Sy betower hom

0
15
liefde_met_passie.jpg

“Jy is mooi, my liefling,
jy is mooi, jou oë is duiwe
agter jou sluier.
            Jou hare is soos ’n trop bokke
wat teen die Gileadberge afkom.
   Jou tande is so wit
soos ’n ry pasgeskeerde skape
wat nou net skoon gewas is,
elkeen met ’n tweeling,
nie een sonder ’n lam nie.
   Jou lippe is soos skarlakenrooi lint,
jou mond bekoor my.
   Die versiersels op jou voorkop
is soos granaatpitte
agter jou sluier.
   Dié aan jou nek
is soos die Dawidstoring
wat uit rye klip gebou is;
aan hom hang duisend skilde,
al die skilde van die helde.
   Jou twee borste is soos takboklammers,
soos die tweeling van ’n ribbok
wat tussen die lelies wei.
   Wanneer die aandwind begin waai
en die skaduwees lank word,
wil ek na my mirreberg,
my wierookheuwel, toe gaan.
   Alles aan jou is mooi,
my liefling,
aan jou is niks verkeerd nie.”
(Hooglied 4:1-7)

Hierdie man is in algehele vervoering oor sy vrou. Hy kan sy oë nie van haar afhou nie. Sy betower hom so met haar skoonheid dat hy selfs twee keer direk na mekaar (v. 1) uitroep: “Jy is so mooi.” En hy sluit ook hierdie liefdesgedig af met die woorde: “Alles aan jou is mooi.”

Agter die sluier

Tipies soos die Oosterse vrou, is hierdie vrou gesluier. Maar haar sluier is deurskynend sodat hy haar glansende oë daardeur kan sien. Haar oë laat hom aan duiwe dink. Maar hoekom aan duiwe? Hieroor is daar al baie kop gekrap. Sommige teoloë dink dit is omdat die vorm van duiwe baie lyk soos die kontoere van die oog. Ander meen weer dit is die blougrys kleur van die duiwe wat soos haar oë lyk. Party reken dat die meisie haar ooglede laat fladder, en dit laat haar minnaar dink aan duiwe wat hulle stertvere op en af wip. Maar ons weet ook dat die duif in beide die geskrifte en die kunswerke van die antieke mens met romanse en liefde geassosieer is. Dit is ook vandag nog waar. Ons hoor byvoorbeeld dikwels dat iemand sê ’n verliefde paartjie sit met mekaar en koer soos twee duifies. Dit lyk dus of die man in die gedig eintlik net wil sê dat sy beminde se oë liefde en romanse uitstraal. En hy kan dit sommer deur haar sluier sien.

Bokke en skape

Die man sê verder dat sy vrou se hare hom aan ’n trop bokke laat dink wat teen die Gileadberge afkom. Die gebied by die berge van Gilead was bekend vir sy kleinvee (kyk Miga 7:14). Die bokke was swart.

[pagebreak]

En hierdie vrou se hare is gitswart. Wanneer die trop swart bokke teen die hange van die berge afkom, maak dit sulke golfbewegings. En ook hierdie vrou se lang hare wat teen haar rug afhang, maak die mooiste golfbewegings.

Daarby is haar tande “so wit soos pasgeskeerde skape wat nou net skoon gewas is, elkeen met ’n tweeling”. Ek wonder of jy gevlei sal voel oor so ’n kompliment! As ons egter die agtergrond verstaan, sal ons gou sien waarom dit as ’n besonderse kompliment beskou is.

In die eerste plek kontrasteer die vrou se spierwit tande met haar pikswart hare. Maar ons lees ook dat haar tande “soos skape” is, “elkeen met ’n tweeling”. Hiermee bedoel die man net dat die vrou nog al haar tande het. In die antieke wêreld het hulle nie die goeie tandheelkunde gehad wat ons vandag het nie. Dit het dus meegebring dat baie mense dikwels op ’n jeugdige leeftyd van hulle tande verloor het. En ’n vrou met ’n paar vermiste tande is allermins mooi. Maar hierdie vrou het nog ’n pragtige stel spierwit tande – ’n volledige stel!

