Want, jy is tot ALLES in staat

Net verlede week, sit ek in ‘n restaurant saam met ‘n vriendin, baie opgewonde oor ‘n droom in my hart.

Ek kon nie wag om hierdie droom met haar te deel nie. Entoesiasties het ek haar van my planne vertel terwyl sy aandagtig geluister het. Toe antwoord sy en se: “Vriendin, ek dink jy is baie onrealisties. Daar is soveel redes hoekom jou droom nooit bewaarheid gaan word nie.” Dit het sowaar gevoel asof iemand my lugkasteel van drome vinnig laat aarde toe val het.

Soveel van ons hou op om te droom as gevolg van die harde woorde van vriende. Ons gee soms so vinnig op omdat ons onsself deur die raamwerk van ‘n vriendin se perspektief van die lewe sien. Toe Josef sy droom met sy broers gedeel het, het hy in ‘n put opgeëindig.

Vandag is ek so dankbaar dat God ons kies en ons drome bewaarheid op grond van ons geloof en nie op grond van mense se opinies nie. As God mense gekies het omdat hulle perfek was sou nie een van ons ooit ons drome verwesenlik het nie. God is so genadig en getrou dat Hy die mense help wat glo dat hulle dit kan regkry en hulle voete in die water sit en begin werk vir wat hulle wil hê.

Vandag is jy genoeg. Jou droom mag miskien groter wees as jou huidige inkomste, die opinies van jou vriende of die donderwolke van die lewe. Weet vandag dat Hy wat in jou is, is groter as hy wat in die wêreld is, groter as jou verlede, groter as die opinies van mense en groter as jou huidige omstandighede. Jy is tot alles in staat!