Toe kom die reën

Dis mos geen nuwe nuus dat dit uiters droog is in die Wes-Kaap nie.

Hier waar ons boer teen die berg by Riversdal, was genadiglik nog water. Ons het nog weiding vir ons diere. Tog is ons heeltemal bewus van die droogte. Die water in die sloot is min. By Ladismith, egter, is dit kurkdroog, al vir twee jaar lank.

Met ons terugkeer van die Desembervakansie, is die uitwerking van die droogte duidelik sigbaar. Daar waar die spilpunte en ander spreiers geloop het, is dit groen, maar verder is dit droog. Dood. Bruin. Vaal. Die gras in die tuin is ook dood.

Toe kom die reën en binne twee weke kry ons weer goeie reën. In hierdie tyd was ek nooit op die plaas nie en watter verrassing wag vir my toe ek weer daar kom. Alles is groen! Nuwe groen. Vars uitgegroeide groen. Dis ‘n lushof en ek kan net kyk en kyk en sê, ‘Dankie Here. U genade is groot.’

Water is lewe. Water is alles. Sonder water kan ons nie boer nie, kan ons nie lewe nie, kan ons diere nie eet nie. Sonder water kan ons nie kos voorsien nie. En water is die een ding wat ons nie kan koop nie, dis ‘n geskenk van God.

Mag die groot dele van ons land wat nog so verskriklik droog is, reën kry. Mag ons as mense ‘n nuwe waardering kry vir reën en dankbaar wees wanneer dit reën. Mag ons mooi werk met ons skaars hulpbronne, selfs in tye wat dit nie droog is nie.

By Ladismith is dit steeds doog. Uiters droog.

Mag God Suid-Afrika seën. Mag Hy ons genadig wees.

Groetnis

Toortsie