Tawwe slaapkamer tameletjies opgelos

0
398
slaapkamer.jpg

Wat van daardie vrae wat jy partykeer te skaam is om te vra? Sekskenners gee antwoorde vir jou slaapkamer probleme.

“Ons is al 20 jaar getroud en ons sekslewe is só vervelig”

Gretha Wiid, verhoudingskenner: “Behalwe vir spontaneïteit en pret is dit vir ’n man belangrik dat sy vrou seks met hom geniet. As jy net daar lê soos ’n gewillige lam, ontman jy hom in sy diepste wese. Dis verskriklik belangrik vir sy selfvertroue dat sy manlikheid bevestig word – binne en buite die slaapkamer.

“’n Verhouding kan groot skade ly as net een van die partye seksuele bevrediging ervaar. Die een persoon kan gefrustreerd voel en die ander persoon kan misbruik voel. Seks is amper soos die waaierband van ’n kar – dis nie die belangrikste deel nie, maar kan ’n motor laat gaan staan as dit nie werk nie.

“Dis asof vrouens vergeet het hoe om te vry en net mekaar se nabyheid te geniet. Daar is soveel fokus op die orgasme-en-bevrediging-deel dat baie paartjies op die wenpaal fokus en nie die wedloop geniet nie.

“Verras jou man! Soen hom onverwags passievol in die winkel of wag hom by die huis in met niks anders as jou kamerjas nie. Stuur vir hom daardie stoute SMS. Voor jy jou oë kan uitvee, stop hy voor die huis met skreeuende bande.

“Uit ondervinding weet ek dat verveling beslis ’n man se entoesiasme demp. Moenie toelaat dat eentonigheid die rede is hoekom julle uitmekaar beweeg nie. Skep meer gereeld spontane avonture buite die slaapkamer. Hoe meer pret daar in julle alledaagse lewe is, hoe meer pret gaan daar agter toe deure wees.

“En onthou, hy wil in jou oë en aan jou lyf kan sien dat jy hom begeer en dat sy manwees meer as genoeg is vir jou.”

“Wat as hy wil, maar ek wil nie? Watter alternatiewe is daar?”

Riette Rust, joernalis en skrywer van Die AA tot OE van Seks: “Moenie summier net nee sê as jou maat in die bui is en jy dalk nie. Hy kan die nee as verwerping beskou, of dink dat jy hom nie begeer of liefhet nie. Gee kans. ’n Goeie, lang soen en voorspel kan altyd jou bui verander. Andersins is daar hierdie alternatiewe:

“Niks kom by die gevoel van vel teen vel nie. Bederf jou maat met ’n massering. Skep ’n romantiese atmosfeer met kerse en agtergrondmusiek. (Ja, mans hou ook van romanse.) Sê vir hom dit is sý aand. Bad eers saam. Was sy hele lyf – saggies en sensueel. Masseer sy kop terwyl jy sy hare was.

[Pagebreak]

“Later kan jy hom op ’n handdoek op die bed laat ontspan. Streel sy gesig. Onthou van sy lippe en oë. Streel hom dan van sy lippe tot by sy bekken met jou borste en hare. Masseer nou sy lyf met geurige olies. Moenie van sy rug en bene vergeet nie. Eers dan kan jy aandag aan sy erotiese sones gee. Onthou ook net van die plesierknoppie aan die onderkant van sy penis!

“Of wat van ’n bietjie mond-aksie? Jou maat kan jou met sy hand of mond stimuleer. (Of jy vir hom.) Span julle lippe en tonge in: lek, suig en knibbel (lippe oor tande).

“Wanneer ’n paartjie lank bymekaar is, is seks nie altyd op die prioriteitslys nie. Dit bly egter van onskatbare waarde vir huweliksgeluk. Wanneer seks by die venster uitvlieg, kan probleme by die voordeur inkom. Onthou, sensualiteit is ’n lieflike, lyflike ervaring op liggaamlike én geestelike vlak, die spesiaalste geskenk wat ’n paartjie mekaar kan gee. Moenie dit afskeep nie.”

“Hoe verseker ek dat hy na geen ander vrou kyk nie?”

Elmari Mulder Craig is ’n gesertifiseerde psigo-seksuoloog, verhoudingsterapeut en kliniese hipnoterapeut: “Jy hoef nie Marilyn Monroe te wees om seker te maak jou man aanbid die grond waarop jy loop nie. Elke vrou kan ’n seksgodin wees. Dit lê in die manier waarop jy beweeg, hoe jy aantrek en selfs hoe jy jou huis laat lyk.

“Maak seker dat die atmosfeer in die kamer reg is. Wanneer hy of jy julle oë in ’n oomblik van passie oopmaak, wil julle nie vaskyk speelgoed nie. ’n Oorvol wasgoedmandjie is ook allesbehalwe romanties. Julle slaapkamer moet ’n rustige en romantiese hawe weg van die alledaagse chaos wees.

“Jou klere kan verleidelik wees. Mooi onderklere gaan nie net jóú sexy laat voel nie, maar ’n man is nou maar net so gemaak dat sy hartklop deur die dak gaan as gevolg van wat sy oë sien.

“Jy hoef nie beeldskoon te wees om hom klei in jou hande te maak nie, maar jy moet wel weet wat sy seksuele fantasieë is. Hy moet weet dat jy die enigste vrou in die wêreld is wat presies weet wat hy wil hê.

“En as sy fantasie ’n verpleegster in visnetkouse is, is dit wat jy hom gee. Sien jy nie kans om dit in ’n winkel te koop nie? Gelukkig is daar heelwat vroulike en stylvolle webwerwe waar jy sulke uitrustinkies oor die internet kan bestel.

“Vergeet ’n slag van daardie vetrolletjie onder jou arm. Ek kan jou verseker dit is die laaste ding wat hy raaksien. Al wat vir hom op daardie oomblik belangrik is, dat jy skraps aangetrek is. Vir hom!

“Natuurlik hoef jy jou lyf nie heeltyd seksgodin te hou nie. Dit is soos ’n fynproewersmaal – ’n dis wat net so twee keer ’n maand op die spyskaart is. Hy moet uitgehonger wees daarvoor.”