Thuli Madonsela maak haar hart oop

0
84
thuli_madonsela.jpg

Swart, wit, arm, ryk ... vir duisende Suid-Afrikaners het advokaat Thuli Madonsela heldestatus verkry. Maar wie is sy werklik?

Dit is maklik om in Suid-Afrika in materialisme en korrupsie te verval. Hoekom het jy ’n ander pad kies?

Dis eerder die “ander pad” wat mý gekies het. Ek glo ’n mens word in ’n groot mate gevorm deur die omstandighede waarin jy grootgeword het. In Soweto het ek as jong meisie dikwels die harde hand van die gereg beleef en hoe dit die gewone mense beïnvloed het. In daardie dae is daar veral op onwettige immigrante jag gemaak. Ek onthou die vrees op die mense se gesigte wanneer die black jacks (deel van die polisiediens) klopjagte uitgevoer het. Eers kom die harde kloppe teen mense se deure, en dan word die deure gewelddadig oopgeskop. Die huismense sou in alle rigtings vlug, in kaste en onder beddens wegkruip, net om uitgesnuffel en gearresteer te word. Ander mense is weer vasgetrek oor die oortreding van die paswette. Of hulle het probleme gehad met huurreëlings of familietwiste.

Selfs my ouers, Bafana en Nomasonto, albei informele kleinhandelaars, was al aan die verkeerde kant van die gereg weens streng handelsregulasies. Ek was vier jaar oud toe my ma in hegtenis geneem is omdat sy lekkers en vrugte by die skool verkoop het. Dit was vreesaanjaend, want ek moes vir ’n paar uur alleen na my bababoetie kyk.

My pa het meer gereeld met die gereg gebots, ook oor handelspermitte, maar die manier waarop hy dit hanteer het, het in ’n groot mate my sin vir geregtigheid beïnvloed. Ek onthou nog hoe graag hy vir ons vertel het hoe hy die magistraat in die hof ore aangesit het met sy verweer. My pa het op ’n plaas grootgeword en het nooit die binnekant van ’n klaskamer gesien nie, maar dit het hom nie gekeer om homself in die hof te verdedig nie.

Vandag wonder ek met ’n glimlag of hy regtig elke keer die held was soos hy beweer het, maar dit het die beginsel by my tuisgebring dat gewone mense ook ’n sê het en soms teen die Staat beskerm moet word.

Ek het ook grootgeword met die idee dat jy nie net vir jouself moet leef nie, jy leef ook om ander mense te help en om jou bates te deel met dié wat minder het.

[Pagebreak] My ma was bekend vir haar welsynswerk in die gemeenskap. Sy sou maklik vir vreemde mense kos en huisvesting gee, net omdat sy die vermoë gehad het om dit te doen. Ek onthou ook hoe oorvol ons huis was, want daar het altyd ekstra familielede by ons gebly, in so ’n mate dat die jongeres dikwels in die kombuis moes slaap omdat daar geen ander slaapplek oor was nie.

Albei my ouers het ook ’n sterk sin vir moraliteit gehad. Ons is geleer om eerlik te wees en met integriteit op te tree. Ons is geleer dat as jy kies om die waarheid te praat, jy nie ’n pak slae kry nie.

My ouers het ons geleer dat jy bo alles hierdie aarde in ’n beter toestand moet agterlaat as toe jy hier gekom het. Dis ’n les wat my bygebly het.

Hoekom is jou huidige werk jou passie en hoe voel dit om gedurig ander se foute bloot te lê?

thuli_madonsela_familie.jpgEk glo ek doen wat ek veronderstel is om in die lewe te doen. Van kleins af wou ek altyd weet wié het wát gedoen. My broer herinner my graag daaraan dat ek ’n regte klikbek was. Ek was altyd die eerste een wat die waarheid uitgeblaker het, waarskynlik omdat ek lafhartig was en bang vir ’n pak slae!

Voordat my ma ’n informele handelaar geword het, was sy vir baie jare ’n huiswerker. Ek dink dis hoekom dit vir haar so belangrik was dat haar kinders ’n goeie opvoeding moes kry. Toe ek besluit het om in die regte te gaan studeer, was ons pastoor (by die Sewendedag-Adventiste-kerk in Soweto) glad nie tevrede nie. In daardie jare is ’n beroep in die regte beskou as iets wat “oneerlike mense” doen. Hy het gedink al wat dit behels, was om misdadigers se onskuld te bewys. Min mense het toe besef dat daar ook ander beroepe in die regsveld was. Ekself het as menseregte-prokureur en gelykheidskundige gespesialiseer.

My ouers het my aangemoedig om ’n onderwyser te word, wat ek wel probeer het. Ek het vir ’n kort rukkie by ’n hoërskool skoolgehou, maar om toe te sien dat geregtigheid seëvier, was ’n persoonlike passie wat ek net nie kon ignoreer nie.

Die grootste beloning in my werk is om te weet ek doen iets om onreg en onregverdigheid om te keer – in ons regering en in die lewens van gewone mense, wie se pleidooie gewoonlik op dowe ore val.

[Pagebreak] Ek en my span kry dikwels te doen met “Dawid vs Goliat”-situasies: “klein” mensies wat teen groot instansies moet baklei om geregtigheid te laat seëvier, maar hulle het gewoonlik nie die geld of kennis om hulle saak te verdedig nie.

Wat ’n lekkerte is dit om die vreugde op hulle gesigte te sien en die dankbaarheid in hulle stemme te hoor as ons suksesvol is! Ek onthou ’n onlangse geval van ’n dame wat in ’n hopelose stryd met die Werkloosheidsversekeringfonds gewikkel was. Hulle het haar geld geskuld, maar haar aansoekvorm het in die proses weggeraak. Hulle het volgehou dat dit haar skuld was en dat hulle niks kon doen om haar te help nie. Wat ’n blye dag toe haar R300 000 uiteindelik aan haar uitbetaal is. “Dankie dat julle in my geglo het!” het sy oorstelp van vreugde vir ons gesê.

’n Ander vrou was ’n fluitjieblaser in die regering, maar niks is ooit gedoen om die klag wat sy gelê het, te ondersoek nie. Die beweerde oortreders het haar begin viktimiseer, in so ’n mate dat sy in die hospitaal beland het met depressie. Sy het amper haar huis verloor, maar ons kon haar saak beredder. Sy en haar familie het ons kom besoek en vertel dat ons hulle lewens aan hulle teruggegee het.

Ek is werklik geseën met ’n span mense wat soos ek oor die lewe dink en die werk met dieselfde passie doen. Ons vier elke sukses, asof hierdie mense deel van ons eie familie is.

Uit die aard van my werk moet ek ook soms mense in die regering ondersoek wat ek goed ken of wat vriende is. Met elke aanklag, en elke persoon wat ek ondersoek, wens ek in my hart dat die saak in hulle guns beklink sal word; daarom voel ek dikwels hartseer oor wat my bevindinge dan oplewer. Vir my weeg integriteit en geregtigheid egter swaarder as vriendskap en gewildheid.

In my werk poog ek nie net om wandade oop te vlek nie, maar ook om besluitnemers te oortuig dat sekere vorme van wanadministrasie en korrupsie eintlik erger is as misdaad. Ek probeer hulle leer dat hulle aksies en besluite ’n groot impak het. Mense verloor hulle huise, werk en gesinne as gevolg daarvan. Lewens spat uitmekaar.

Dís wat ek probeer hokslaan.