Tim Theron: só het ek haar hart gewen

0
25
Tim theron vrou

Tim Theron, wat onlangs te sien was in die film Mooirivier, het sy vrou, Juanli, in Potchefstroom ontmoet. Die held van die romantiese komedie het egter maar gesukkel om haar hart te wen!

Tim Theron, wat onlangs te sien was in die film Mooirivier, het sy vrou, Juanli, in Potchefstroom ontmoet. Die held van die romantiese komedie het egter maar gesukkel om haar hart te wen!

Ek was seremoniemeester by Juanli se koshuis se Mej. Dinki-aand en het haar daar ontmoet. Sy het nie gedink my grappies was snaaks nie. Sy was ook nog in ’n verhouding, so, die kanse het nie goed gelyk aan die begin nie. Ons was lank net vriende, selfs nadat sy amptelik enkellopend was. Alhoewel ons baie van mekaar gehou het, was ons albei skrikkerig vir ’n ernstige verhouding.

Een gesprek wat ek nooit sal vergeet nie is toe Juanli, ’n paar weke nadat ons ontmoet het, my gevra het om saam met haar te gaan koffie drink. Sy het geweet ek hou van haar, maar het my daardie dag goed laat verstaan dat daar nooit iets tussen my en haar gaan gebeur nie. Ek het na haar ernstige verklaring geluister, en daarna het ons vir nog twee ure gesels. Dit het haar laat wonder of sy nie dalk verkeerd was nie.

As getroudes gaan ons deur dieselfde hoogtes en laagtes waardeur almal gaan. Soms praat ons nie genoeg nie of spandeer nie genoeg goeie tyd saam nie. Dan moet ons stilstaan, daaroor gesels en weer ons prioriteite regkry. Ons grootste uitdaging tot dusver was die geboorte van ons dogtertjie. Dit het ons besige lewens net nóg besiger gemaak. ’n Mens leer nuwe aspekte van mekaar ken en dis opwindend. “Juanli is ’n fantastiese ma wat ma-wees en haar loopbaan met soveel energie balanseer,” vertel Tim trots.

Die erfenis wat ons vir ons kinders wil agterlaat, is dat hulle gelukkig moet wees. Dit is vir ons die belangrikste, al klink dit soos ’n cliché. Ons wil hê hulle moet weet ons is lief vir hulle, maak nie saak wat gebeur nie. Ons beplan ’n klein gesin; ons wil graag twee kinders hê. Aanneming is ’n opsie en is iets waaroor beide van ons passievol is. Die tyd sal leer.

“Ons is mal oor fliek en reis,” gesels Tim. Dit was van die begin af twee dinge wat ons gemeen gehad het. Op die oomblik gebeur dit nie so baie met ’n baba in die huis nie. Voordat ons ouers geword het, het ons sommer twee keer ’n week gaan fliek. Intussen is ons tevrede met DVD’s uitneem. Ons is ook al twee versot daarop om nuwe plekke te ontdek en nuwe mense te leer ken.