Toe raak ons dors

Daar is so baie mense wat dors is hier om ons en as ons eerlik is, is onsself ook maar woes aan die dors kant.

Op verskillende terreine in ons lewe is daar dors, groot dors. Daar is mense wat in die woestyn rondval, omdat hul huwelike uitmekaarval, derde partye wat met hul groot bootse inkom en alles wat mooi was, kom plattrap. Daar is mense wat in die woestyn ronddwaal as gevolg van die groot K of een of ander siekte wat sy intrek onverwags en stil kom inneem het. Daar is mense wat dors na iemand in die alleenheid, mense wat dors om net ’n helpende hand te kry om hul finansies uit te sorteer of verhoudings wat lê en hyg in ’n oorlewingstryd. Ja, dalk het ek hier êrens agter my eie skerms ’n plekkie waar dit lyk soos ’n woestyn, waar dit blyk dat alle lewe uit is en net een groot dors agtergebly het.

Jesus kom gee die antwoord: Hy is die antwoord. Maak Hom deel van jou lewe, nooi Hom in na daai stukkie woestyn waar die dors met ’n groot letter staan. Drink net van sy water en die dors sal verdwyn, soveel so dat jy nooit weer dors sal word nie.

Sonder dat ons dit besef, lê die antwoord juis hier binne ons. Die Heilige Gees is aan elkeen gegee wat in Hom glo. Nee, dit is nie ’n spesiale moment of gebeurtenis wat met vuurwerke gepaardgaan wat die koms van die  Heilige Gees hier in ons aankondig nie.

Nee, die wonder is dat die Heilige Gees reeds hier in ons is. Met Jesus se vertrek, is die Heilige Gees uitgestort aan ons elkeen wat in God glo. Die antwoord is reeds binne-in ons. Ons moet net sensitief raak vir sy leiding. Ons moet stil raak sodat ons kan hoor en doen en dan sal die dors in ons lewe stadig verdwyn.

Dalk weet jy van een wat so dors na Jesus. Dalk een van jou vriende of mede- werknemers of dalk ’n vreemdeling wat sit en dors. Dalk moet jy die Lewende water aandra. Dalk is jy die een wat die persoon na die water moet lei? Of dalk is dit jyself wat dors is en sukkel. Jesus les ons almal se dors. Die Heilige Gees is klaar in ons elkeen, al kies ons die meeste van die tyd om Hom nie voor te laat stap nie.