Te veel skermtyd

0
277

Kinders in Amerika bestee gemiddeld sewe en ’n half uur per dag voor ’n skerm. Dis ontstellend, want kinders leer die beste as hulle speel en verhoudings met mense in die regte wêreld kan bou.

Kinders in Amerika bestee gemiddeld sewe en ’n half uur per dag voor ’n skerm. Dis ontstellend, want kinders leer die beste as hulle speel en verhoudings met mense in die regte wêreld kan bou.

Die realiteit is dat skerms en tegnologie hier is om te bly. Die feit dat ons kinders so baie tyd daarmee deurbring is onrusbarend, omdat ons goed weet hulle leer die beste as hulle speel en deur verhoudingbou met regte mense in die regte wêreld.

Kry ’n balans tussen buite speel en skermtyd

Opvoedkundige apps en TV-programme is uitstekende maniere om jou kind se brein te verskerp en hulle te leer kommunikeer. Dit is egter belangrik dat jy dit mooi moet bestuur, want te veel tyd voor ’n skerm kan gevaarlik wees vir ’n brein wat nog ontwikkel.

Wanneer kinders te veel tyd voor skerms deurbring, kan dit ook beteken dat daar nie genoeg tyd vir fisiese oefening is nie. Hulle leer ook nie hoe om hulle emosies te hanteer nie, want dit word nie genoeg gestimuleer nie.

Ouers dink partykeer hulle kinders gaan iets misloop as hulle nie ook soveel skermtyd soos hulle maatjies kry nie. Hulle meen dat sekere vaardighede nie gaan ontwikkel as hulle kinders nie ’n tablet het nie of nie die programme mag kyk wat al die maatjies kyk nie.

Ek wil jou vandag gerusstel: ’n Onlangse studie wys dat as kinders vyf uur aan tegnologie blootgestel word, die brein die netwerke sal bou wat nodig is; nogtans, as kinders nie genoeg speel of kontak met die regte wêreld het nie, kan hulle in die toekoms sukkel om empatie te toon of probleme op te los.

Speletjies op jou slimfoon is verslawend

Wanneer ons iets doen waarvan ons hou, stel ons brein dopamien vry vanuit die beloningsisteem in ons emosionele brein en voel ons goed. Omdat ’n kind daaraan gewoond raak dat hy dadelik bevredig word of dadelik resultate kry, sal hy altyd die onmiddellike terugvoer van die slimfoon bo die regte wêreld verkies.

Die vervaardigers van video- en rekenaarspeletjies weet al lankal van hierdie uitwerking van dopamien. Hulle het agtergekom dat wanneer hulle speletjies so skryf dat die kind daardeur beloon word, hulle dit oor en oor sal wil speel. Ons as ouers kan dit hanteer deur seker te maak ons kinders word ook aan ander aktiwiteite blootgestel wat hulle geniet, sodat dopamien op ’n natuurlike manier vrygestel kan word.

Dis ook belangrik dat jy jou kind se temperament moet verstaan. Jy moet weet watter aktiwiteite spesifiek dopamien by jou kind kan vrystel. By seuns gebeur dit meestal wanneer hulle aan ’n kompetisie of sport deelneem. Dogtertjies wil weer vertroetel of versorg, soos met maats speel of lees.

Die regte lewe het nie ’n aan-af-knoppie nie

Die primitiewe deel van ons brein is die plek waar ons alarmsisteem geleë is. As ons skrik of ons spanning beleef, word streshormone vrygestel.

Dié deel van die brein kan nie onderskei tussen ’n videospeletjie waar daar ’n mannetjie is wat jou skiet en iets wat werklike stres kan veroorsaak, soos ’n hond wat op ons afstorm nie.

Kinders wat baie aggressiewe videospeletjies speel se stresrespons in die brein word oorgeaktiveer. Dan word daar te veel kortisol en adrenalien, wat streshormone is, in hulle brein vrygestel. Dit is hoekom kinders angstig en kwaad word as ouers hulle aansê om die speletjie te stop of dat die tyd om is.

Tegnologie en skerms is hier om te bly. Ons as ouers sal mooi moet kyk na hoeveel tyd ons kinders voor skerms deurbring, maar ook na die tipe speletjies wat hulle speel. Dis belangrik dat slimfone en tablette nie te veel gebruik word nie. Tegnologie mag nooit die plek inneem van verhoudings met regte mense in die regte wêreld nie.

Om dit alles op te som: Skakel gereeld al die knoppies af, sodat jou kind mooi kan onderskei tussen die speletjies- en die regte wêreld.

 

DEEL
Vorige artikelOrkaan Irma
Volgende artikelOefening

Geniet ‘n eersteklas- aanlyn wêreld met dieselfde warm gevoel van ‘n lekkerlees tydskrif.