Sy’s geroep om prinsesse te maak

0
58
prinses.jpg

’n Goeie fee wat jou wense waar maak? Vir een dogter is Estelle Dannhauser elke jaar presies dit.

Die atmosfeer is met afwagting gelaai. Dis matriekafskeid. Die een jong dame na die ander, wat vroeër die dag nog skooldogters was, word afgelaai. Die motors waaruit hulle klim, is blink en luuks. En elke nou en dan vee ’n ma skelm ’n traan weg wanneer haar meisiekind asemrowend mooi na die saal stap – in haar prinsesrok waaroor hulle maande lank saam gedroom het.

Dan brul ’n groot masjien. ’n Mustang kom aangery, en binne-in sit prinses Arrien. As sy uitklim, vou die persblou materiaal van haar rok perfek om haar lyf. Sy soek in die skare na Estelle se gesig. Haar goeie fee.

“Ek was een jaar saam met ’n groep vrywilligers betrokke by ’n projek wat ’n klompie meisies se matriekafskeiddrome waar gemaak het,” vertel Estelle, wat met ’n stuk lap kan toor. “Die organiseerder van die groep het ongelukkig verhuis, maar toe besluit ek om self daarmee aan te gaan. Sommer informeel en op ’n baie kleiner skaal. ’n Paar wonderlike vriendinne spring altyd in, en so kan ons een meisie per jaar help. Ek wens dit kan meer wees, maar elke bietjie maak ’n verskil.”

Estelle, wat self drie dogters het, word elke jaar nog ’n kind se ma. Deur ’n onderwyser te vra, vind sy uit van ’n meisie wat swaarkry en dan begin die Prinses Projek. ’n Matriekafskeid is een van die mooiste dae in jou lewe, maar vir baie kinders bly dit ’n onmoontlike droom. Hulle ouers sukkel om bloot skoolgeld te betaal, en ’n blink rok en skoene is die laaste ding waarvoor daar geld is. Daarom haal Estelle en haar vriendinne alles uit om vir een kind ’n sprokie te gee.

“Ons reël alles. Eers is daar die opwinding van prentjies kyk. Dan soek ons die materiaal en patroon uit. Omdat ek self klere maak, is die rok eintlik die maklikste. Daar is soveel ander goed wat ons as vanselfsprekend aanvaar, maar wat soos ’n berg voor iemand lê wat sukkel. Soos hare wat gedoen moet word, grimering, naels…en natuurlik ’n fotograaf wat hierdie spesiale aand vir altyd gaan vaslê.”

Verlede jaar het Estelle die kans gehad om haar towerstaf oor Arrien se lewe te swaai. ’n Swangerskap het Arrien se jongmenslewe vroeg omvergewerp. “Ek het soveel bewondering vir haar,” vertel Estelle. “Nadat haar dogtertjie gebore is, het sy teruggegaan skool toe. Ek kan my nie indink hoe moeilik dit moet wees om as enkelouer matriek te skryf nie. Sy is so ongelooflik sterk en ’n baie oulike ma, al is sy nog so jonk.”

[pagebreak] Arrien moes ’n lysie maak van alles wat sy graag vir daardie aand wou hê. “Jong, sy was so verbaas toe ek haar kontak en sê ons wil haar graag help. Sy kon nie glo ons gaan vir haar ’n rok maak én dat sy dit na die tyd kan hou nie! Dis so lekker om te sien hoe iemand elke klein dingetjie waardeer, veral as hulle dit deur en deur verdien.” En dan, op een besonder spesiale dag, kom al die weke se meet en pas, rondry en lag perfek bymekaar.

Teen die kas hang die rok, droommooi in sysagte stof. ’n Entjie verder, aan ’n kleiner hanger, hang iets in dieselfde kleur, maar vir ’n heelwat kleiner lyfie. Want as Mamma mooi aantrek, moet haar Poplap ook! Die skoene en handsakkie pas so mooi by mekaar. Sy vat versigtig aan haar hare, perfek gestileer. Die ligstrepies maak vrolike draaie en gee lewe aan haar gesig. Háár gesig. Dit lyk vreemd met grimering aan. Mooi vreemd. ’n Professionele grimeerkunstenaar het dit gedoen. Haar vel gloei en haar oë blink.

Baie versigtig trek sy die rok aan. Die kleur lyk ekstra mooi teen haar soel vel. Nie dat sy tyd het om ure in die son te lê nie; daarvoor hou haar skoolwerk en Genevieve haar heeltemal te besig. ’n Terapeut het die kunsmatige sonverbruiner foutloos aangespuit en nou lyk dit of sy reg is vir ’n bal in Monaco se paleis! Sy glip die skoene aan en ’n gemanikuurde hand tel die botteltjie parfuum op om ’n paar druppels aan te spat. Hulle het dit ook vir haar gekoop…sy wens dit raak nooit op nie, dit ruik hemels. Dan kyk sy in die spieël en sien ’n prinses. Daar is meteens ’n knop in haar keel maar sy mag nie nou huil nie!

Die fotosessie is pret. Sy moet staan, draai, dié kant toe kyk, daardie kant toe lag met Genevieve wat heeltyd om haar dartel. En nou is dit tyd om in die Mustang te klim! Dit was die heel laaste ding op haar wenslysie, en eintlik het sy sommer net ’n kans gewaag. Sy het regtig nie gedink dit gaan moontlik wees nie. Maar toe ken Estelle iemand wat ’n Mustang het.

“Ek weet nie wie van ek of Arrien die hardste gegil het toe daardie kar om die hoek gebrul kom nie!” lag Estelle as sy die oomblik onthou. “Ons probeer regtig hard om alles op die kind te wenslysie waar te maak, en elke keer as ons dit regkry, weet ek Iemand anders is in beheer.”

[pagebreak] Wanneer Arrien in die paadjie afstap, kan sy voel hoe die mense na haar kyk. Haar hart wil bars van trots; niemand het gedink sy kan só mooi lyk nie. Netnou het sy gehoor hoe iemand vra of dit sy is…Haar eie maats herken haar nie eers nie! Skielik weet sy alles tot dusver was die moeite werd. Al was dit nie maklik nie, het sy vasgebyt en deurgedruk. Soms wil ’n mens net weet dat ander mense in jou glo. Dat jy saak maak. En hier is sy vanaand. Reg vir al die uitdagings van die lewe wat nog voorlê.

“Later die aand toe Arrien my bel om haar te kom haal en huis toe te vat, het sy omtrent gebabbel,” vertel Estelle. “Sy kon nie uitgepraat raak oor die aand nie…en die hope komplimente wat sy gekry het! Die hele ervaring het haar soveel selfvertroue gegee dat sy na die matriekafskeid die moed gehad het om vir die Mej. Matriek-kompetisie in te skryf. Sy het so goed gedoen in haar eindeksamen, ek sal graag wil sien dat sy die kans kry om verder te gaan studeer.”

Intussen het Estelle en ’n vriendin as Ruby Marmelaide begin saamwerk. Hulle hoop om hierdie jaar twee kinders se matriekafskeiddrome waar te maak. En nou dat daar twee towertantes is, gaan dit dalk moontlik wees. Die waarde van ’n klein bietjie moeite moet nooit onderskat word nie. Dit is dalk al wat nodig is om iemand anders genoeg aan te moedig om ’n groot sukses van hulle lewe te maak. Marilyn Monroe het gesê: “Give a girl the right shoes, and she can conquer the world,” en enige volbloedvrou sal hiermee saamstem. Maar die fairy godmothers sê: “Gee ’n meisie ’n droommooi matriekafskeid – en sy kan die wêreld oorwin!”