Tien dinge wat mans irriteer

0
58
wat irriteer mans

Dis nie lekker om dit te hoor nie, maar soms moet ’n brawe Adam ons Eva’s vertel waarmee hy sukkel om saam te leef …

Dis nie lekker om dit te hoor nie, maar soms moet ’n brawe Adam ons Eva’s vertel waarmee hy sukkel om saam te leef …

Akteur Dirk Stoltz het ’n fyn oog om die komiese in situasies raak te sien. En hy vertel grappenderwys dat sy huwelik eerder ’n hostile take-over was. “Ek was 33 en Marilize 31 toe ons getroud is. Voor die troue het ek my huis gehad en sy haar huis, maar ons het besluit om saam huis te koop.”

Die groot skok en irritasie het pas na die troue gekom toe hy besef het hoe min van sy persoonlike goed dit tot in die nuwe tuiste gemaak het. “Marilize, hou van moderne goed. Ek, aan die ander kant, het ’n regte kunstenaarsplekkie vol versamelgoed gehad. Selfs nie eens my kat het dit gemaak nie …” Wat is die les hierin? Al lyk dit na gemors, bly dit sy gemors …

Sue Botha, geregistreerde sielkundige, waarsku dat klein irritasies uiteindelik tot groot probleme kan lei. “Die rede daarvoor is dat die meeste mense nie hul irritasies verbaliseer nie. Jy loop dan met hierdie selfgesprek totdat iets wat oorspronklik klein begin het later ’n groot monster in jou kop word.”

Gelukkig laat Dirk en Marilize nie toe dat klein jakkalsies groot wolwe word nie. “Ons blaas stoom af en kry klaar. Wat dit lekker maak, is dat ons net oor klein goedjies baklei wat nog maklik is om te hanteer.”

In sy boek Mans is Anders (Carpe Diem Boeke) verduidelik Floris Knouwds watter rol geslagsverskille speel. “Jou maat se uniekheid kan aanvanklik vir jou oulik wees, maar later is dit dieselfde andersheid wat jou teleurstel, irriteer, ontstel en selfs woedend maak.” Soos Dirk ook erken is daar dinge wat vroue in verhoudings doen wat hy nie verstaan nie en soms kan krap …

Irritasie #1

“Om saam met haar te gaan klere koop – vir haar. Eerstens koop sy vyf van dieselfde kledingstukke – want die winkelspieël laat haar vet lyk. Net om later vier terug te neem, want die cream top is ’n bietjie té off-white om by die handsak te pas.

Irritasie #2

“Dan is daar die kwessie van kos bestel wat sy later weer terug stuur – agt uit tien keer. En om dit erger te maak, sal sy nie iets anders bestel nie, want sy is nou klaar vies. “Dit is nogal ’n frustrasie om saam met haar te gaan uiteet. Tog bly dit iets eie aan haar waaroor ’n mens soms net jou kop glimlaggend kan skud.”

Irritasie #3

“As dit nodig is, kan my vrou binne vyftien minute uit die bed en in die kar wees, maar normaalweg neem dit haar 45 minute net om hare te doen. En ek weet vroue wil hoor dat hulle mooi lyk, maar as ek elke dag dieselfde ding sê, gaan sy my naderhand nie meer glo nie.”

Irritasie #4

“Wat is dit met vroue en hul gewig? Weet vroue nou nog nie dat mans hou van ’n bietjie vleis om die heupe nie.”

Sue sê: “Konstante onsekerheid oor hoe jy lyk kan werklik uitputtend vir ’n man wees. Hy weet naderhand nie meer wat hy mag sê of nie mag sê nie.”

Irritasie #5

“Die feit dat sy kruideniersware koop en nie na die pryse kyk nie. Ek moet saamgaan om seker te maak dat ons darem met vyf sakke by die winkel uitstap, want vir dieselfde bedrag geld sal sy met drie sakke daar uitstap … ”

Irritasie #6

“Haar gunstelingspeletjie is om my diep vrae te vra as ek al amper op pad droomland toe is. Soos: ‘Dink jy ons was saam in ’n vorige lewe … ?’”

Floris sê: “Jy moet wag tot hy vir jou wys dat hy beskikbaar is vir die verhou-ding voor jy hom met jou probleme, krisisse en emosies bombardeer. As jou tydsbe-rekening reg is, sal jy ontdek dat hy nie werklik onwillig is om na jou te luister nie.”

Irritasie #7

“Ons moet gras sny, ons moet tuin maak, ons moet gloeilampies omruil. In ’n vrou se kop beteken ‘ons’ eintlik ‘ek’ (Dirk). Ons manlike spesie hou nogal daarvan as ’n vrou reguit sê wat sy wil hê.”

Irritasie #8

“Vroue praat te veel en sê te min. Ek kan nie verstaan waarom sy my 17:00 oor die selfoon bel en my alles vertel wat die dag gebeur het as sy my in elk geval oor ’n half-uur by die huis gaan sien nie. ’n Mens moet net bel as jy ’n goeie rede daarvoor het.”

Floris sê: “Juis omdat ’n vrou emosioneel betrokke raak by haar alledaagse krisisse moet sy ’n manier vind om hierdie emosies te ontlaai. Dit beteken dat sy iemand nodig het om mee te gesels. Deur iets aan die saak te doen, is hy besig om op sy tipies manlike manier te wys dat hy omgee.”