Top raad vir kuier struikelblokke

0
429
ete.jpg

Oorkom die struikelblokke van lekker kuier met Sonia Cabano, kos-en-kuier-kenner, se raad.

Saamkuier is duur. Hoe vra ek dat almal moet bydra sonder om kleinlik te klink?

Min mense kan dit bekostig om te onthaal en self vir al die kos en drank te betaal. Jy hoef glad nie sleg te voel daaroor nie en dit hoef nie ’n rede te wees om nie sosiaal met vriende te verkeer nie. Maak dit pret vir jou vriende om by te dra. Jy kan ’n pop-up-ete hou waar jy jou huis vir ’n dag in ’n restaurant omskep. Elkeen bring dan sy of haar spesialiteit op die spyskaart en een bottel wyn, sap of koeldrank. Dinner clubs werk ook lekker omdat elkeen ’n beurt kry en al die koste nie elke keer dieselfde persoon se verantwoordelikheid is nie.

Die heel lekkerste en interessantste is om ’n pot-luck-ete te hou. Julle kies ook om die beurt iemand se huis, en elkeen bring wat sy of hy wil sonder om dit vooraf met iemand te bespreek. Dit maak die hele geleentheid baie interessant, want mense kan soms nogal kompeterend raak om te kyk wie bring die lekkerste of ongewoonste gereg.

Ek is ’n vegetariër. Kan ek my eie kos na kuiers toe saamvat of is dit ongeskik?

Dit is bitter ongeskik om nie te eet wat aan jou voorgesit te word nie, en heeltemal ongehoord om jou eie kos na ’n ete te neem waarheen jy genooi word. Wys dan liewer die uitnodiging van die hand en bly by die huis waar jy jou eie kos kan eet.

Wanneer jy ’n spesiale behoefte het – of dit nou ’n kulturele gebruik, geloofsoortuiging of allergie is – laat weet jou gasvrou of gasheer vooraf. Doen dit betyds sodat hy of sy genoeg geleentheid het om spesiale voorbereiding vir jou te doen. Wees beleefd wanneer jy verduidelik wat jou behoefte is. Moenie daarop aandring nie, sê eerder dat jy graag saam sal wil kuier en of dit moontlik sal wees om jou te akkommodeer. Daardeur kan jou gasvrou of gasheer dalk iets leer sonder om in die gesig gevat te word.

Geite val nie hieronder nie. As jy byvoorbeeld nie tamaties eet nie omdat jy nie daarvan hou nie, moet jy dit bloot nie inskep nie.

Ek is so moeg vir die alewige gebraai. Op watter ander oulike maniere kan ons onthaal?

Al word Suid-Afrikaners gekenmerk deur hulle liefde vir braaivleis, val dit nie in almal se smaak nie. Die probleem met ’n braaiery is dat dit dikwels ontaard in ’n kuier met te min kos wat te lank aanhou en met heeltemal te veel drank.

Kikker jou onthaalaande op deur pasta saam met jou vriende te maak. Dit is nie net maklik nie, maar dis ook ’n goedkoper opsie as ’n vleisbraai. Wat lekker is van pasta is dat jy ’n verskeidenheid souse daarmee saam kan bedien. Dit beteken dat daar iets sal wees wat in almal se smaak sal val.

’n Indonesiese rystafel is net so ’n opwindende alternatief en is ook goedkoop en lekker. Bedien sommer ’n klomp bykosse en sambal (’n sous wat gewoonlik gemaak word van ’n verskeidenheid brandrissies en ander bestanddele, soos vissous, knoffel, gemmer, suurlemoensap en rysasyn).

Of hoekom probeer jy nie ’n fondue nie? Dis antieksjiek en baie gesellig. In plaas van om ’n vol bord kos vinnig te verslind, eet jy net stadiger en minder op ’n keer.

Sommige gaste kry mos nie klaar gekuier nie. Hoe sê jy op ’n mooi manier die partytjie is verby?

Ongelukkig weet sommige mense nie wanneer ’n kuier einde se kant toe staan nie. Dit is ’n goeie idee om vooraf te sê: “Ons braai van 12 tot 5 namiddag op Sondag en daarna gaan ons kerk toe/gesinstyd saam deurbring. Dit sal gaaf wees as julle kan oorkom.” As jy dus iemand oornooi, sê duidelik vooraf van wanneer tot wanneer die kuier gaan duur. Dis glad nie slegte maniere nie, dis bloot ’n manier om struktuur aan die kuier te gee.

Wanneer die tyd dan aanbreek om julle vriende en familie te groet, sê iets soos: “Nou ja, dit was nou heerlik om julle weer te sien en lekker te kuier. Ons gaan nou gou opruim en wegpak sodat ons kinders kan gaan bad en klaarmaak vir môre se skool. Ons maak weer so, nè?” Die meeste mense kry dan die boodskap baie duidelik sonder om afgehaal te voel – dit was mos vooraf so gereël. Hanteer dit só om nie julle vriendskap te bederf nie. Niks is so erg as om doodmoeg te sit en wag dat gaste hulle ry moet kry nie.

