Teddiebere troos na my seun sterf

0
258
Elmaine_Deyzel.jpg

Die groot teddiebeer met ’n T-hemp en bril sit sy plek op die rusbank vol. En wanneer Elmaine Deyzel te veel na haar Deon-kind verlang, druk sy die laplyf styf teen haar vas.

Versigtig knip sy deur die materiaal al met die groot, vreemde patroon langs. Sy weet wat om te doen, maar vandag voel haar hande ’n bietjie dom. “Chill, Ma!” hoor sy Deon in haar gedagtes sê. Dis sy verjaarsdag vandag. ’n Traan rol oor haar wang en verdwyn in die lap. Sy is al weer op ’n Deon-trip. Hoeveel gaan daar nog wees? Duisend? Miljoen? Dit sal nooit ophou nie, weet Elmaine. Maar dit hoef ook nie. Dit is alles deel van die groot onthou…

Deon was ’n besige outjie. Gewild, snaaks, die middelpunt van die aandag. Daar was soveel dimensies aan hierdie seunskind van haar. “Hy het reeds ingeskryf om te gaan studeer; hy wou ’n IT-outjie word soos sy pa. Maar hy was ook kunssinnig. Hy kon mooi teken en kitaar speel, met sy fikse, gespierde lyf en al, want oefen was nog een van sy liefdes.

Toe kom die dag wat sy al soveel kere in haar gedagtes anders laat verloop het. Met ’n wysiging hier en daar om die hartverskeurende einde te vermy.

“Ek en my man is motorfiets-mal. Ons het nog altyd motorfiets gery en net vir ’n rukkie opgehou toe die kinders klein was; hulle kon nie in die top box pas nie. Natuurlik sou die kinders ook hierdie liefde aansteek. Deon wou nie eers ’n bestuurderslisensie vir ’n motor kry nie, want, het hy geredeneer, hy gaan nét motorfiets ry. ’n Ma is uiteraard altyd bekommerd oor haar kinders, of hulle nou loop, ry of op ’n motorfiets is.”

Net voor middernag op 7 September 2007 het Elmaine se telefoon gelui. Dit was daardie oproep wat almal vrees. Dit kom op die verkeerde tyd en bring die verkeerde nuus. Jy word eensklaps uit jou wentelbaan uitgeruk. ’n Vriend van Deon het gebel om te sê daar was ’n ongeluk, hulle moet kom.

“Is Deon oukei?” wou Elmaine weet.
“Hy is klaar weg,” het die stem aan die ander kant gesê.

“Snaaks hoe jou brein jou teen trauma probeer beskerm. Ons het aangeneem hy is reeds ‘weg’ hospitaal toe. Eers toe ons in Jeanlaan indraai en die brandweerwa sien, die ligte, die baie mense, het ons besef dis ernstiger as wat ons vermoed het. My maag het op ’n knop getrek.” Binne ’n oomblik het soveel scenario’s in haar kop afgespeel. En toe gaan staan alles stil. “Ek het my kind daar in die pad sien lê. Met daardie simpel plastiekseiltjie oor hom getrek en sy twee voete wat uitsteek. My hart het gebreek. Stukkend. Niks sou ooit weer dieselfde wees nie. Ek ook nie.”

Lees ook: Nagmerrie! Ek ry my susterskind dood

[pagebreak] Elmaine moes langer as drie uur toekyk hoe haar kind daar lê terwyl al die prosedures afgehandel word. Hy is op slag dood, het hulle gehoor. Die lig was groen vir hom, maar ’n man in ’n bakkie het voor hom regs gedraai. “Sy vriende het die een na die ander daar opgedaag. Hulle ouers het ook gekom. Ons vriende. Daar was komberse, koffie, hande wat help, arms wat troos – daardie aand en in ook in die dae en maande daarna.”

Aanvanklik het sy alles van Deon gebêre. “Elke nou en dan het ek iets uitgehaal. Daaraan gevat. Gehuil. Weer gebêre. Dis deel van die heelwordproses. Eers later het ek van sy stuff (soos hy dit genoem het) begin weggee, weggooi, minder maak.” Lank terug het ’n vriendin gesê sy wil nog eendag vir Elmaine ’n teddiebeer van Deon se klere maak. Maar die lewe gaan teen so ’n snelle pas voort dat ’n mens nie by alles uitkom wat jy graag wil doen nie. “So twee jaar terug, op sy verjaarsdag, is ek toe weer op ’n Deon-trip – dis wat ek my af dae noem. Toe wonder ek: Hoekom maak ék nie daardie teddie nie? Dis tyd!”

“Ek het die teddiebeerpatroon drie keer vergroot om dit lekker drukbaar te maak, Deon was ’n drukkiemens…”

teddies.jpgElkeen in die gesin het ’n beer gekry. ’n Kleintjie vir haar man se lessenaar, ’n mediumgrootte vir haar ander seun en die groot druk-beer vir haar leesbank. “Ek druk my beer, lê lepel, vryf sommer oor sy kop so in die verbygaan; hy het selfs Deon se bril op! Dis moeilik om te beskryf hoeveel hierdie bere vir ons beteken. My kind sal altyd in my hart voortleef, maar hierdie maak dit tasbaar.”

Sonder dat Elmaine dit so bedoel het, het haar teddiebere ’n bediening geword. Omdat dit vir hulle soveel beteken het, wou sy vir ander ook daardie troos bring. “Wanneer ek vir iemand ’n teddie gee wat ek vir hulle gemaak het, ervaar ek soveel bevrediging. Die herkenning en troos wat ek op hulle gesigte sien is kosbaar, en dan weet ek ek doen die regte ding.”

Op hierdie manier is daar baie kinders wat met ’n stukkie ouma of oupa saans in hulle arms aan die slaap raak. Of ’n vrou wat ietsie van haar man teen haar hart kan druk. En natuurlik ouers wat, soos Elmaine-hulle, ’n bietjie kind kan koester. “Elke volgende teddie wat ek maak, is makliker en lekkerder. Ek geniet dit so om elke persoon se karakter in ’n teddiebeer in te werk. Een vriendin se oorlede seun was outisties en gestremd. Hy het altyd met ’n stukkie tou gesit en speel. Dit was so eie aan hom dat ek die stukkie tou in die teddie se hand ingewerk het.”

Die teddies vervang natuurlik glad nie jou geliefde nie, maar dis helderder as ’n gedagte, en sagter as ’n foto. En wanneer jy so iets beleef, word enigiets wat die pyn effens meer hanteerbaar maak, ’n kleinood. “Want,” verduidelik Elmaine, “jy moet dit oorleef, jy het nie ’n keuse nie. Die lewe gaan aan. Volstoom, elke dag. Dit is seer, jy mis jou kind so intens. Alles herinner jou aan hom. Jy wonder elke oomblik van elke dag wat hy te sê sou gehad het. Wat sou hy gedoen het? Sou hy al getroud gewees het? Dalk al self ’n pa? So kan jy aanhou en aanhou totdat jy wil mal word daarvan. Of jy kan aangaan met jou lewe en elke dag die mooi herinneringe koester. Deur albums blaai en nooit ophou om oor hom te praat nie. En die teddiebeer styf vasdruk…”

Wil jy nog ’n voelgoedstorie lees? Hierdie paartjie vertel hoe hartverskeurend, maar ook wonderlik, lewe in die Oekraïne is.