Teleurstelling bepaal nie jou toekoms nie

0
1224

Hanlé Barnard is dankbaar vir die lesse wat sy uit terugslae geleer het. Sy weet ook dat jy nie in vrees daarvoor kan leef nie.

Net soveel keer as wat die lewe my teleurgestel het, het dit my ook verras. Daar is altyd ’n kans dat dinge kan uitwerk soos jy hoop, daarom sal ek altyd ’n kans waag. Viktor Frankl was ’n goeie voorbeeld. Hy was ’n gevangene in die Tweede Wêreldoorlog en het gesê solank jy betekenis kan vind, is oorwinning moontlik. In plaas van om te fokus op die feit dat hy enige oomblik kon doodgaan, het hy gedink aan hoe hy sy vrou weer sou sien. Dit was vir my ’n doelbewuste besluit om te fokus op wat ek wil hê en die betekenis van my lewe.

Ek het ’n beurs gekry vir studie by ’n universiteit in Kanada en ook ’n visum ontvang, maar my bagasie het nie in Johannesburg geland toe ek my ouers gaan groet het nie. Ek het ’n vriendin se motor geleen om my bagasie te gaan haal, maar op pad soontoe ’n verkeerde, en gevaarlike, roete gekies. By ’n verkeerslig het ’n man die venster stukkend geslaan, en uiteindelik is hy weg met my handsak, en my paspoort en visum. Die konsulaat wou nie weer vir my ’n visum gee nie en dit was ook die einde van my beurs. Daar het ek gesit, met my hande in my hare, en my droom verby.

Dit het my egter geleer om op te hou besluite neem sonder om eers daaroor te bid. Dit het my ook gedwing om op te staan en positief te begin dink. God het ’n plan. Hy verf ’n ander skildery as wat ek noodwendig in gedagte gehad het. Ek gebruik ook nou die emosies daarvan in my rolle – dit het my baie meer diepte en sensitiwiteit gegee. Ironies genoeg, het dit my ook sagter en liewer vir mense gemaak en my gehelp om nie verbitter te wees nie.

Ek laat myself nie enige selfbejammering toe nie. Liefde is ’n wonderlike dokter en om daarop te konsentreer bring genesing. My man het ’n baie positiewe uitkyk op die lewe, dan is daar ook familie en vriende en my hond. Om op te kyk na die lug toe herinner my altyd daaraan dat die heelal baie groter is as my probleme. Al tuimel alles in om jou, is daar altyd iets moois om op te fokus. Soos my pa, wat Parkinsonsiekte het – selfs daarmee is hy so ’n goeie mens en glimlag hy so baie. Ek is dankbaar vir elke teleurstelling, dit het my geleer om kalm te wees en op te kyk na God.

Enige besluit wat uit desperaatheid en spanning geneem is, het nog nooit goed uitgewerk vir my nie. Daarom luister ek nie meer na die stem wat sê dat iets nie kan gebeur nie. Fokus op wat kan gebeur en waag kanse wat jou kan bevoordeel. Ek verkwis nie my energie op goed wat buite my beheer is nie. As iets nie gebeur nie, is dit omdat dit nie vir my bedoel is nie. Dit help nie om daarvoor bang te wees nie.

In die vermaakbedryf werk sake nie altyd uit soos jy wil hê nie. Daar kan net een aktrise vir ’n rol wees. Dit het my altyd baie seergemaak, toe kom ek agter dat dit arrogant is om te dink dat almal van jou moet hou. Nou het ek besluit om op te hou huil oor teleurstelling en dit eerder te waardeer. Ek gee mense toestemming om nie van my te hou nie en om ook nie van my werk te hou nie. Jy val nie in almal se smaak nie, maar jy val in iemand se smaak. As een deur toegesluit word, maak daar altyd weer ’n nuwe een oop.

Epi-Max