s not too round!” Ons lag lekker saam en ek vertel hoe ek al probeer het om met boeke op my kop te loop (het ons nie almal as tieners nie?) maar nie juis sukses gehad het nie. Sy skud haar kop simpatiek en vertel trots dat sy sonder om te rus, ‘n kan met 20 liter water vir meer as ‘n kilometer op haar kop kan dra.

Met die wegstap kyk sy terug (haar boks wankel nie eens nie) en deel glimlaggend nog ‘n laaste stukkie streek-spog met my: “Most girls from the Eastern Cape can do this!”

Agterna wonder ek … hoekom moes sy 20 liter water dra? Waar? Wanneer? Hoekom so ver?

Ek moet by haar leer om my vrag só te dra – met trots, met ‘n glimlag, en sonder dat dit my grasie of ritme versteur. Al is dit dalk swaar, moet ek trots wees op die feit dat ek dit, én nog meer as dit nodig is, kan dra. Ek hoef nie ander te belas met die swaarkry wat my geleer het om dit te kan doen nie – nee, ek moet eerder trots wees op die feit dat dit my sterk gemaak het. Ek mag ook nie vergeet dat ek nie enigste een is wat iets (wat dit ookal is) moet saamdra nie.

En as ‘n bonus kan ek probeer om my las só te dra dat my hande vry bly, sodat ek kan uitreik na ander, saggies kan vat en taktvol kan oordeel. Want per slot van rekening gaan dit hier tog bo alles oor balans, né?