Ta ’Anna kuier in Australië

Annabelle Lombard

“Doen iets buite jou gemaksone”, preek ek ook altyd… Reis, eet vreemde kos en vind jouself terwyl jy verdwaal in vreemde stegies en onbekende paadjies.

Op die lughawe met my tas in plastiek gedraai soos net ‘n ware Saffa – begin ek na die aanhalings soek in my gedagtes, terwyl ek en manlief laaste opdragte uitruil.  Onthou om die “domestic transfer desk” in Sydney te kry, herinner Anelda ook op whatsapp.  My hart bons benoud, maar ek sien te veel uit na my avontuur om aan die hartseer, bang of skuldgevoelens toe te gee.  Ouma en Oupa is gewapen met ‘n hele boek vol instruksies en ek weet te goed; so ‘n kans kom waarskynlik een keer in ‘n leeftyd! 

Op my eerste alleenreis beland ek langs twee pasgetroudes wat albei by ‘n kerk werk in New Zealand.  Ek voel sommer dadelik gerus – Hy is in beheer … selfs van sitplek plasings.  Ons gesels tot diep in die nag oor ons onderskeie bedienings en ruil lekker idees uit, wat my sommer nuwe energie en hoop gee vir kerk wees. 

Ek kry die aansluitingsvlug na Tasmanië maklik en klim laataand af in ‘n arktiese Hobart – baie bly om my sussie te sien en hulle pragtige nuwe huis in Sandy Bay.  Dan volg twee idilliese weke in my eie woonstel onder hulle huis.  Volledig toegerus met ‘n volgelaaide spens en yskas in my kombuis!  Daar is elke vreemde soort sjokolade en die Aussie gunstelinge: vegemite, Tim Tams, haar eie beskuit en nog baie lekkernye wat ek kan geniet op die twee dae ‘n week wat sy werk.

Om iemand se antie te wees

Nie eens haar eerste Barbie pop of een van die spesiale geskenke kon twee-jarige Amelia se hart steel nie.  Ek moes nog nooit so hard werk om iemand te beïndruk nie!  Hierdie dametjie sal slegs vir Anna soentjies en drukkies gee teen week twee – en ook net as pappa en mamma dit as ‘n speletjie aanbied!  Ek geniet wel om haar ballet by te woon, die kindermusiek oggend by die kerk en haar besoeke aan die park, strand en kerk.  Hulle is in ‘n wonderlike Anglikaanse gemeente waar ek baie tuis gevoel het. Dit was vreeslik spesiaal om ook nagmaal saam met hulle te kon gebruik.

Dis vreemd om in ‘n mini weergawe van my eie sussie vas te kyk en te weet hierdie popmooie mensie  is ook deel van my – al verstaan sy nog nie so lekker dat ek haar peetma is nie!  Ek is vreeslik trots om ‘n paar gesteelde foto’s saam met haar te hê, wat die indruk mag skep dat ons groot maatjies geraak het!  Ek sal nog vir lank met die Wiggles se liedjies in my kop rondloop en Peppa pig oral raaksien en verlang na al die dogtertjie dinge wat ek kon doen.

Afrikaans al die pad

Anelda het ‘n groot Afrikaanse vriendekring en dit was lekker om sommer die eerste Sondag reeds saam met hulle Downton Abbey te kon gaan fliek – iets waarna ons vreeslik uitgesien het en skaars kon glo dat ons dit saam saam kon beleef!  Ook by die girls ontbyt  en musiekoggende kuier ons te lekker in Afrikaans en ek kry nooit die geleentheid om Anelda skaam te maak met my Pretoria Engels nie. 

Byna elke dag stap ek vir ‘n uur en ‘n half strand toe en geniet die pragtige lente skouspel, skoonheid, rustigheid en vars lug op my eie.  Elke ete wat Anelda spesiaal vir my beplan het is ‘n hoogtepunt en daar is selfs ‘n eg SA braai en droë wors spesiaal vir Bok wedstryde.  Die hoogtepunt was ons twee sussies se high tea op ‘n pragtige wynplaas met ‘n Peter Rabbit tuin.  Ons het gekoek en tee tot ons wou omval!

Sussie tyd

Ons het ook ‘n spesiale sussies en peetdogter fotosessie gehad – ook by ‘n baie wonderlike Suid Afrikaner wat baie moeite en geduld vir ons gehad het.  Verder het ek twee keer die bus stad toe gehaal en lekker op my eie in die vreemde winkels gaan ronddwaal en sussie vir middagete gekry.  Veral die potstickers (pangebraaide dim sums) waarvoor Masterchef ons lusgemaak het, was onvergeetlik. 

