Timoteus Dagstukkies

Ek haat oefening! Ek weet hoe belangrik dit is vir my hart en gesondheid en tog…..

Ek hou nie daarvan om myself uit my gemaksone te dryf nie, en om ongemaklik te wees nie.

Ek wonder hoeveel van ons dink ooit aan geestelike fiksheid?

Maar van onheilige en sinlose verdigsels moet jy wegbly.  Oefen jou liewer om in toewyding aan God te lewe.  Om jou liggaam te oefen, het wel ‘n bietjie waarde, maar om in toewyding aan God te lewe, het in alle opsigte groot waarde, want dit bevat ‘n belofte van lewe, vir nou en die toekoms.  – 1 Timoteus 4:7-8

Paulus moedig Timoteus aan om te werk aan godsvrug, want godsvrug is waardevol vir alle areas van die lewe.  Godsvrug versterk ons nie net vir hierdie lewe nie, maar vir die ewigheid.

Terwyl daar baie ooreenkomste tussen fisiese en geestelike fiksheid is, lei fisiese fiksheid net tot fisiese verandering. Maar geestelike fiksheid lei tot ‘n goddelike verandering wat ook deurskyn in jou spraak, houding en gedrag.

God se begeerte is om ons te leer, te versterk, en om ons te laat groei om meer soos Jesus te word.  God gebruik alles in ons lewe, elke omstandigheid en elke verhouding om ons geestelik fiks te maak.

Ons fiksheid instrukteur is die Heilige Gees.  Hy ken ons volkome, ons swakhede en ons potensiaal.  Hy weet presies hoeveel gewig ons kan dra. Hy weet presies hoeveel krag ons nou nodig het om deur die beproewinge wat voor ons lê, te kom.  Hy motiveer ons as ons lui is.  Hy moedig ons aan as ons moeg raak.

Ons fiksheid program sluit weerstandsoefeninge in.  God plaas ons in ongemaklike omstandighede wat ons uit ons gemaksones vat, om ons te reining van trots, arrogansie en onafhanklikeid.

Hy bied ook versterkingsoefeninge, deur strategies laste in ons lewens te plaas, sodat ons Hom al hoe meer sal soek in geloof en sekerheid.

God sit ons ook deur uithouvermoë oefeninge – Hy moedig ons aan om die wedloop te voltooi teen ons eie pas. Ons benodig uithouvermoë om staande te bly en voort te gaan in geloof as tye swaar word.

Met ywer, inspanning en koersvastheid, word ons verander, in God se tyd.  Met fisiese oefening is die doel om beter te lyk as wat jy nou lyk.  Met geestelike oefening is ons doel om meer soos Jesus te word.  Soos ons deurdruk, verloor ons geleidelik al hoe meer van onsself, terwyl ons al hoe meer soos Jesus word.

Godsvrug kom nie maklik nie. Dit is nie altyd gemaklik nie.  Die pad lei nie altyd na onmiddelike bevrediging nie.  Maar die beloning om alles vir Jesus op te offer, bring vir ons ewige vreugde wat baie beter is as die tydelike geluk van enige iets anders wat hierdie wêreld vir ons kan bring.

‘n Gelowige se grootste voorreg is om ons liggame en ons lewens aan God oor te gee, sodat ons deur Hom gebruik kan word.  Die sleutel tot oorwinning is om eenvoudig alles wat ons is en alles wat ons nie is nie, vir God te gee.

Ek haat oefening, maar ek is baie lief vir die Here, so ek kies elke dag om my “kan nie’s” en my “wil nie’s” vir die Here te gee.  In ruil daarvoor, rus Hy my liefdevol toe met nuwe genade, oneindige krag, en toenemende sterkte om in Sy wil te bly.