Tot die dood ons skei: Regtig?

0
22
getroud.jpg

Wees eerlik … régtig eerlik: As jy weer kon kies om met jou man te trou, sou jy?

Voor ’n mens getroud is, sit jy jou beste voetjie voor. Dis eers nadat die koeël deur die kerk is dat jy ontdek hy hou nie eintlik van opera nie, dat hy nooit “geherprogrammeer” sal kan word om sy wasgoed bínne-in die mandjie te gooi nie en dat jy vir ewig die inisiatief sal moet neem wat romanse aanbetref! So, as jy al hierdie dinge in ag neem, sal jy dit weer doen – dié keer met oop oë?

Wat sê getroudes?

Mense verskil hemelsbreed hieroor. ’n Opname deur Woman’s Day en www.AOL.com het bevind dat 36% vroue nie weer met hul mans sou trou as hulle die kans gehad het nie, terwyl nog 20% gesê het hulle is nie seker nie.

Op internetkletskamers skryf ’n deelnemer genaamd Kate: “Ek weet nie of ek eerlik wil antwoord nie. Ek is lief vir my man en hy is ’n goeie pa, maar ek weet nie of ek weer sou trou nie … ek dink ons het verskillende idees gehad van hoe die getroude lewe moes voel en ons het albei mettertyd verander.”

’n Man skryf: “Ek het my vrou op ’n Saterdagmiddag ontmoet en die daaropvolgende Dinsdag met haar getrou. Ná ’n huwelik van 15 jaar sal ek dit definitief weer doen …”

Hoekom sal jy weer met hom wil trou?

Daar is verskeie redes hoekom jy dalk sou kies om weer met hom te trou. Een hiervan is jou man se goedheid en positiewe eienskappe waarop jy verlief geraak het.

“Maar of jy nou vyf of vyftig jaar lank getroud is, nie een van julle is dieselfde man of vrou wat jul oorspronklike troubeloftes afgelê het nie, sê vryskutskrywer Kristen Houghton (www.articles.familylobby.com). “As die huwelik in geheel goed was, met wedersydse respek as ’n primêre bestanddeel, sal 90% van geskeide paartjies weer binne agt jaar na die egskeiding met mekaar trou.”

‘Ons het dit weer gedoen!’

Kan dit vir ’n tweede keer werk? Vir Joanita en Gerhard hét dit. Hier vertel sy hul verhaal:

“Ons het mekaar net nege maande geken toe ons getroud is. Toe ons so 25 jaar getroud is, het dinge sleg begin gaan. In ’n stadium het my man selfs vir my gesê hy dink hy wil steeds by my bly, maar met ander mense begin uitgaan. Natuurlik het ek glad nie hierdie idee voorgestaan nie! Ek is egter die tipe mens wat glo dat jy nie karring as dinge nie uitwerk nie. Ons het besluit om te skei.”

Joanita se prokureur het egter nie vir hulle ’n rekening gestuur nie, want hy het voorspel dat hulle weer gaan trou! So ook het ’n vriendin se ma vir haar gebid en terwyl sy bid, gesê sy hoor dat die Here sê Joanita en Gerhard gáán weer by mekaar uitkom, al is dit nie dadelik nie …

“Op ’n stadium het lewensseminaar-aanbieder Sors Geldenhuys, wat ook ’n baie goeie vriend van my is, gesê hy wil graag ’n afspraak met my maak. Ek het gedink ons gaan lekker kuier, maar hy het toe ’n veel ernstiger gesprek in gedagte gehad! Hy het vir my gesê dat ek nie die vertrek sal verlaat voordat ek nie vergewe het nie. En ek het vir hom gesê: ‘Dan bly ek net hier.’”

Hy het haar belowe dit sou bevrydend wees en sy het wel daardie dag die besluit geneem, maar besef dat vergifnis nie ’n gebeurtenis is nie, maar ’n proses. En ook dat sy herhaaldelik sal moet vergewe – elke dag.

“Ek is kort daarna Jeffreysbaai toe. Vroeër jare sou ek altyd, wanneer ek en Gerhard op die strand loop, agter hom loop in die spore wat hy getrap het. Daardie keer het ek besluit dat ek nou my eie spore gaan trap. Dit was nogal bevrydend, want jy maak jou los van dinge wat agter jou is. Ek het baie onafhanklik van hom begin lewe en hom nooit gebel nie.”

Drie jaar later het hy vir Joanita gebel en gesê hy wil graag sy gesin om verskoning vra vir die grootste fout wat hy in sy lewe gemaak het. Een dag, toe hy die laatlam kom haal het, het sy hom verwese by die hek sien staan en ingenooi vir koffie. Só het hy stelselmatig weer deel van hul lewens geword.

En toe, een aand in Augustus, het hulle buite gesit en het hy vir Joanita gevra wat sy wil hê. Joanita het gevra: “Vra jy my om weer met jou te trou?” En Gerhard het geantwoord: “Natuurlik!”

“Wel, ek het besluit dit is óf nuut óf niks. ’n Mens bou nie op iets wat verongeluk het nie. En dit is wat ons huwelik (die tweede keer) laat werk het. Daar is niks van ‘onthou’ nie. Ek wil hom vir niks verwyt nie. As ’n mens by jou huis instap, wil jy nie voel asof jy in die beskuldigdebank staan nie … Vandag is ons dolgelukkig saam – vir die tweede keer.”

Jy moet jou gedagtes verander

Vir paartjies wat die groot stap geneem het om te skei en dan mekaar en hul huwelik ’n tweede kans wil gee, is daar goeie advies in die boek I did, I do, Again. WL Cati skryf: “Tensy jy jou nuwe huwelik binnestap met ’n ander houding en ’n ander ingesteldheid as tevore, sal jou nuwe huwelik waarskynlik dieselfde roete stap as jou vorige een … Om jou houding en ingesteldheid te verander is nie maklik nie, maar dit is ook nie onmoontlik nie.”