Terwyl die man so met kleure doenig is, en sy vrou se swart hare en haar wit tande besing, noem hy sommer in dieselfde asem ook haar rooi lippe. Watter asembenewende kleurskema is dit nie! Rooi was immer die kleur van sensualiteit.

Die res van vers 3 is ’n bietjie moeilik om te verklaar. Die NAV sê “die versiersels op jou voorkop is soos granaatpitte” terwyl die OAV praat van “u slape is soos ’n granaatskyf deur u sluier heen”. Eintlik praat die Hebreeus van “sagte dele”, daarom dat die OAV dit met “slape” vertaal. Maar die nuutste navorsing laat teoloë dink dat “sagte dele” eerder na die binnekant van haar mond verwys. Die vrou tuit haar lippe amper soos ’n granaat wat net so effens oopgebars het. En as sy dit doen, kan ’n mens die sagte binnekant van haar mond sien. Sy is dus boonop uittartend met haar seksualiteit. Sy lyk baie soos die moderne plakkate wat ’n seksueel uitdagende vrou met haar tuitende rooi geverfde mond uitbeeld. Daar is voorwaar niks nuuts onder die son nie!

Haar nek is soos die Dawidstoring waaraan ’n klomp skilde hang (v. 4). Die Dawidstoring was ’n belangrike gebou. Sommige geleerdes dink dat sy ’n lang,  slanke nek het en dat dit daarom met ’n toring vergelyk word.

[pagebreak]

Maar die fokus van die vergelyking is eerder die skilde wat aan die toring hang. Ons weet dat dit in die antieke wêreld gebruiklik was vir soldate om hulle skilde aan ’n gebou op te hang. Daarmee het hulle getoon dat hulle bereid was om die bepaalde gebou tot die dood toe te verdedig (kyk Eseg. 27:11). Dit lyk dus of hierdie man sy beminde vergelyk met ’n stad of gebou wat nog nie “ingeneem” is nie. Sy is nog deur geen man “ingeneem” nie, sy moet nog verower word. Hierdie beeld verhoog dus haar sensualiteit.

Boklammers en lotusblomme

Die minnaar is nou behoorlik opgewarm. Hy vergelyk haar borste met twee takboklammers (v. 5). Hulle is “soos die tweeling van ’n ribbok”. Daarmee bedoel hy haar borste is ewe groot. En soos takboklammers deur die veld huppel, is haar borste nog ferm en “springerig”. Dit lyk of hulle tussen die lelies wei. Die Hebreeuse woord wat hier met “lelie” vertaal word, moet waarskynlik eerder “lotusblom” wees. ’n Lotusblom was ’n simbool van lewensenergie en krag. Hy sê dus dat haar jong, ferm borste lewenskrag en energie uitstraal. Daarom dat hulle hom so bekoor.

Soos in die geval van ander liedere in die boek Hooglied, sluit hierdie een ook af met die man se begeerte om seksueel met sy vrou te verkeer. Daarom sê hy dat as dit aand word, hy graag by haar wil wees (v. 6). Hy wil dan na sy “mirreberg” toe gaan. Hy verwys ongetwyfeld na haar geslagsdele. Hy wil by sy “mirreberg” wees, dit wil sê sy “Venusheuwel”, oftewel haar skaamdele, want hy wil met haar seks hê. Hy noem dit ook sy “wierookheuwel” omdat haar liggaam baie lekker ruik. Dit was baie algemeen vir meisies om hulle hele liggaam te bedek met die duurste parfume wat uit die Ooste ingevoer is. Ons lees mos in Hooglied 1:13 dat die vrou selfs ’n sakkie parfuum tussen haar borste gedra het.

Soos die man sy liefdeslied begin het, sluit hy dit ook af: alles aan sy beminde is mooi; daar is absoluut niks verkeerd aan haar nie. Net soos die offers wat aan God gebring is, volmaak en sonder gebrek moes wees, so is ook hierdie beminde van hom sonder enige gebrek. Natuurlik is sy ook mens, en het ook tekortkominge. Maar die verskil is dat hy so lief is vir haar dat hy niks daarvan raaksien nie. Vir hom is sy perfek.