Sy verf haar verlange toe

0
249
verf.jpg

Verf, ’n skilderdoek en ’n kwas is op sigself niks. Totdat jy iets daarmee doen. Die lewe is ook so, het Marié Holtzhausen besef. As jy wil hê iets moet beter wees, máák dit beter.

Een vir een skep haar hand die skaduwees op die doek. Kleure. Kontras tussen lig en donker. Soos sy werk, kry die gesig voor haar lewe.
Die verf beweeg oor die doek in lyne wat ’n storie vertel …
Sy meng die kleure versigtig, om seker te maak daar is nie te veel van die een of te min van die ander nie. Om te keer dat dit wat veronderstel is om ’n kleurespel te wees, dood en grys raak. En so skep die kunstenaar ’n komplekse werk, gebore uit eenvoud.

Maar voordat hierdie fotorealistiese kunswerke begin vorm aanneem het, het Marié so byna-byna vergeet sy kan dit doen. As die lewe begin gebeur, is dit immers so maklik om verstrengel te raak dat jy bloot op oorlewing fokus. Dan maak jy daardie stemmetjie in jou stil wat jou roep om die pad te loop waarvoor jy bestem is. As jy egter luister, gaan daar deure oop op plekke waar jy seker was daar is net ’n muur. Vir sommige mense gebeur dit vroeg, vir ander eers heelwat later. Altyd op die regte tyd.
“Ek het op ’n plaas in die Cradock-distrik grootgeword,” onthou sy. Hulle was vyf kinders, twee seuns en drie dogters, maar wanneer dit by plaaswerk gekom het, was daar geen onderskeid nie. “My pa het ons alles laat doen, van skape gaan haal tot trekker ry.” En met derms afkrap, groente skil, koringsakke toewerk en hanslammers bottel gee, is Marié se kunstenaarshande geslyp om ’n kwas sekuur vas te hou.

“Ons het ure in die kombuis gestaan en vrugte inlê en smere maak, en nog so met die kombuis in jou agterkop, het ons jagtyd die springbokke vir my pa gaan aanjaag.” Hierdie grootwordjare is wêrelde verwyder van Marié se lewe vandag, maar dit is waar die fondasie van haar vasbytgees gelê is. En daardie idilliese plaasprentjie is ook wreed ontwrig na ’n plaasmoord. “My ouers is al amper twintig jaar nie meer met ons nie …” vertel Marié in haar skoonheidsalon in Vanderbijlpark.
Marié, wat kleintyd daarvan gedroom het om ’n juffrou te word, kon nie die kreatiewe dryfkrag in haar ontken nie.

[pagebreak] “Na twintig jaar in die onderwys het ek ’n geloofsprong gewaag en my eie skoonheidsalon begin. Ek is mal daaroor om vroue mooi te maak en hulle selfvertroue ’n hupstoot te gee.” Maar daar was ’n ander roepstem in haar hart.

Jare gelede het Marié ook die hartseer van ’n egskeiding beleef, maar in ruil daarvoor het sy ’n ekstra groot gesin gekry. Met haar eie twee kinders en haar nuwe man se twee, was die huis vol. Vol vreugde! Kort voor lank het almal mekaar Boetie, Sussie, Pa en Ma genoem.

Die probleem met ’n vol huis is egter dat dit in ’n stadium weer leeg gaan word. Daar kom ’n tyd wat elke kind sy of haar eie paadjie moet loop.
“Dit is waar,” stem Marié saam, “dat baie huwelike verbrokkel as die kinders uit die huis uit gaan, of jy val self uitmekaar. Ek dink dit gebeur wanneer jy nie gedurende die kindgrootmaakjare ooit iets vir jouself gedoen het nie. Of as jy en jou man nooit alleen saam tyd deurgebring het nie.”

