Sy dra mense deur hul diepste pyn

0
73
begrafnis_onderneming.jpg

Sonja Smith se begrafnisgroep bring vir haar vervulling deurdat sy mense se hartseer kan vertroos.

Ek het in die begrafnisbedryf beland nadat ek ’n TV-program oor die dood op Carte Blanche gesien het. Daarna het ek ’n begrafnisonderneming besoek en gesê: “Wys my. Ek wil sien wat gebeur agter die toegetrekte gordyne.” Ek het aanvanklik by die groot name in die begrafnisbedryf gaan leer. Dis nou 18 jaar later en my franchises word nou landswyd gevestig.

Die bedryf is vir my ’n roeping. Mense noem ons die begrafnisondernemers met fluweelhandskoene. ’n Vrou se sagte hand in ’n tyd van verdriet straal sorg en omgee uit. Dit was een van my drome om ’n behoorlike babakamer te hê. Ons gee die mamma die geleentheid om die baba aan te trek en vas te hou. Dié ouers kom soms tot drie keer terug.

Die grootste uitdaging van ’n begrafnisonderneming is om die dood deur ander mense se oë te sien. Soms moet ons die trane sluk en hard keer om nie saam met die mense te huil nie. Moord- en selfdoodgevalle is vir my die ergste, asook die kindertjies. Die ure is ook ’n groot uitdaging. Ek het al aangesit by ’n Kersfeesete, dan lui my foon en iemand is dood. Wat ek hoop kliënte deur ons diens beleef, is dat ek hulle gehelp het om ’n betekenisvolle begrafnis te reël, een wat onthou sal word. Ons het byvoorbeeld begin om begrafnisse in die aand te doen. Seweuur saans in ’n kerk waar die ligte sag gedemp is, met kerse en koormusiek. As jy mooi daaraan dink, hoekom nie? Niemand hoef verlof te vra by die werk nie, so, almal kan dit bywoon.

In enige besigheid is kreatiwiteit nodig. Ek doen dit deur gereeld navorsing te doen oor wat in die res van die wêreld in die begrafnisbedryf gebeur. Dus laat ons nuwe konsepte oorspoel na Suid-Afrika. Die feit dat ek ’n stokperdjie soos fotografie beoefen, stimuleer ook my kreatiwiteit. Die gedig “Lugtig” deur Lucas C. Malan is baie spesiaal en inspirerend vir my bedryf: “Waar iemand doodgaan, skeur die lug” is die eerste reël.

Die een ding waarvoor ek die dankbaarste is, is die gawe om met mense om te gaan wat ’n geliefde aan die dood afgestaan het – ongeag uit watter deel van die samelewing hulle kom. So het ek al ministers, ambassadeurs, professore en boemelaars begrawe. Al jou status en geld verdwyn wanneer jy by my onderneming opgeneem word. Begrafnisse is anders (of moeiliker) om te bemark, want ons praat deesdae van ’n grudge- besigheid. Niemand staan een oggend op en wil uit vrye wil die begrafnis van ’n geliefde reël nie.

Maar ek poog om heeltyd op hoogte van nuwe dinge te bly en innoverend te wees. Ons was van die eerstes wat met ekovriendelike begrafnisse begin het, met ons kiste wat van natuurlike stowwe geweef is. Nou volg ander ons.