Te haastig met jou drome?

1742

Ware sukses en betekenis lê nie in die dinge wat ons ontvang nie, maar eerder in dit wat ons gee om ander se lewe beter te maak.

Bepaal die sukses van jou dag op grond van die saad wat jy in ander se lewens gesaai het. Dit gaan oor die eenvoudige beginsel van saai en oes. Om te saai beteken jy oefen en verbeter jou talente, en jy gee van jouself om ’n verskil te maak.

Begin net, al is dit klein treetjies op ’n slag

Of daar iets gaan opkom, lê nie in jou hande nie, want die potensiaal vir groei lê in die saadjie self. Om te droom om ’n wêreldklasatleet te word, kan jy nie jou sukses meet aan hoe sterk of vinnig jy vandag is nie. Jy moet jou oog op die toekoms rig. Jou droom begin sodra jy die eerste tree gee in jou eerste oefensessie. Dit begin met ’n besluit en dan die dissipline om die eerste oefensessies by te woon. Dit gaan oor elke klein treetjie elke dag wat jou nader sal bring aan jou droom.

Die belangrikste deel van ’n reis is die begin. As jy wegspring, kan jy leer om aan te pas en te verander soos jy vorder. Drome en sukses het nie werklik ’n eindpunt nie. Dit is ’n proses en ’n avontuur sonder einde.
Daar is hoogtepunte en tye van teleurstelling en tye van vasbyt. Daar is nie ’n kitsmanier om jou droom te leef nie, maak nie saak wat die wêreld jou probeer wysmaak nie.

Baie mense word geflous deur kitsoplossings, wat ons heeltemal insuig en verblind. Dit laat ons glo dat geluk, vrede en vreugde in geld gevind kan word. Dit maak dat mense hulle hoop en hulle drome op ’n loterykaartjie plaas. Dit laat mense by korrupsie betrokke raak omdat hulle glo hulle kan daarmee wegkom.

Om jou droom te leef gebeur nie oornag nie

Die beloning van ’n droom is versteek in die reis. Sukses gaan oor wat jy word terwyl jy daarna streef om jou droom te verwesenlik. Die wêreld sien net die eindresultaat en verkoop dit as die ideaal. Ware kampioene sal jou egter vertel dat ’n droom ’n lang en moeilike reis is waar jy elke uitdaging in jou pad moet baasraak om uiteindelik die beloning te kan ontvang.

Die proses om jou droom te bereik beteken jy saai vandag die saad. Jy betaal vandag die prys, jy bewerk die grond, jy bly geduldig en jy oorkom die uitdagings. Wanneer die oestyd kom, sal jy die vrugte van die saad wat jy gesaai en versorg het, ten volle geniet.

As jy vandag voel jy het nog niks bereik nie, moet jy gaan kyk na wat jy gister gedoen het. Dit is die sleutel wat betekenis aan jou lewe gee.

Jou lewe word ryker deur dit wat jy weggee

Kitsoplossings sorg vir ’n leë en doellose lewe waar jy “agter ’n vlinder aanhardloop” wat jy nooit sal vang nie! Die avontuur van die lewe is in die uitdagings en hindernisse op jou pad wat jou gaan toets om te kyk waaraan jy vashou – hoop, toewyding, geloof? As die uitdagings jou van jou hoop en geloof beroof, dan is jy nie gereed om die kroon te ontvang nie!

Kitssukses is die droom van ’n dwaas. Daar is ’n gesegde wat sê jy is ryk deur dit wat jy gee en arm deur dit wat jy hou. Dit wat jy vandag nie gegee het nie, is in werklikheid die armoede van baie mense. Besluit om in oorvloed te saai vandag. Werk, sweet, swoeg. Saai die saad, die oes sal kom!

Jannie Putter, Leierskaps- en persoonlike ontwikkeling en sportsielkunde

Kliek hier vir meer videos en artikels deur Jannie.

Koop die e-boek Droom jy groot genoeg? deur Jannie Putter en ander, aanlyn by voelgoedboeke.co.za teen 50% afslag. R44 R89 KLIEK HIER