Marié wou egter nie toelaat dat hierdie gevoel van verlatenheid haar oorweldig nie. Toe tel sy haar kwaste op.
Marié is met kunstalent gebore. “Maar ek het op kollege laas geteken!” vertel sy. Op ’n dag het sy van haar ou sketse uitgehaal en die gogga het weer gebyt. Sy het gehoor van iemand wat kunsklasse aanbied en kort voor haar vyftigste verjaarsdag het sy daar ingeskryf. “’n Nuwe wêreld het vir my oopgegaan, en daar was geen keer nie!”
Sy raak liries wanneer sy oor kuns gesels, of dit nou potlood, houtskool, olieverf, pastelle of oliekleurpotlode is. “Ek is gewoonlik met olieverf én iets anders besig, want olie moet kans kry om droog te word.

Marié teken fotorealisties en doen meestal portretstudies. “Vir elke skildery vul ek ’n tydskedule in om te sien hoeveel tyd dit neem. Dis sommer net om te sien of ek met ervaring vinniger begin werk.”
Sy skilder as Marié Hattingh, haar nooiensvan. “Ek voel dis die naam waarmee ek gebore is en waarmee ek die talent ontvang het. Dit het nie eers gebeur toe ek met iemand getrou het nie,” verduidelik sy.
Hoewel sy gewoonlik opdragwerke skilder, het sy ’n kleinood, haar eerste groot olieverfskildery. “Ek sal dit nooit verkoop nie. Daar was tye wat ek gedink het ek gaan dit glad nie regkry nie.

[pagebreak] Die skildery is ’n herinnering aan waar my talent vandaan kom en dat ek dit nooit op my eie sou regkry nie. Dis gevaarlik om op jou talent te roem, dit kan enige tyd van jou af weggeneem word. Al wat dit is, is ’n wonderlike gawe wat ek kan geniet terwyl dit vir my geleen word.”

Wanneer sy skilder, betree Marié ’n wêreld van haar eie. “Dit is ’n plek sonder sorge en bekommernis. Soms wens ek ek kan die tyd laat stilstaan, want dit gaan so ongelooflik vinnig verby wanneer ek in die werk verdiep raak.”

In plaas van om haarself jammer te kry omdat die kinders nou uit die huis is, het Marié die nuwe lewensfase met oorgawe aangegryp. “Ek het regtig nie tyd om verveeld te wees nie!” lag sy. Want behalwe skilder, kan sy orrel speel. “Ek het op hoërskool en kollege by verskeie kerke as orreliste afgelos, en so twee jaar gelede het ek weer die kans gekry. Ons is twee orreliste wat om die beurt in ons gemeente speel.”

Tussen die skoonheidsalon, skilderdoek en orrel kry Marié vir seker nie kans kry om haar te sit en verknies nie. Sy kry soveel navrae om kunswerkswinkels aan te bied dat sy besluit het om dit te doen. Op dié manier kan sy aan ander mense die geleentheid gee om hulle tyd sinvol deur te bring. Dit is ongelooflik wat met jou siel gebeur as jy jou hart uit verf.
“Soms,” sê Marié, “as ek na alles kyk wat om my gebeur, kan ek dit amper nie glo nie! Ek het regtig eintlik net een wens, en dit is dat my ouers al hierdie dinge saam met my kon beleef het.” Maar hulle doen dit tog, dalk net nie op die manier waarop Marié gehoop het nie.

Wanneer sy weer voor die esel gaan staan, kry al haar mooiste herinneringe vorm op die doek voor haar. Al dink sy nie altyd bewustelik aan alles nie, voed dit haar siel soos niks anders kan nie. Terwyl sy netjies seker maak dat elke vorm perfek is, gaan lê daar ’n lagie troos oor al die seerplekke en verlange in haar hart. Dan kry sy die seker wete dat daar oorgenoeg mooi dinge in die lewe is om die lelike dinge mee te beveg. Dis bloot ’n keuse wat jy moet maak: Gaan ek verwoes of gaan ek skep? Gaan ek toelaat dat ek breek of gaan ek begin bou?