Die laaste naweek breek veels te vinnig aan en twee opgewonde susters vlieg vir die eerste keer in ons lewens saam.  Ons gaan Sydney toe vir ‘n girl’s weekend – en die loods – kan jy raai – is Suid Afrikaans!  Ons verken Sydney se winkels en hawens neem alles af wat vreemd is.  Daar is verdiepings en verdiepings vol skoene en klere en handelsname wat ons net in flieks sien. Dit is Merlbourne Cup seisoen en daar is fascinators (koptoftooisels) oral!  Daar is selfs ‘n pianis op die vleulklavier wat jou in die weelde en rustigheid wil laat vertoef vir altyd.

Vanaf die 47ste vloer van een van die vele wolkekrabbers proe die drankie en voorgereg van diepgebraaide risotto balle met bokmelk- en pecorino kaas ekstra lekker en ons draai stadig in die rondte saam met stylvolle gaste terwyl die Sydney landmerke en stadsliggies verby ons gly.  Ons kan skaars ons geluk glo om so ‘n lekker “night on the town” te mag geniet en nog minder hoe mooi ons die brug en operahuis kan afneem!  Ons pizza later op die promenade naby die operahuis is ook heerlik.

Die volgende oggend geniet ons Crêpes Suzette by ‘n klein Franse kafeetjie .  Ons stap, ry ferry en Uber tot ons seker is ons het alles gesien en gedoen wat mens moontlik kan inpas in een dag.  Ons het ‘n toer tradisie dat mens minstens een bruidjie moet afneem en dit kon ons aftiek op ons lysie oorkant die einste Operahuis, maar later die dag loop ons jou waarlik in by die stad se St Mary’s katedraal terwyl die orrel begin speel vir die bruid se binnekoms!  Ons mag nie foto’s geneem het nie, maar kon sowaar die troue bywoon vanuit die agterste banke! 

Ons laaste ete saam geniet ons op die Saterdagaand onder in ons pragtige hotel se gesellige Ierse pub – PJ O’Brien’s.  Daar is nog ‘n meisie in ‘n Springboktrui wat vir my waai in my SA serp.  Ons is super opgewonde vir ‘n moontlike herhaling van ‘95, later daardie historiese aand.

Wêreldbekers in vreemde stede

In my matriekjaar sit ons gesin in Zimbabwe by ‘n onbekende oom van my ma in Buluwayo.  Ons eet Chinese wegneemkos en huil onbeskaamd toe Joost, Joel Stransky en hulle makkers teen die reuse Jonah Lomu oorwin.  Vanaand in Sydney sit ek en my sussie weer vasgenael voor die kassie en ons familie whatsapp groepies.  Ons hotel se naam is nie verniet Grace nie, en ons beleef die hoendervleis oomblikke as die onwaarskynlikste landjie weereens almal uitstof en hoop en eenheid vir ‘n hele nasie bring.  Wat ‘n hoogepunt afsluiting vir ‘n onvergeetlike vakansie – en soos Oprah graag se: ‘n volsirkel oomblik!

My terugtog is in ongekende weelde, want my swaer het my opgradeer na besigheidsklas en toegang gegee tot die lughawe ruskamer – regtig ook ‘n 5-ster belewenis!  Die loods se eerste aankondiging is om Suid Afrikaners geluk te wens met die beker en ek voel so trots asof ek self oor die doellyn gehol het! Die impak van Siya se getuienis en die span se kollektiewe doelgerigtheid en hoopgewing sou ek eers dae later ten volle begryp. 

En nou is ek vir ewig en altyd gebreek, want wie sal ooit weer in plaasvee klas kan inpas nadat jy op ‘n wit tafeldoek geëet het en op jou maag in jou bedjie geslaap het terwyl die lugskip die oseaan kruis? Hoe bevoorreg kan een ma wees om so te ontsnap uit haar lewe en soveel mooi, lekker en opwinding te kan beleef saam met haar enigste sussie en haar gesin?  Ek weet nie hoe ek ooit in woorde sal kan dankie se vir hierdie kosbare mooi herinneringe nie!

Die blye tuiskoms

Ek weet die Springbokke sou ‘n paar dae later in dieselfde aankomssaal ingewag word deur skares.  Ek dink egter my manne met hul SA vlag en bord waarop daar Welkom Ma staan, was die mooiste gesig wat ek nog gesien het!  Ek het meer geliefd en welkom as die Web Ellis trofee self gevoel! Dit het ‘n paar dae gevat om weer my dag en nag terug te ruil en in die eksamenritme van my graad 6 seun te kom, maar dis ook heerlik om tuis te wees en te weet hoe bevoorreg ek is om in die beste plek in die wêreld te kan bly!