Tem jou moeilike medewerker

414
Mickey Roothman
Mickey Roothman

Sien of hoor jy daardie naam, sak jou moed sommer in jou skoene. In ’n oogwink is jou dag en gemoed omgekrap en jou vrede skoonveld. Daar is geen manier om dié kliënt of kollega te vermy nie.

Jy kan nie ander mense beheer of verander nie. Deur jou fokus na jouself te verskuif, kan jy interaksie met ’n moeilike persoon tot ’n mate beheer, dit anders ervaar en jou gemoedsrus behou.

Moenie vooraf besluit dat hulle weer moeilik gaan wees nie. Benader elke interaksie opnuut. Voor jy reageer op hulle oproep, e-pos of wat hulle sê, haal doelbewustelik vyf keer diep asem …

Onthou: Hulle gedrag is nie op jou gemik nie. Hulle is ontsteld oor die situasie of dalk oor iets wat in hulle eie lewe aangaan. Bly kalm en luister aandagtig na wat hulle te sê het. Glimlag. Hou jou stemtoon rustig en sag – al praat hulle hard en kwaai.

Gebruik woorde soos “ek het dit so verstaan of ervaar” in plaas van ’n beskuldiging “jy het dit of dat gesê of gedoen”. Neem verantwoordelikheid indien jy verkeerd was of ’n fout gemaak het en lei die gesprek so gou moontlik in die rigting van ’n oplossing.

Neutraliseer die situasie met twee goue woorde: “Ek verstaan”. Mense is dikwels moeilik omdat hulle voel hulle word nie gehoor of verstaan nie.

Mickey Roothman, Besigheidstransformasie-afrigter