Teatrale ydelheid

As mens na die teater toe gaan, moet jy mos mooi lyk.

Ek berei voor deur te gaan vir my ruk en pluk. Die soort wat jy by ‘n skoonheidsterapeut kry. Wenkbroue en bo lip. Daarna skrop ek my gesiggie spesiaal en gaan koop vir my ‘n 100% katoen pêntie.

Voor jy sê: Wag, dinge raak nou te 50 shades vir jou, laat ek jou gerus stel. Ek is nie besig om my vir my man op te tof nie, maar vir mense wat ek nie juis ken nie.

Sien, die beligting in teaters is mos uitstekend. Juis die rede vir my voortydige ydelheid.

Ek wil op my beste lyk wanneer ek op my weerlooste is. Sê nou iemand kyk naby en sien my weerstandige wenkbroue of oorgangsjare bo lip.

Gits, ek het skoon vergeet om my wenkbroue te laat tint. Netnou gaan my grimering af en dan lyk ek soos ‘n bont waslap wat te lank in Jik gelê het.

En die pêntie? Nee, ek maak nie weer die fout om met ‘n nylon/spandex tipe pêntie by ‘n teater op te daag nie. Net om gedwing te word om dit uit te trek en die teater met net ‘n skamele teaterrokkie binne te gaan. Nie oor my lewendige of bewustelose liggaam nie! So toe koop ek vooruit vir my 100% katoen pênties.

Gelukkig, kan mens deesdae teater toe gaan met ge-gel-de naels. In my oningeligte enigheid, dink ek, dit help veel die teater personeel probeer kyk of ek genoeg suurstof in my liggaam het, deur na my vingersnaels te kyk. Dis mos maar koud in ‘n teater en ek raak van nature blou en deurskynend in koue. Hul sal beslis dink ek het ‘n suustof tekort!

Daar is ‘n onbehoorlike lang lys van voortake vir teaterdag. Die belangrikste bly egter, dat ek op my moontlikste, beste wil vertoon, wanneer ek nie by is om vir myself op te kom nie.

Teen hierdie tyd is dit sekerlik al duidelik dat ek nie ‘n opvoering gaan kyk in ‘n kunste teater nie. Daar word nie vir jou gesing of dramas opgevoer nie. Dalk word daar musiek gespeel in die teaters; ek is gewoonlik en genadiglik nie wakker genoeg om dit te besef nie. Maar, niemand gaan ‘n haartjie uit sy plek kry nie. As ek nie vir myself kan opkom nie, sal my uiterlike darem boekdele spreek.

Dis nou hoe ydel ek is. Mens weet nooit, dalk loop ek eendag een van die teater susters raak en sy onthou my as die vrou wie se ooghare soos platgetrapte veldgras gelê het.

Daar is verseker mense wat nie omgee vir ‘n halstarrige wekbrouhaar nie. Die wat glad nie ydel is nie. Maar, ek weet ook van iemand wat spesiaal verbruiningsroom aangewend het voor sy geboorte moes skenk. Sy’t gesê sy wil nie daar lê in ‘n reeds onvleiende posisie en haar dan nog skaam vir haar skrikwit bene nie. Dis nou die ding van winterbabas. Min van ons is so gelukkig om geseën te wees met ‘n permanente gesonde sonbruin.

Ek vertel ‘n vriendin van my skaamtelike ydelheid en blaas my asem ernstig-verlig uit, toe sy beaam sy doen dieselfde. Vertel my dat sy in haar soektog na ‘n katoen pêntie, nêrens een kon kry nie en ten einde laaste by ‘n baie goedkoop winkel ‘n skrilpienk een opgespoor het. Dit was so erg pienk dat sy byna nie ‘n teaterpakkie nodig gehad het om haar te bedek nie, want almal se oë was vasgenael op die pienk pêntie.

Eg vroulike ydelheid. Desperaat om ‘n aangename na-prentjie van jouself te laat, al sien daardie teatersuster jou nooit ooit weer nie.

Ek neem aan die personeel of dokters gee seker ook nie regtig om nie. Maar nou ja, party indrukke is blywend.

Ek persoonlik, wil liewers so lyk dat niemand my na die tyd sal onthou nie….

Ek, is teatraal ydel.