Om kinders besig te hou as die grootmense kuier, is altyd ’n uitdaging! Enige voorstelle?

Dit is nogal ’n tameletjie om kinders besig te hou. Hulle kan baie gou verveeld raak as hulle eenvoudig voor ’n televisiestel neergeplak word en daar moet bly sit terwyl die volwassenes lag en kuier. As die weer lekker is en daar is genoeg plek, kan hulle buite speel. Kinders kan hulleself ure lank besig hou met balspeletjies. Of laat hulle krieket speel (met ʼn tennisbal!). Dit is boonop goed vir kinders om te beweeg en van hulle energie ontslae te raak. Wegkruipertjie is ook nog steeds groot pret.

As dit laat word of reënerig is, moet jy kreatief wees. Kry ’n rol ongedrukte koerantpapier, vetkryte, blinkers en gom. Laat hulle op ’n oppervlak werk wat maklik skoongemaak kan word, of pak stukke koerantpapier neer wat jy agterna kan weggooi. Sê hulle moet laat waai! Jy kan selfs lekkergoedpryse gee in verskillende kategorieë – wie maak die grootste prent, wie maak die kleurvolste prent en so aan. Daar moet verkieslik vir elke kind iets wees om te wen.

Hoe bedank ’n mens vir ’n uitnodiging as jy bloot nie wil gaan nie, sonder om ’n flou verskoning uit te dink?

Dit is altyd ’n probleem om ’n uitnodiging van die hand te wys sonder om ongeskik voor te kom of ander se gevoelens seer te maak. Wat dit nog erger kan maak, is as jy ’n verskoning uitdink en dan “uitgevang” word; daarom is dit beter om nie iets versin nie. Jy hoef ook nie in besonderhede te verduidelik nie, want hoe meer jy gaan verduidelik, hoe groter is die kans dat jy ’n probleem gaan skep wat liewer kon gebly het.

Antwoord bloot met: “Dit klink absoluut wonderlik, maar ek sal dit ongelukkig nie kan maak nie. Ek hoop julle het ’n heerlike okkasie!” Mense sal nie sommer verder uitvra as jy mooi duidelik nee dankie sê nie. As dit wel gebeur, kan jy bloot weer sê dat jy dit regtig nie kan maak nie, maar moontlik ’n volgende keer. Al is ons van nature ’n gesellige nasie, is nie almal altyd lus vir kuier nie en behoort ons mekaar se behoeftes te respekteer. Dit is ook altyd ’n beter idee om tuis te bly as om heeltyd geïrriteerd in die geselskap te wees en te kriewel om te ry.

Hoe hou jy jou huis netjies tydens ’n kuier sonder om jou gaste senuweeagtig te maak?

Wanneer jy die besluit neem om gaste oor te nooi, moet jy aanvaar dat jou huis ’n bietjie omgewoel gaan word, veral as daar kinders by is. As ’n klomp mense op een plek bymekaar is, gaan alles nie heeltyd netjies bly nie. As gasvrou of gasheer mag jy vriendelik maar ferm aandui waar die speelplek vir die kinders is. Jy kan hulle ook daaraan herinner as ’n paar kinders “afdwaal”.

Verder kan jy gerus van die jongmense inspan om te help glase aandra en vuil borde wegdra. Jy is die gasvrou en nie die slaaf wat heeltyd in ander se behoeftes moet voorsien en alles vir hulle aandra nie. As jy self kinders het, is dit maklik om vooraf vir hulle te sê wat jy van hulle en hulle maats verwag. Jou kinders kan dan die voorbeeld stel. Wanneer jy by iemand gaan kuier, behoort jy in elk geval bedagsaam te wees en hulle huis met respek te betree. Dis bloot goeie maniere.

Wat is die beste manier om ’n lekker atmosfeer te skep?

Jou gaste kom kuier by jou om tyd saam met jóú deur te bring, met ander woorde, hulle hou van jou en van die atmosfeer wat hulle in jou geselskap ervaar. As jy heeltyd angstig rondskarrel en nooit saam sit en gesels nie, is dit sinneloos om te onthaal. Wees rustig en soos hulle jou ken – niks is slegter as ’n gasvrou wat ’n gedaanteverwisseling ondergaan en eerder ’n kelner of skoonmaker is as ’n goeie vriendin nie.

Ontmoet jou gaste by die deur met ’n vrolike glimlag en ’n lekker mengeldrankie. Sê ietsie oor elke persoon wat jy aan mekaar voorstel sodat die geselskap nie ongemaklik is nie en daar ’n aanknopingspunt is. Bedien ook geregte wat betreklik lank voor die tyd reeds klaargemaak is, sodat jy ontspanne is. Helder blomme en ’n mooi gedekte tafel plaas almal in ’n feestelike stemming. Musiek is nie regtig nodig nie, omdat dit dikwels oordonderend kan wees en nie in almal se smaak val nie. En onthou om knibbelkossies aan die begin te bedien.