Teleurstellings verskerp my fokus

831

“Teleurstellings is nie ’n terugslag nie, solank jy doelbewus op pad is om jou hartsdrome te verwesenlik.” – ANLIA VAN RENSBURG

Uiteindelik is daar nuus van my agent af! Die foon het gepiep, maar ek is te senuweeagtig om dadelik te kyk. ’n Deurbraak is nodig.

Daar was baie voorbereiding vir die aksie-rol. Van die aksent tot die fisiese vereistes. Dit voel net gepas. Die topvyf voel nie goed genoeg nie. Hierdie rol is my hartsbegeerte.

Asem in. Vol opwinding maak ek die boodskap oop. “Ongelukkig is jou rol reeds ge-cast.” Alles word vir ’n oomblik stil. Dit vries. My hart amper ook. ’n Hartseer lamheid oorval my. Dis ’n gevoel wat ek nou al goed ken.

Die gedagte moet dadelik uit. Omstandighede laat dit nie nou toe nie. “Behou fokus.” Oeps, dit was hardop. My oë dwaal, en maak oogkontak met ’n glimlag. Vriendelikheid voel verlore. Tog beweeg hierdie mondhoeke uit gewoonte.

Uit die string meisies wat in die oudisielyn wag, is ek seker die minste lus vir nóg een. Sweetdruppels loop by my rug af.

Vandag was dit weer oudisie ná oudisie. My motorsitplekke is met uitrustings versier, om elke keer in ’n ander rol te pas.

Dit voel of die lewe vashaak. Dis pynlik, elke keer. Die afgelope jaar was vol teleurstellings.

Dis elke keer ’n proses. Alleentyd help. Mense moet net wegbly. Geen grimering. Slaap of wegbreek bring ook verligting.

Hierdie string gedagtes is versmorend. Dit raak moeilik om nie gedagtes van minderwaardigheid te glo nie. Wat gaan die mense sê? Hulle het my tog gewaarsku om nié in die bedryf in te gaan nie.

Eers is dit ’n proses van selfbejammering. Daar is gewoonlik trane, woede én teleurstelling. Met klipharde musiek boks ek in die gimnasium. Dit is ook terapeuties om lang ente op die strand te stap. Hoe kan oudisies só uitwerk?

Tog is dit of ek net outomaties aangaan met my beroep as aktrise, al is daardie gedagtes nog nie stil nie. Aktrise-wees is in my ingeweef. Dis deel van my DNS.

Dit is ’n doelbewuste besluit om harder te baklei. Opgee is nie ’n opsie nie, anders is die kanse nog geringer om by my droomrolle uit te kom.

Om op te gee is onmoontlik, veral met die span mense wat my ondersteun. Hulle glo soms meer in Anlia as ekself. Party dae bel ek tot drie keer op een dag my ma. Sy het nog nooit aan my vermoë getwyfel nie. Sy noem altyd dat sy nie net daarin glo nie, maar vir seker weet!

Aan die ander kant is my kêrel, Nathan. Hy is altyd gereed met ’n goeie uitdaging. Dit bring nuwe perspektief. Hy herinner my gereeld daaraan om altyd voorbereid te wees vir die regte rolle wat wag.

Dit waarvoor ek so hard werk en so graag wil hê, realiseer nie altyd nie. Daardie besef is elke keer bitter. Soms gebeur die terugslae met ’n lewensles. Dit help om die volgende keer beter besluite in die bedryf te neem.

Met ’n tree terug kom my hartsdrome weer in fokus. Dit moet dryfkrag wees wat my deurtrek. Met groter moed begin daardie stemmetjie binne-in weer praat.

Die visie is nog steeds dieselfde. Geen terugslag sal dit verhinder nie. Hierdie drome staan vas. Die regte pad is uitgelê, al is dit hóé moeilik.