Tamarin hou só haar lyf ferm

0
139
Tamarin_du_Toit.jpg

Sy het nog altyd ’n lyf gehad wat ons ander Evas groen maak, maar soos baie ander vroue, haat Tamarin du Toit dit om te oefen. Toe ontdek sy ’n oefenklas wat haar gemotiveerd hou.

Jy moet oefening geniet om daarmee vol te hou

Ek kul nogal wanneer dit by oefening kom. Soms gaan ek gimnasium toe, drink ’n smoothie en dan is ek daar uit – sonder ’n enkele sweetdruppel op my lyf! Ek was ook altyd bang om oefenklasse by te woon. ’n Mens dink mos jy moet eers ’n bietjie fikser word voordat jy daaraan kan deelneem. Nou ja, dit was my verskoning …

kauai_breakfast_smoothie.jpgEk trou volgende jaar in Maart. Dit het my genoeg gemotiveer om uiteindelik by ’n liggaamsvormingsklas aan te sluit. Die eerste week was erg. Na die eerste klas kon ek amper nie loop nie, maar dit word elke week makliker. Die liggaam waarin ek so min vertroue gehad het, het my aangenaam verras.

Die klasse behels kardio- en verfermingsoefeninge. ’n Mens beweeg heeltyd met geen blaaskans nie, behalwe as jy skielik op die vloer moet gaan lê vir ’n paar maag-opsitte! Die program is uitgewerk sodat jou harttempo versnel en dan doen jy verfermingsoefeninge. So verbrand jy die meeste vet. Ons instrukteur sê altyd dat jy in hierdie klas 35% meer kilojoules verbrand as met enige ander oefening in die gimnasium.

Ek drink gewoonlik ’n Kauai-smoothie nadat ek geoefen het. Probeer die Kauai Breakfast Smoothie, R22,90 vir die gewone grootte. Dis vol vrugte, granola en laevet-jogurt.

Klasse bied ondersteuning vir almal wat saam swaarkry

Die lekker ding van ’n klas is dat jy nie so maklik gaan ingee soos wanneer jy alleen is nie. Oral om jou is nog dames wat saam sukkel, en dit gee ’n mens ekstra oemf, veral as die persoon langs jou in haar sestigs is! Ek probeer om vier keer ’n week ’n klas by te woon.

Die instrukteur kyk ook of jou liggaamspostuur reg is terwyl jy die oefeninge doen. As jy ’n oefening verkeerd doen, sal dit nie goeie resultate lewer nie. Ek wil nie in ’n spiertier verander nie. Vir my is vroulikheid, fermheid en gemak belangrik.

Ek wil volgende jaar op my wittebrood in ’n baaibroek rondloop en dan wil ek nie ongemaklik voel met ’n maag wat oorhang en wat ek heeltyd moet intrek nie. Ek sien al klaar hoe my lyf verander het vandat ek die klasse bywoon.

Bewys jouself ’n guns, moenie uitstel nie. Begin so gou moontlik oefen en pluk die vrugte van ’n lyf waarop jy trots kan voel.