Tande laat haar sexy lyk

0
708

Statistiek wys dat tandartse in Engeland tans 170 kinders per dag se tande trek omrede dit verrot is.

Verlede jaar is 43 000 kinders se tande in hospitale getrek, en dit sluit nie die gevalle in waar tandartse in hul praktyke die tande getrek het nie. Daar is ‘n besliste toename in verrotte tande onder die jeug, en dit word hoofsaaklik aan die groter inname van suiker toegeskryf.

In die antieke wêreld was mense se tande net so sleg omrede tandhigiëne so swak was. Ons lees dikwels in antieke tekste van skrywers wat vertel hoe sleg mense se asem geruik het. Baie mense het sommer vroeg-vroeg in hul lewe al ‘n klomp van hul tande verloor. Dit is hoekom ‘n jong meisie wat nog al haar tande in haar mond gehad het, so sexy vir die antieke mens gelyk het. So lees ons in Hooglied 4:2 dat die man sy beminde se lof en skoonheid besing omdat sy nog ‘n mond vol pragtige tande gehad het, sonder dat daar een van die tande weg was. Hy sê:

Jou tande is so wit

soos ’n ry pasgeskeerde skape

wat nou net skoon gewas is,

elkeen met ’n tweeling,

nie een sonder ’n lam nie.

Daar kort nie ‘n enkele tand in haar mond nie! Daar was nie baie meisies van wie ‘n mens dit kon gesê het nie!